Gee ons krag. Deur Zerelda Esterhuizen.
Miljarde van ons belastingbetalers se geld word jaarliks in Eskom ingepomp, maar ten spyte van die talle reddingsboeie wat die regering vir ons kragverskaffer gee, is ons van een ding seker en dit is dat beurtkrag nog vir ’n lang ruk met ons gaan wees.
Eskom se hoof, André de Ruyter, het al herhaaldelike kere vertel watter uitdaging dit is om Suid-Afrika se krag aan te hou. Daar is jare van swak onderhoud en natuurlik die hope skuld … Geld bly ’n probleem en vir nou bly ’n stabiele kragnetwerk ook net ’n droom.
Die kredietgradeerder Moody’s Investors Services se vooruitsigte vir Eskom bly ook negatief.
Eskom bly by rommelstatus totdat daar ’n wesenlike plan kom om sy massiewe skuldlas te verminder en langtermynstabiliteit te verseker, aldus Business Tech.
Volgens die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, beplan Eskom wel ’n Groen Energie-eenheid en wil in hernubare energie belê. Dit is nog nie duidelik waar die geld vandaan gaan kom om dit te finansier nie …
Maar Eskom is wel op die regte pad as hulle na hernubare krag kyk, want wêreldwyd beweeg lande na groen energie. Menige Suid-Afrikaner ondersoek ook alternatiewe kragoplossings, want Eskom-krag raak nie net skaars nie, maar ook duur. Met soveel mense wat vandag vanaf hul huise werk, is stabiele krag nodiger as ooit.
Dis waar dat hernubare krag gewilder raak, sê Heine Herholdt, hoof-uitvoerende beampte van die Herholdt’s Groep, wat onder meer ’n groothandelaar in die hernubare-energie-sektor is.
“Ons verwag dat die huidige groei vir die volgende vyf tot tien jaar sal voortduur. Ons ervaar jaarliks groei van 70% en glo dit sal so aanhou met al die kragonderbrekings en verhogings in elektrisiteitskoste,” sê hy.
Die verhogings van elektrisiteitstariewe dra beslis daartoe by dat meer en meer mense na alternatiewe kragbronne kyk.
Alumo Energy se besturende direkteur, Rein Snoeck Henkemans, verwys ook na die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se jongste elektrisiteitsverhoging van 9,61% wat in April in werking getree het. Dan het Eskom ook in sy jongste mediumtermyn-stelseltoereikendheidvooruitsig sy energiebeskikbaarheidsfaktor (EBV) afwaarts hersien van 72% tot 63%. Dit dui op ’n groot waarskynlikheid van meer gereelde beurtkrag vir die afsienbare toekoms.
Gerhard Schoeman, die hoof van bemarking en verkope by Alumo Energy, sê die bedryf is nogal wisselvallig, maar daar is ’n duidelike korrelasie tussen beurtkrag en ’n aanvraag na sonkrag.
“Dis in hierdie stadium nie so bekostigbaar om ’n goeie sonkragstelsel aan te skaf wat aan Suid Afrika se NRS 97-2-1-standaarde voldoen as om krag by die nasionale of munisipale energieverskaffer te verkry nie. Kragstabiliteit is egter die groot dryfveer vir mense om in ’n sonkragstelsel te belê.”
Schoeman sê die sonkragbedryf groei soos mense na volhoubare energiebronne beweeg. “Die spoed van die groei sal van die prysverhogings oor die volgende paar jaar afhang. Die tariewe verhoog al sedert 2007 sowat 12% op ’n jaar-op-jaar-grondslag en as dit volhou, verwag ons verdere sterk groei in die bedryf.”
’n Kykie na alternatiewe kragoplossings vir huiseienaars
Sonkrag
’n Sonkragstelsel se komponente het verskillende lewensdure, sê Schoeman. Die komponent met die kortste lewensduur is die kragomsetter (“inverter”). ’n Goeie kragomsetter wat reg geïnstalleer word, het ’n gemiddelde lewensduur van tien jaar. Sonkragstelsels is in staat om bestendige en betroubare krag vir die leeftyd van die stelsel te lewer nadat die eenmalige voorafkoste betaal is, of teen ‘n billike maandelikse fooi. Dit is op die duur ’n baie goeie koste-effektiewe opsie om die ligte aan te hou, en kan die waarde van jou eiendom verhoog, sê Schoeman.
Daarbenewens word die stelselkomponente meer bekostigbaar namate die tegnologie ontwikkel. ’n Gevestigde, professionele verskaffer bied komponente van ’n goeie gehalte wat ’n aansienlik langer lewensduur en behoorlike naverkope-diens bied. “’n Goeie sonkragstelsel moet as ’n langtermynbelegging gesien word, en moet minstens sewe jaar sonder noemenswaardige instandhouding hou,” sê hy.
Waarborge
Daar word op komponente van ’n goeie gehalte gewoonlik die volgende waarborge gegee, volgens Alumo Energy:
Sonpanele: 25 jaar
Batterye: 10 jaar
Kragomsetters: 5-7 jaar
Lees ook: Maak jou kind “groen” groot
Doen jou navorsing
Daar is ’n toegelate lys van maatskappye wat komponente voorsien en dis ’n huis- of sake-eienaar se verantwoordelikheid om seker te maak dat sy stelsel se komponente daarop verskyn.
“Die kragomsetter moet op die toegelate NRS 97-2-1-lys verskyn, die battery moet ’n bekende maak met ’n litium-ysterfosfaat-samestelling wees, nie jel of loodsuur nie, en ’n minimum van 5 500-siklusse. Die panele moet ook ’n vlak 1-gradering hê,” sê Schoeman.
Loop lig vir onbekende sonkraginstalleerders met oënskynlik goedkoop stelsels.
Kragopwekkers
Toe beurtkrag begin het, het talle mense in kragopwekkers belê. Die voordeel is natuurlik dat jy dit kan aansit om krag te hê, maar die nadele is die koste van brandstof wat dit benodig, die geraasfaktor en die gasse wat vrygestel word.
Daar is verskillende tipe kragopwekkers, maar vir huisgebruik, word petrol- en dieselkragopwekkers gewoonlik gekoop. As jy byvoorbeeld die TV’s, yskaste en rekenaars in die huis wil aanhou, werk die kragopwekkers van 5 kW gewoonlik goed, maar as jy toebehore met elemente (soos ketels) ook wil aanhou, is die kragopwekkers van 12 kW ’n beter idee.
Baie mense gebruik ook ’n klein kragopwekker om hul kragomsetter (“inverter”) krag te gee, maar dis nie ’n maklike integrasie nie, volgens Bundu Power. Sekere kragomsetters werk eenvoudig nie saam met die batterye nie, want dis nie op dieselfde frekwensie nie. Weereens is die beste raad om eers jou huiswerk te doen. Gesels eers met kenners voor jy in ’n stelsel belê. Kragopwekkers se pryse hang na gelang van maak en Watt af en of jy dit self kan installeer en of iemand anders dit moet installeer.
UPS (Uninterruptible Power Supply)-stelsels
Hierdie stelsel sluit ’n kragomsetter en batterye sonder sonpanele in. Basies laai die gewone krag (vanaf Eskom, byvoorbeeld) die batterye met behulp van die kragomsetter en as die krag afgaan, word die krag uit die batterye vir die toebehore in die huis gebruik. Hoe groter die batterye, hoe langer kan die krag hou. Hier is nie vreeslike voor- en nadele nie, want daar is nie ’n kragbesparing nie. Die groot voordeel is natuurlik dat daar krag is as beurtkrag inskop. Die aantal kilowatt word nie met die stelsel beperk nie. Daar is baie verskillende UPS-stelsels op die mark en jy kan klein stelsels vir relatief goedkoop koop, maar as ’n mens in ’n goeie UPS-stelsel wil belê, wat deur ’n installeerder ingesit word en wat jou huis in kraglose toestande aan die gang kan hou, is ’n bedrag van R50 000 gewoonlik ’n goeie afskopplek.
Outomatisering
’n Mens kan amper nie meer ’n sonkragstelsel hê sonder outomatisering nie, sê Regardt Schalkwyk van The Data Guru op Krugersdorp, wat in outomatisering en sonkragstelsels spesialiseer.
“As jou stelsel geoumatiseer word, beteken dit dat die stelsel geprogrammeer word om self sekere dinge aan- en af te sit sodat jy die beste uit die stelsel kan kry. As dit byvoorbeeld ’n sonnige dag is en die batterye gou vol is, dan skuif die stelsel self die lading sodat jou swembad byvoorbeeld verhit word. ’n Mens moet slim met krag te werk gaan en die beste ding van outomatisasie is dat jy self kan besluit watter toebehore die belangrikste in jou huis is en waar krag optimaal benut kan word.”
Op soek na ’n lys van akkrediteerde sonkraginstalleerders?
Besoek www.herholdts.co.za
Besoek www.alumo.co.za vir meer inligting
The Data Guru: Stuur ’n e-pos na [email protected]