Christa Retief (57) was verbaas toe vriende opmerk dat sy mank loop. “My werk vereis dat ek lang ure staan. My knie was wel al ’n geruime tyd seer en toe die pyn nie ná anti-inflammatoriese medikasie verbeter nie, het ek ’n ortopeed gespreek en x-strale laat neem. Ek was geskok toe ek hoor dat net ’n knievervanging my konstante pyn sou wegneem.
“Gelukkig was die skade net in een kompartement van my knie en die chirurg het ’n gedeeltelike knievervanging (GKV) (unicompartmental knee replacement) voorgestel. Ek is baie aktief, stap daagliks met ons honde en waterski gereeld, en dit was ’n verligting om te hoor dat jou beweeglikheid ná ’n gedeeltelike vervanging nie ernstig ingeperk is nie.
“Ek het die prosedure in Desember laat doen en was dadelik op die been. Hoewel dit aanvanklik pynlik was, was ek ná vier weke terug by die werk en het twee maande later alle aktiwiteite in die gim soos fietsry en roei hervat. Ek stap ook onbeperk met ons groot honde.”
Mense leef langer en is oor die algemeen aktiewer, sê dr. Tollie Oosthuizen, ’n ortopeed by die Wilgeheuwel-hospitaal in Johannesburg.
“Aan die begin van die 19de eeu was die lewensverwagting van Amerikaanse vroue 49 jaar. In 2012 was dit 81 jaar. Nog verstommender: in 2012 was meer as 50 000 Japannese ouer as 100 en na verwagting sal die syfer teen 2050 op sowat 4,5 miljoen staan.”
Die kans is goed dat ons horingoud gaan word en dis belangrik dat ons fiks bly met goed funksionerende gewrigte en vervangings wat die normale funksie en aktiwiteitsvlakke herstel.
’n Totale knievervanging (TKV) kan die regte kandidaat se lewe omkeer wat pyn en beweeglikheid betref, maar met ’n gemiddelde lewensduur van twintig jaar, skep dit ’n probleem as jy die vervanging in jou vyftigerjare kry. Wat doen jy op sewentig?
Daar is verdere prosedures, maar met elke prosedure verloor jy heelwat been sowel as funksie en dis die laaste uitweg.
“Jy wil tog nie ’n hartoorplanting doen as ’n stent voldoende is nie,” verduidelik dr. Oosthuizen. “En dalk is jy ’n kandidaat vir ’n gedeeltelike knievervanging.”
Voordele van ’n gedeeltelike vervanging
• Omdat jy net ’n kompartement (daar is drie) in die knie vervang en nie die ligamente verwyder soos by ’n TKV nie, is so ’n pasiënt se potensiaal vir beweging en sport aansienlik groter,” sê dr. Oosthuizen, wat al meer as duisend gedeeltelike knievervangings gedoen het.
• Dit is minder ingrypende chirurgie met minder erge komplikasies en die herstel is daarom vinniger. Die pasiënt loop onmiddellik ná die prosedure – aanvanklik met twee krukke en binne tien dae met een kruk. Ouer pasiënte loop gewoonlik langer met krukke.
• Jy behoort binne drie tot ses weke jou daaglikse aktiwiteite, soos motorbestuur, te kan hervat. Beweging (biomeganika) is natuurliker agterna en die knie reageer nes jou oorspronklike knie.
• Jou loopgang is natuurlik en veral met trappe klim is die verskil tussen die twee prosedures opvallend. In ’n TKV word ligamente verwyder en die knie verloor van sy normale funksie wat beteken dat die beweging van die knie nooit weer soos voorheen gaan wees nie.
Hoekom doen chirurge maklik ’n TKV?
• Hoewel albei prosedures al dekades in gebruik is, is sommige dokters huiwerig om ’n GKV voor te stel. Soms is dit weens die slegte reputasie wat hierdie prosedure in ’n stadium gekry het toe chirurge dit vir een en almal voorgestel het, terwyl sommige eintlik ’n TKV moes kry. Omdat die vervanging dan nie suksesvol was nie, moes hulle kort daarna ’n TKV doen, wat nie ideaal is nie. Dit is belangrik dat jy die regte kandidaat vir die regte prosedure is.
• Omdat TKV so algemeen gedoen word, is chirurge vertroud met die prosedure. Die besluitneming oor wanneer ’n GKV moontlik is, is ’n bietjie ingewikkelder en nie alle chirurge sien kans daarvoor as hulle dit nie gereeld doen nie. As jy die regte kandidaat vir ’n GKV is, koop jy twintig jaar se grasie voor jy ’n ingrypender opsie soos ’n TKV moet laat doen. Maak seker dat jy ’n ortopeed spreek wat gekonfyt is in albei prosedures sodat jy die beste mening kry. Of win ’n tweede mening in.
Hoekom verweer die knie?
Artritis is ’n groep toestande wat een of al jou gewrigte beskadig. Die algemeenste tipe is osteoartritis waar ’n gewrig geleidelik deur gebruik verweer. Soms word dit deur ’n vorige besering veroorsaak, maar gewoonlik is dit sonder enige oorsaak en kom maar met die ouderdom. Dit veroorsaak dat die kraakbeen wat die been in die gewrig bedek (soos die knie), verdwyn en dat die been later weens die wrywing van been-op-been beskadig. Dit veroorsaak pyn en styfheid in die gewrig wat jou normale aktiwiteite erg inperk. Jy kan pynstillers en anti-inflammatoriese middels drink, of ’n kierie in die teenoorgestelde hand van die seer knie gebruik. Fisioterapie en ’n strekverband kan ook verligting bring, maar as jou lewensgehalte weens die pyn en onaktiwiteit agteruitgaan, moet jy ’n ortopedis spreek. Die skade gaan bepaal of ’n gedeeltelike of totale knievervanging nodig is.
Lees ook: Hoe rook jou vel beïnvloed