Dit is met groot hartseer dat die familie van James Alexander sy afsterwe op 28 April 2023 kan bevestig. James is in Januarie 2019 met kop- en nekkanker gediagnoseer en het talle operasies en behandelings ondergaan. Hy het dapper en met integriteit geveg.
James is op 8 Januarie 1978 in Boksburg gebore en die seun van Skotse immigrant-ouers. Hy het in Pretoria grootgeword en sy vrou, Anel, in 2000 ontmoet terwyl hy in ‘n amateurmusiekspel by die Staatsteater gespeel het. James en Anel het hul produksiemaatskappy, Scramble Productions vernoem na die heel eerste toneelstuk wat hulle saam geskryf en opgevoer het.
Terwyl hulle in Johannesburg gewoon en gewerk het, was hulle leiers in die onafhanklike filmbedryf in Suid-Afrika; met rolprente soos ‘Discreet‘, lokettreffer ‘Semi-Soet‘ en die internasionaal bekroonde ‘Sink’. James het geglo in die krag van storievertelling en het onvermoeid gewerk om sy vaardighede as akteur en stemkunstenaar te slyp.
Tydens sy produktiewe loopbaan en die laaste vyf jaar wat hy in Los Angeles gewoon en gewerk het, het hy die skerm met Keanu Reeves, Benedict Cumberbatch, Claire Danes, Daniel Radcliffe en dies meer gedeel, terwyl hy plaaslik onthou sal word vir sommige van die hoogtepunte van sy werk op Binnelanders, The Wild en Trackers. As stemkunstenaar het James verskeie Cannes Lion-toekennings gewen en sy karakters in films en verhoogproduksies soos Bash en Doubt lewendig gemaak.
James sal onthou word omdat hy vriendskap ‘n fyn kuns gemaak het, vir sy skreeusnaakse sin vir humor en aansteeklike lag, vir sy toewyding aan sy familie en sy onfeilbare geloof. Almal wat die plesier gehad het om James te ken en onmeetbaar deur hom geraak is, sal met Anel saamstem: ‘James was ‘n unicorn… enig in sy soort, die heel beste mens wat ek nog ooit geken het.’ James het altyd sy werk ernstig opgeneem, selfs al het hy homself nie altyd ernstig opgeneem nie. Hy het ‘n passievolle lid van SAGA (South African Guild of Actors) by die ontstaan daarvan geword en het hom beywer vir akteursregte en regverdige behandeling vir die beroep.
In plaas van blomme het James en Anel gevra dat enige skenkings aan SAGA gaan, stuur asseblief ‘n e-pos aan [email protected] vir besonderhede. Die gesin bedank graag die Sungardens Hospice in Pretoria waar al die personeel, vrywillige dokters en verpleegsters James deur die laaste weke met onfeilbare vriendelikheid ondersteun het. Donasies ter nagedagtenis aan James welkom. James word oorleef deur sy vrou Anel, ouers Elsie en Jim en suster Claire. Hy sal baie gemis word.
Die familie vra vir privaatheid in hierdie tyd.