Sedert ons paaie in die herfs van 2012 gekruis het, het hy diep spore in my hart getrap.
En, nog dieper spore op die paaie van die roetes wat ek daagliks deurkruis het.
Ons was etlike ure elke dag saam onderweg iewers heen of wagtend by die skoolhek.
In die ganse dorp waar ek bly is daar nie nog een présies soos hy nie – hy met sy letsels en nukke. Betroubare bondgenoot, maar ’n keer of wat ook steeks soos ’n muil.
Saam het ons aan die begin van ons vriendskap ’n voorskoolse kind en sy peutersussie soggens by die skool afgelaai en smiddae kon ek en hy mekaar skaars hoor soos daar vanaf die agtersitplek gebabbel word om al die skoolnuus, lekker dinge en seer teleurstellings te deel.
Ons het saam gelag vir kwinkslae op die ontbytprogram; saam geluister na ’n mondeling wat vir oulaas opgesê word op pad skool toe; saam luidkeels protesteer oor die dekselse taxi’s en wintie skoollaaities op hulle motorfietse wat in die skoolverkeer voor ons inswenk.
Ons het saam sportwedstryde bygewoon, gereis na kooraande in die stad en op pad na die oudste kind se eerste skooleksamen soggens saam flou grappies gemaak om die vlinders in ons mae te laat ophou fladder. Smiddae het ons en die kinders kliphard saamgesing met die radio onderweg na ’n karate- of dansklas.
Met hom het ek een winter die binneland in getoer, vrou-alleen kunstefees bygewoon op Bloemfontein en gaan draai in Johannesburg.
Ons het gaan sneeukyk in die winter en roomys by die see gaan eet in die somer.
Hy was saam as ons iemand na aan ons se verjaardag gaan vier het. Saam as ons ’n nuwe lewetjie in ons familie- of vriendekring gaan ontmoet. Saam as ons iemand in die hospitaal besoek. En, hy het ons ons trane sien afvee die kere as ons moes gaan afskeid neem van ’n geliefde.
Ons het 113 000 kilometer se lief en leed en avonture gedeel.
Om vanoggend afskeid te neem van my getroue swart ma-se-wa, was sowaar nie net om bloot ’n wêreldse stel wiele te groet nie. Hy was vyf jaar deel van my en myne se lewensreis.