Gegeurde suikerstroop
Giet ’n gegeurde suikerstroop oor sponskoek om dit nog lekkerder te maak. Die stroop sal ook verseker dat die koek lekker klam bly. Prik die oppervlak van die koek met ’n tandestokkie en gooi die stroop oor terwyl die koek nog warm is. Laat in die pannetjie afkoel. Die resep is genoeg vir 200 ml stroop, wat voldoende is vir ons basiese sponskoekresep.
Basiese resep
- 125 ml (½ k) water
- 125 g (150 ml) suiker
1 Meng die water en suiker in ’n klein kastrol. Roer tot die suiker opgelos is en laat die stroop kook. Haal van die hitte af.
2 Voeg die geurmiddels by sodra die stroop afgekoel het. Laat staan vir minstens ’n uur, maar liefs oornag. Die stroop kan tot ’n maand in die yskas hou.
Variasies
Voeg die volgende by die basiese stroop:
- Vanieljestroop: Saadjies van een vanieljepeul
- Suurlemoenstroop: Gerasperde skil van 2 suurlemoene
- Lemoenstroop: Gerasperde skil van 1 lemoen
Heerlike geurkombinasies
- Vanieljesponskoek: Geur met vanieljestroop en vul met frambooskonfyt en botterversiersel.
- Suurlemoensponskoek: Geur met suurlemoenstroop en vul met suurlemoensmeer en suurlemoenbotterversiersel.
- Lemoensponskoek: Geur met lemoenstroop en Van der Humlikeur en vul met lemoenmarmelade en lemoenbotterversiersel.
- Ryk sjokoladekoek: Geur met Amarula-likeur en vul met sjokoladeganache.
Lees ook: Beste, maklikste sjokoladekoek!