Deur Ansu Visser. Foto’s Mila Guy
Dis ’n nuwe jaar en ’n nuwe begin vir my blog wat nou al amper 3 jaar oud is (jippie). Tyd hardloop gewoonlik so vinnig verby my dat wanneer ek myself weer kry, ek al klaar weer moet begin dink aan Kersgeskenke. Met die gevoel van ’n nuwe jaar is my nuwejaarsvoornemens nie om gewig te verloor nie (al sal dit lieflik wees), maar om elke week op hierdie blog te post. Al is dit net my ma wat dit aanhou lees, (Hallo mamma, dankie mamma). Ek gaan volhou totdat ek kan sê: “Aanhouer wen!”
Ek begin my blog met ’n outfit wat met die eerste opslag dalk nie na veel lyk nie. Maar dit is wat jy kan verwag van my blog, idees vir die elke-dag-meisie en die spaarsamige-Susan’s.
Alhoewel ek nie altyd die nuutste en beste kan bekostig nie, hou ek steeds daarvan om stylvol te lyk met ’n bietjie “oemf”. Daarom moet ek werk met wat ek het.
Ek is nie skaam om in die kuberruim te erken dat ek tweedehandse klere ken en dra nie. As klein dogtertjie het ’n swart sak my opgewonde gemaak, want dit het nuwe klere beteken. Daar mag mense wees wat hierdie nou lees en dink, “Ai foeitog” en ’n Oliver Twist van ’n Ansu imagine, maar tweedehandse klere het my nooit gepla nie, want ek’t nuwe klere gekry sonder om enige geld te spandeer.
50% van hierdie uitrusting is nie met my eie geld gekoop nie. Die hemp het ek semi-geleen, semi-gekry by ʼn vriend, die broek het ek uit ’n swart sak gekrap van my beste vriendin, en die sneakers is ’n Kersgeskenk van my kêrel.
So, dankie aan elkeen wat bygedra het tot hierdie uitrusting. Ek voel gemaklik genoeg om te sit soos wat ek wil. Ek voel “chic” genoeg vir ’n koffie-date saam met ’n vriendin of ’n fliek-date saam my kêrel (ek sal net ʼn bietjie meer juwele dra) en die beste ding van hierdie uitrusting is dat ek nie voel asof ek tweedehandse klere aanhet nie.
Laat my weet wat jy daarvan dink en gee dit ’n “like” as jy saamstem met my gevoel teenoor tweedehandse klere.