Deur Cornél Dunn en Johann Symington. Foto’s deur Johan Wilke.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Hierdie artikel het oorspronklik in die April 2007-uitgawe van rooi rose verskyn.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Tatoe is nie meer taboe nie. Vir lank het jy net verwese pyldeurboorde harte of afgeleefde swaarde op enkele oumansarms gesien. Nie meer nie. Deesdae dra duisende mense die Kainsmerk. Op byna elke jongmenslyf rank takkies of simbole, of pronk ’n springbokkie op arm of agterwêreld. Kleurryk en swierig.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Die reaksie op die merke is uiteenlopend: Grillerig. Eksoties. Satanies. Mooi. Siek. Maar daaraan steur die draers hulle min. Nog minder gee hulle om dat tatoeëring eens as ’n simptoom van ’n persoonlikheidsteuring gesien is. Later, miskien vanweë die romantiek daaraan verbonde, is dit met die gay gemeenskap verbind. Dié lyfmerke was nie hoofstroom nie, maar deel van ’n subkultuur wat vir Jan en Alleman vreemd was.
Maar nou het dit ’n mode geword wat van Amerika af oorgewaai het en seksuele ikone soos David Beckham en Angelina Jolie se gemerkte lywe haal feitlik elke glansblad. Die mode het verby ’n subkultuurstatus beweeg en deel van die populêre kultuur van die millennium geword – ’n simbool van ’n popgodsdiens van die liggaam.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Tatoeëring is dikwels ’n simbool waarmee jong Westerlinge hul identiteit en individualiteit aankondig. Binne die subkultuur van matrose of gevangenes gee lyfmerke uitdrukking aan durf en mag.
Die betekenis agter baie van die hedendaagse merke kan gesien word as ’n beswering van die gevare wat die mens bedreig. Geharde misdadigers in die tronke tatoeëer Johannes 3:16 om hul middellywe as ’n gordel van beskerming, hoewel hulle nooit die binnekant van ’n kerk sien nie.
Daar vind ook gereeld ’n kruisbestuiwing van ou en nuwe simbole plaas. Patriotiese en afkomssimbole, tekens van protes en van verlies, of ’n verpersoonliking van iemand wat gedevalueer is, wys ’n dieper betekenis in die lyfkuns. Suid-Afrikaanse kinders oorsee tatoeëer soms die landsvlag, springbok of selfs die ou Vierkleur as bewys van hul herkoms.
Vir baie is dit meer as ’n modegier. Dis eerder ’n doelbewuste poging tot die skep van ’n individu binne ’n massakultuur. Oergelowe soos Kelties, Egipties en Japannees word ook sterk verteenwoordig in hierdie subkultuur. Dit is ’n doelbewuste distansiëring van die Westerse materialisme.
Die meeste getatoeërdes is in staat om baie duidelik hul keuse vir ’n spesifieke simbool te verduidelik. Vir die leek is dit moeilik om te verstaan.
Tatoeëring beleef nou ’n bloeitydperk, ’n Renaissance binne die liggaamskultuur van die Weste. Tatoeërtydskrifte verskyn wêreldwyd en tatoeërsalonne kom oral voor, selfs in middelklasinkopiesentrums en doen daar sake sonder verskoning. Omtrent elke ma word gekonfrontreer met ’n versoek van ’n kind om ’n “merkie” te kry, en heel kleintjies spog al met hul tydelike tatoes. Tatoeërmerke is ten diepste niks anders as prentjies op die liggaam of ’n geïllustreerde liggaam nie, maar wat dalk tog ’n reaksie wil uitlok.
In die primitiewe tyd is die tatoeëring gewoonlik deur ’n priester of ’n sjamaanfiguur gedoen en is dit meestal as een of ander oorgangsrite beskou.
Vandag het die godsdienstige aspek grotendeels verdwyn en is die tatoeërder nie meer ’n besweerder van die kwade of ’n bemiddelaar tussen mense en die hemelwesens nie, maar bloot en veral ’n lyfkunstenaar. Jy kry wêreldberoemde lyfkunstenaars en hulle maak ’n uitstekende bestaan. Hul reputasie van veilige en skoon werk plus ’n duursame, estetiese kunswerk waarborg hulle ’n groeiende kliëntetal.
Vanuit behoudende godsdienskringe is die versiering van die liggaam nie ’n onbekende Bybelse verskynsel nie. Die bekendste insident is natuurlik die merk wat God vir Kain gegee het (Genesis 4:15). Eksegeties is daar nie af te lei of dit ’n tatoeëring, ’n velbesnyding of ’n simboliese inplanting onder die vel was nie. Maar dit was beslis ’n teken aan sy lyf wat nie versteek of bedek kon word nie. Daarmee word Kain die wandelende Jood, maar wat tog deur God in die onrustige land Nod beskerm word. Hy dra die merk soos ’n tipe amulet, byna soos die slangarmband om ’n Egiptenaar se arm.
Die Joodse besnydenis is ook ’n simboliese liggaamsmerk waarmee die Jood sy identiteit as familie van die Verbondsgod beklemtoon. Dit word as’t ware sy paspoort. Paulus dra weer die littekens van Christus se lyding aan sy lyf. Terwyl die Bybel sê dat God die name van sy kinders op sy handpalms gegraveer het.
Binne die gevestigde georganiseerde kerk kom die merk van die liggaam tans nog slegs by wyse van rituele handelinge voor: Die askruis wat op Katolieke Christene se voorkop gemaak word op Aswoensdag en in die Lutherse tradisie. ’n Kruisteken met water oor ’n babatjie se liggaam as hy gedoop word.
Die kruis het in tatoeërsirkels ’n erkende en gesogte simbool geword en daar word op gesag beweer dat elke vyfde tatoeërmerk in Amerika die Christelike ikonografie verteenwoordig. Die liggaam word hiermee eintlik gemerk as die “tempel van God” waarin die Heilige Gees woon en wat die liggaam teen die beperkings van ruimte en tyd sal beskerm. Die meeste Christelike kerke sal natuurlik gril by die gedagte hieraan en gou die teks in Deuteronomium na vore haal om te bevestig dat God teen enige merking van die liggaam is. Die teologiese debat hieroor is nog nie in diepte uitgepluis nie. Intussen dra duisende gelowiges, of hulle nou kerk toe gaan of nie, die kruissimbool as ’n teken wat hul oortuigings lyflik stempel. Vir hulle is God se Woord nie net op klip geskryf nie, maar op die vlees self.
Reg of verkeerd. Lyfkuns is hier om te bly. Maar wees gewaarsku: “Dink voor jy ink … ”
Manuela Balona-Gray: Mede-eienaar van Wildfire Tattoo.
Manuela, wat reeds tien jaar lank ’n tatoeërkunstenaar is, sê suksesvolle rolmodelle soos sportsterre en silwerdoekikone het die gier na mense se binnekamers gebring. “Die morele wette is nie meer in yster gegiet nie, en mense voel vry om hulle met lyfkuns uit te druk.”
Die mooi jong ma sê haar kliënte het geen spesifieke profiel nie. Sy tatoeëer dokters, direkteure, huisvroue en selfs dominees. “Ek sien dat mense meestal na my toe kom as ’n groot verandering in hul lewe plaasgevind het. Soms is dit die begin of einde van ’n spesiale verhouding, ’n nuwe werk, of ’n geloofsverdieping. My kliënte is soms ekshibisioniste, soms introvert, dikwels kleurryk, maar nooit oppervlakkig nie. Hulle vier die lewe en weet wat hulle daaruit wil hê.”
David Chaston (26) is ’n kunstenaar en tatoeërkunstenaar. Hy is stil en teruggetrokke, en sê hy bring al sy vrye tyd voor sy esel deur. Nuuskierigheid het hom gedryf om die eerste tatoe te kry. “Ná my eerste merk het die ontwerpmoontlikhede vir my ’n inspirasie geword. Hoe meer ek my laat merk het, hoe groter het my behoefte aan nog merke geword. Ek verkies ontwerpe van Asiatiese en Oosterse oorsprong. Ook mitologiese ontwerpe is oral op my lyf. Die eenvoud en geometriese balans van die ontwerpe is vir my onweerstaanbaar. Mense se reaksie op my getekende lyf wissel van verbasing en bewondering, tot afgryse. Ek aanvaar almal se reaksie omdat dit deel van die tatoeëringspakket is. Ek het dit nog nooit berou nie en sal aanhou om nog merke te kry tot die vleeslike doek dalk eendag volmaak is.”
Natalie Williams (32) is ’n administratiewe klerk in Kaapstad, en ’n vrolike, impulsiewe gees. “Ek is ’n enkellopende, trotse en unieke vrou. Ek dra my merke met trots en hou daarvan dat dit my uitsonder in ’n groep. Dit is my manier om myself bekend te stel en te verwoord. Ek het op my agttiende verjaardag my eerste tatoe gekry, en nog nooit teruggekyk nie. Mense is dikwels geskok oor my alternatiewe voorkoms, maar ek is nie vir een oomblik spyt daaroor nie.”
Ryan Jorgensen is ’n sagsprekende Engelse sjef met ’n passie vir die lewe. Hy is ’n onpretensieuse vrygees wat verbaas is oor die belangstelling in sy getekende lyf. Hy was vir lank ’n monnik in die Hare Krisjna-beweging. Elk van sy merke vertel die pad wat hy reeds geloop het en is meestal spiritueel.
Federico Fernandez (31) is ’n suksesvolle musikant en model en sy gesig verskyn gereeld op ons televisieskerms – die tatoeërmerke natuurlik goed verbloem. Hy sê hy het al baie modelwerk verloor vanweë sy getatoeërde lyf, maar dit is onlosmaaklik deel van wie hy is. Hy is ook hoofsanger van die groep Son of a Thousand Blues en hy beplan om in elk geval later die modelwêreld te groet en op sy musiekloopbaan te fokus. Sy arms is getatoeëer met die gesig van Jimmi Hendrix, sy geliefkoosde musikant, die naam van sy veertien maande oue dogtertjie, asook baie simbole van sy Argentynse herkoms en Rooms-Katolieke geloof. Hy voel baie sterk oor sy reg om hom met ink te merk en belangrike herinneringe op sy lyf te verewig.
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.