Gebore uit pyn: Ira Blanckenberg deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf
Hierdie artikel sluit aan by “Gebore uit pyn”, ’n artikel in die Oktober 2019-uitgawe van rooi rose.
Vertel van Kieran toe hy nog geleef het
Ek dink Kieran het baie wysheid gehad vir sy jare. Een ding wat hom spesiaal gemaak het, is dat hy nooit die tyd omgewens het nie. Kinders wens altyd hulle kan ’n bietjie ouer wees, maar hy het altyd gesê die dag het te vinnig verbygegaan en dat hy wens die tyd kon stilstaan. Hy wou elke aand in sy bed reflekteer oor of hy die dag genoeg gedoen het, en wat hy volgens hom beter kon gedoen het. Dit was maar deel van wie hy was.
Baie kinders was tot hom aangetrokke en het graag hulle probleme met hom gedeel. Hy het baie empatie gehad. Hy het ook ’n obsessie met die waarheid gehad – hy het sy maatjies en nefies partykeer geïrriteer omdat hy nooit ’n wit leuentjie wou vertel nie. Maar hy was ook ’n vreeslike grapjas, ’n regte akteurtjie soos sy pa.
Vertel hoe jy van die ongeluk gehoor het
Toe die ongeluk gebeur het, was ek van die lughawe in Johannesburg op pad na Ermelo vir ’n ATKV Tienertoneelbeoordeling. ’n Entjie anderkant Witbank het die foon gelui. Waldi het gesê Kieran het in die water geval en hy is onder by hom in die water. Ek het onmiddellik omgedraai. Ek het basies besef Kieran sou doodgaan. Hy het toe nog ’n paar asemteue gegee.
Ek het Waldi op die foon gehad op pad terug lughawe toe, en moes die huurkar teruggee en ’n kaartjie koop om terug te vlieg. Dit was ’n verskriklike trip. My suster het my kom haal en ons het dadelik deurgery Hermanus toe, na Waldi en ons dogter Dhania, en Kieran se liggaam.
Wat was vir jou die moeilikste kort na die ongeluk?
Die moeilikste is seker daardie gat – die feit dat hy nie daar is nie. Eerstens moet jy jou dooie kind aanskou, en dan moet jy besef hy is dead and gone, vir altyd.
Hoe het jy aanvanklik sin probeer maak van julle verlies?
Wat ookal in my lewe gebeur, voel ek altyd ek is totaal op my pad. Ek het dit wat gebeur, nog nooit bevraagteken nie. Met Kieran se dood het ek onmiddellik met my kop aanvaar hy is dood en dis ’n pad wat ek moet stap, wat ons as ’n gesin moet stap, en klaar.
Ek het ook besef ek moes hiervan sin maak, ander spring ek ook van ’n gebou af. Die lewe verloor al sy betekenis. Die pad was vir my so swaar dat ek binnetoe begin leef het. Ek het in myself probeer krap en ’n beter mens probeer word. Ek het baie spiritueel geword, en ek probeer om vir mense iets te beteken. Ek is rou en oop en anders, en as my pad ander kan help, is dit maar hoe ek ook myself help.
Dis nou amper ses jaar vandat Kieran oorlede is. Dis eintlik nog steeds gister. Ek loop hierdie pad verskriklik diep, maar dis nog steeds in die nou dat my kind dood is. Jou kind is nie iemand wat uit jou verlede kom nie, hy is steeds in jou hede.
Baie ouers se grootste vrees is om een van hul kinders te verloor. Jy sê jy het altyd ’n vrees gehad dat Kieran van ’n krans sou afval
Dis waar. Voor sy dood was ek paniekbevange as hy naby kranse of naby die see op die rotse gaan speel het. Sy jonger sussie kon maak wat sy wou – hierdie vrees oor Kieran kon ek nie verklaar nie. Ek het hom altyd toegelaat, want ek het besef dis ’n vrees wat nie sin maak nie.
Ná sy dood het ek besef jy het geen beheer oor wat gaan gebeur nie. Ek het elke keer vir my kind gesê om versigtig te wees wanneer hy gaan speel of klouter of bergklim het, en hy val wraggies by ’n krans af. Ek het geen vrese meer oor nie, net totale vertroue dat wat sal wees, sal wees. Ek het slegs beheer hoe ek dit wat op my pad kom, hanteer.
Op watter manier verwerk jy emosionele pyn?
Ek het daardie dag in 2013 op die vliegtuig al begin skryf. Ek skryf vir myself, om boeke te verbrand, nie om dit eendag aan die nageslag oor te gee nie. Ek het elke liewe gevoel, elke liewe oomblik van die dag neergepen, en ek dink dit het my gered. Ek dink dis waar my refleksie vandaan kom. Elke ding wat ek ge-face het, het ek deurgewerk.
Die ander ding wat ek doen as ek te seer is, is sport. Ek is verskriklik lief vir tennis. Wanneer jy net wil doodgaan en jy gaan op ’n baan of doen ’n bietjie oefening en jou hart begin klop, kan jy nie help om ’n bietjie beter te voel nie.
Alles wat jy jare lank neergeskryf het, het tot ’n toneelstuk, Haal asem, gelei.
Net na Kieran se agtiende verjaarsdag het dit uit die bloute na my gekom. As jou kind dood is, is daar maar min impulse om te lewe, maar ek het besef ek wou weer op die verhoog klim. Dit bring vir my vreugde.
Daar was niks wat iemand my nié kon vra oor my journey met my seun se dood nie. My oopbreek was klaar. Ek het teruggegaan na daardie verskriklike dagboeke, en gaan lees van hierdie vrou se pad.
Die toneelstuk is ’n universele storie; Kieran se naam word nooit genoem nie. Dit gaan universeel oor smart, en oor hoe ons ’n verlies verwerk. Elke woord in die stuk kom uit my dagboeke, soos ek die pad van hel gestap het – die diep innerlike pad, en ook die feitelike stap van tyd: ’n verjaarsdag, die dooddag, al daardie tye. So spring dit van toneel na toneel.
Die ongelooflik belangrik dat ons práát oor die dood van kinders. Mense is so bang, so asof dit ’n siekte is. Ek het empatie daarvoor, want ons praat nie daaroor nie. Hoe moet mense weet hoe om dit te hanteer? Seker een van die grootste dinge wat Haal asem doen, is om hierdie pad tot in sy diepste te wys. Dit gaan oor die verlies, en die gift daarin om oop te breek en om daaruit te groei.
Hoe sien jy die lewe nou?
Ek is baie bewus daarvan dat ek om die draai kan stap en dood kan wees. Iets verskrikliks kan gebeur, of iets wonderliks kan gebeur. Ek weet ons maak of ons beheer het oor die toekoms, maar ons het nie werklik nie. Dis in die nou dat jy jou toekoms skep, so ek kyk net voor my en na wat nou, hier, in my oomblik is. Ek doen alles ten volle, en dit maak sy eie toekoms.
Verder het ek geen vrees nie. Op ’n manier maak dit die lewe ligter, want jy panic nie. Jy aanvaar alles wat kom, en deal daarmee so goed jy kan. Ek leef binnetoe en probeer my hart vir elke klein oomblikkie oopmaak – of dit nou die persoon in die winkel is, of die blommetjie wat langs die pad staan. Ek probeer my hart ten volle oopmaak.
Lees ook: 13 dinge oor die dood wat jy dalk nie geweet het nie