Medisyne moet jou gesond maak. Maar dit gebeur nie altyd nie, en nie almal word gesond nie.
“Variasies in ons gene, die bloudruk vir wie ons is, het ’n reuse-impak op ons elkeen se individuele reaksie op medikasie,” sê dr. Danny Meyersfeld, hoof van DNAlysis, een van die enkele maatskappye wat hierdie genetiese toetse plaaslik doen.
Risiko’s en gevare van medisyne
Daar is vier algemeen negatiewe reaksies op medikasie, wat hoofsaaklik op ons genetiese profiel gebaseer is:
1. Party van ons reageer nie
Medikasie soos Singulair vir asma en ekseem is so goed as 100% suksesvol … maar net vir die 25% van mense wat ’n spesifieke genetiese basis vir hul allergie het. Vir die res is dit geld in die water. Net so met talle psigiatriese medikasies. Wat vir die een uitstekend is, werk nie vir ’n volgende een weer glad nie.
2. Party van ons raak verslaaf
Gewone kodeïen-pynpille is vir die meeste van ons veilig en verlig ons pyn baie doeltreffend. Maar ’n klein groepie mense is sogenaamde supermetaboliseerders. Hulle skakel ’n klein bietjie kodeïen om in superhoeveelhede, wat dan net soos morfien en heroïen in die brein werk.
3. Party van ons ontwikkel newe-effe
Ons kan almal ’n bietjie naarheid of ligte hoofpyn wat verby gaan, hanteer. Maar wat as jou bloeddrukmedikasie jou dood veroorsaak? Of as die medikasie om jou osteoporose om te keer, ly tot kaakkanker? Of as statiene spierpyne (rabdomeiolise) veroorsaak? DNAlysis sê 6-8% van mense wat in ons hospitale opgeneem word, het ’n negatiewe reaksie op medikasie – soveel as een uit elke 15 mense.
4. Party van ons sterf
Selfs dít gebeur. Die medikasie-sterftesyfer in die VSA is ’n ysingwekkende 100 000 mense per jaar. Een bekende voorbeeld is dat mense wat sekere antidepressante begin gebruik in die eerste drie weke selfs meer depressief raak en ’n groter risiko op selfmoord loop.
Ons wil geensins te kenne gee dat medikasie in die reël gevaarlik is nie. Géénsins nie. Alle voorskrifmedikasie in Suid-Afrika is deeglik getoets en word uitstekend beheer. Maar, terselfdertyd verdien individuele reaksies ook erkenning. Tot dusver moes ons almal maar op die tref-en-trap manier uitvind of ons een van hulle is. En ja … met gevolge.
Uiteindelik, sê dr. Meyersfeld, na dekades van navorsing, kan ons nou begin om ons kennis van gene en reaksies op medikasie bymekaar te bring en gebruik om te keer dat ons medikasie voorskryf wat gevaarlike fisieke of psigiese effekte het.
Jy kan nou pro-aktief werk: in plaas van wag en sien wat werk, kan ons nou met genetiese toetse voorspel of ’n sekere soort medikasie die regte en veiligste keuse is.
Redes vir genetiese toetse vir medikasie
Die meeste probleme onstaan juis weens die gebruik van die algemeenste middels soos warfarin, psigiatriese medikasies en kodeïen-pynpille, sê dr. Meyersfeld. “Ons skryf hierdie pille voor vir van die algemeenste toestande, soos hartsiektes, psigiatriese toestande en pynbeheer.”
Dus is die kanse goed dat ek en jy iewers vorentoe in ons lewens ’n medikasie gaan moet gebruik waarop ons nie goed reageer nie. Gelukkig is genetiese toetsing vir medikasie net een maal nodig. Jou gene verander nie, en dus bly jou reaksie deur jou lewe konstant. Aan die ander kant is farmakogenetika ’n jong veld wat beslis gaan uitbrei – wat beteken dat jy dalk vorentoe wel weer getoets sal word, soos wat meer gesofistikeerde toetse en nuwe medikasies ontwikkel.
Dit sal nie ’n slegte idee wees as ons álmal gaan nie. Maar prakties is dit nie moontlik nie. Op hierdie stadium maak dit vir die volgende mense sin om te toets:
• Jy is pas met ’n toestand gediagnoseer waarvoor jy langtermyn medikasie gaan gebruik, soos epilepsie of hoë bloeddruk, en jy wil weet watter sal doeltreffend werk.
• Jy ervaar newe-effekte van die tipiese medikasie en moet vasstel watter ander soorte beter werk, soos wat mense met hoë bloeddruk dikwels ervaar.
• Jy reageer nie, en soek ’n doeltreffender alternatief. Dit kan lank neem om die regte medikasie vir iemand met epilepsie, aandagafleibaarheid en psigiatriese toestande soos depressie en bipolêre depressie te identifiseer.
• Jy moet ’n medikasie teen ’n baie hoër as normale dosis gebruik. Genetiese toetsing kan vooraf uitwys hoe goed jou liggaam dit sal hanteer.
Lees ook: Moet jy verpersoonlikte hormoonpille vir die menopouse oorweeg?
Vir watter medisyne is genetiese toetse beskikbaar?
DNAlysis bied vier toetspanele aan: jy kan gaan vir die volledige genetiese toets, mygeneRx, of vir enige van die panele waaruit dit bestaan, naamlik mycardioRx vir hartlyers, mypsychRx vir medikasie wat op die brein inwerk, en mypainRx vir pynverwante medikasies.
Die panele toets gesamentlik vir 150 medikasies, insluitend spierverslappers, bloedverdunners, pynstillers (NSAIDs, kodeïen en opoïede), slaappille asook medikasie vir aandagafleibaarheid (AAHD), epilepsie, malaria, demensie, jig (gout) en erektiele disfunksie. Die volledige lys is hier beskikbaar.
Suid-Afrikaanse maatskappye wat genetiese toetsing doen
DNAlysis spesialiseer in genetiese toetse om vas te stel watter tipe dieet moontlik die beste vir jou gaan werk, asook vir sportpotensiaal en reaksies op medikasie.
Gknowmix spesialiseer veral in die genetiese toetse om siektes te diagnoseer, soos hartsiektes, borskanker, afwykings in ystermetabolisme en sportbeserings. Buiten genetiese toetsing vir medikasie toets hulle ook potensiaal vir sportbeserings.