Met my verjaarsdag om die draai vind ek my in my eie persoonlike hel. Jy sien, ek het nie naastenby al die doelwitte wat ek vir die jaar opgestel het, verwesenlik nie. (Ek glo nie in nuwejaarsvoornemens, maar koppel eerder doelwitte aan spesifieke ouderdomme). In alle eerlikheid het ek geweet ek gaan nie ‘n ryk wynboer ontmoet wat nuwe kultivars na my vernoem nie, maar vir die ander is daar geen verskoning.
Die jaar het bloot net by my verby gevlieg! Die geld wat in my huisfonds moes wees staan gerat in my kas in die vorm van skoene. (Ek kort die ekstra lengte sodat ek nie met ‘n tuindwerg verwar word nie). Ek lyk steeds soos Bridget Jones voordat persoonlike drama haar verslank het en ek het nog steeds nie tyd gekry om aan my padwoede te werk nie. Ai!
Dus het ek een van twee keuses: Of ek gaan ‘n nuwe ouderdom met dieselfde bagasie as die vorige in of ek ignoreer bloot die hele gebeurtenis. Dus het ek op die laasgenoemde besluit. Hierdie besluit hou baie meer voordele in: nie net het ek ‘n verlengde tydperk om die hulp te kry wat ek so desperaat nodig het nie, maar ek verouder ook nie. Net op my bestuurslisensie en wie kan daai klein lettertjies in elk geval lees sonder ‘n vergrootglas?
Moet dus asseblief nie vir my gelukwense per sms, facebook, e-pos of posduif stuur nie. Die geleentheid is gekanselleer. Ek belowe egter om volgende jaar 2 verjaarsdagkoeke te hê (mits ek myself gedra het).
Tot volgende keer,