Deur Anet Schoeman
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }In baie gesinne glo die ouer sibbe baie verontreg dat die kleintjies met moord wegkom. Die oueres sê vir hulle was die leisels maar baie kort en die druk om te presteer baie groter. Hoewel ons as volwassenes kan sien hoe onrealisties en eensydig ons as tieners die lewe beskou het en hoe maklik ons gevoel het dat ons verontreg is, dui navorsing tog op interessante aspekte van die rangorde in gesinne.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
Die studie
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
’n Noorweegse studie dui op ’n besliste intellektuele voordeel vir eersgeborenes. Die studie, wat byna ’n kwart miljoen jong weermaglede se intelligensiekwosiënt (IK) vergelyk het, toon dat eersgeborenes se IK dikwels 3,5 tot 4,5 punte hoër as dié van die daaropvolgende kind is.
Die ander interessantheid is dat waar die eersgeborene gesterf het, die tweede kind se IK effens gestyg het. Amerikaanse oudpresident J.F. Kennedy se oudste broer is oorlede en volgens geskiedkundiges het dit hom as tweede kind genoop om meer soos ’n oudste op te tree. Wetenskaplikes skryf die hoër IK toe aan die onverdeelde aandag wat die eersgeborene aanvanklik kry en die vaardighede wat hy later ontwikkel omdat hy die jongeres moet touwys maak.
Hoewel vier punte op jou IK nie ’n reuseverskil gaan maak nie (elke kategorie het ’n speling van 20 punte: ’n gemiddelde IK lê tussen 90 en 110), wys wetenskaplikes daarop dat dit aan die einde van jou skoolopleiding die verskil tussen ’n hoë B-simbool en ’n lae A kan beteken, wat studiemoontlikhede kan beïnvloed.
Is die eersgeborene dan nou die gesalfde wat verder in die lewe gaan kom terwyl die ander aan die agterspeen gaan suig?
Hokaai, sê sielkundiges. Jou paadjie na sukses is glad nie so lynreg aan IK gekoppel nie. Emosionele intelligensie kan net so ’n groot rol speel. “Intelligensie gee jou dalk ’n goeie wegspringplek, maar dis jou emosionele intelligensie wat vir die sosiale vaardighede, wilskrag en deursettingsvermoë sorg om ’n sukses daarvan te maak,” sê Lesley-Anne Pedlar, ’n konsulterende sielkundige in Greenside, Johannesburg.
“Ons almal ken briljante kinders wat op skool skaars ’n boek hoef oop te maak om goed te doen. Ongelukkig is die slimmes ook baie keer die luies. ’n Blote syfer op papier wat jou IK verteenwoordig, belowe ongelukkig niks.”
Beteken IK-toetse nog iets?
IK-toetse het nie meer die status van dertig jaar gelede toe selfs klasse daarvolgens ingedeel is nie, sê Roelof Kachelhoffer, die hoof van Bryanston Parallel Medium Skool in Bryanston. “Dit kan hoogstens as ’n nuttige instrument ingespan word om poten-siaal en vakkeuses te identifiseer.” Lesley–Anne verduidelik ook dat IK-toetse se uitslae kan afhang van jou emosionele toestand op die dag wat jy dit geskryf het. “As jy angstig en ongelukkig is – dus te doen met jou emosionele intelligensie – gaan dit moeilik wees om jou ware intelligensie te benut.
“Ouerskapstyle wat kinders die vryheid bied om hulself te wees en selfvertroue te ontwikkel, het ’n baie groter invloed op ’n kind se lewenspotensiaal as bloot intelligensie.”
Emosionele intelligensie
Emosionele intelligensie sluit jou sosiale vaardighede in wat in groot gesinne en onder jonger sibbe goed ontwikkel word. “Enigste kinders kry nie soveel oefening om die sosiale vaardighede te ontwikkel nie, en al mag dit so wees dat eersgeborenes ’n effense hoër IK het, kan die jonger sibbe die verskil met hul sosiale vaardighede uitwis,” sê Lesley-Anne.
“Daar moet ook onthou word dat die Noorweegse studie op mans gedoen is wat tussen 1967 en 1976 gebore is. Ouerskap-style van die nuwe generasie is losser en uiteenlopender as wat dit destyds was,” maan Lesley-Anne. “Met die hoë egskeidingsyfer is daar ook baie meer saamgestelde gesinne wat die dinamiek binne ’n gesin daadwerklik sal verander.”
Opvoedkundige sielkundiges stem saam. “Ons is bewus van rangorde as ons kinders konsulteer, maar daar is nooit genoeg parallelle om ’n reël oor rangorde neer te lê nie,” sê Carien Lubbe, lektor in opvoedkundige sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.
“Geboorte-orde kan ’n invloed op kinders hê, maar net so is daar verskeie ander faktore wat ’n kind se persoonlikheid en sukses kan beïnvloed. Geboorte-orde is ook meer ’n Westerse verskynsel en word nie in alle kulture dieselfde ervaar nie. Ouerskapstyl en waardestelsels is oor die algemeen meer deurslaggewend. Kinders raak rebels oor baie redes en nie net omdat hulle kwansuis die middelkind is nie.”
Rangorde
Daar is voor- en nadele aan elke posisie in die gesin. “Ouer kinders voel maklik dat die jongstes as die ‘baba’ in die huishouding bederf word, maar net so kan hulle ook afgeskeep word omdat die ouers net nie genoeg tyd het nie en hulle maar so onder almal se voete grootword.”
Die middelkinders kla soms dat hulle verlore raak, maar dit wil lyk of hulle uiteindelik uitblink as entrepreneurs (omdat hulle op hulself aangewese is) en in beroepe waar hulle moet onderhandel (soos in die diplomatiek) skryf die sielkundige dr. Kevin Leman in sy boek The Birth Order Book.
Hoewel sekere studies toon dat ’n groot persentasie enigste kinders uiteindelik voorsitters van maatskappye word, het die posisie ook sy slaggate, sê Carien. “Enigste kinders kan soms selfsugtig wees omdat hulle nooit hoef te deel nie. Wend dus ’n groter poging aan om sosiale vaardighede by hulle te ontwikkel.”
Sy reken tog rangorde is ’n verskynsel wat ouers in gedagte kan hou en sorg dat dit tot ’n kind se voordeel ingespan word, eerder as wat dit hom tot nadeel strek. “Daag kinders se persoonlikhede uit en moenie altyd die verantwoordelikheid op die oudste laai nie. As die jongste weet dat hy nie verantwoordelik hoef te wees nie, leer hy dit moeilik aan.”
As ouers die indruk kry dat die middelste kind “wegraak” tussen ’n oudste en jongste moet hulle seker maak dat daardie kind ook voel hy is uniek. “Dis tog juis ouers se rol om die uniekheid in elke kind te sien en hulle moet hulle daarop toespits om ’n gesonde selfbeeld in kinders te vestig,” sê Carien.
Wat sê kinders?
Die middelkind voel afgeskeep
Tersia* (35) van Durbanville in Kaapstad is ’n dieetkundige en sê hoewel sy nie sou omgee vir ’n derde baba nie, sy nie kans sien dat die huidige jongste dan die middelkind moet word nie.
“Ek is die oudste van drie kinders met ’n jonger suster en dan ’n boetie. Vandat my suster haar tienerjare betree het, moes ons hoor hoe smartvol en onregverdig dit is om die middelkind te wees.
Hoewel ons al drie akademies presteer het en in baie opsigte eenders was, het sy ons altyd verkwalik vir haar “minderbevoorregte” posisie en my ouers beskuldig dat hulle minder aandag aan haar gee en haar minder liefhet.
“Selfs in ons volwasse jare hou die verwyte nie op nie. Sy verkwalik ons vir haar mislukte huwelik en alles wat in haar lewe fout gaan. Nogtans is sy ’n gerespekteerde fisioterapeut en uitstekend in haar beroep. Uiteindelik het sy meer materiële dinge as ek en my broer gekry omdat my ouers altyd wou vergoed vir haar onredelike aantygings. “Ek gee nie om wat die kenners sê nie, in ons huis het die middelkind-sindroom beslis bestaan en ek sien nie kans om die risiko met my kinders te loop nie.”
Die oudste is verantwoordeliker
Karien* is die oudste en het ’n broer wat ses jaar jonger is. Hoewel sy nooit haar aanvanklike opleiding as verpleegster voltooi het nie, is sy op 43 die eienaar en bestuurder van ’n baie suksesvolle gastehuis in Sandton, Johannesburg. “Omdat ons ses jaar verskil, was ons eerder soos twee enigste kinders. Ons was nooit in kompetisie met mekaar nie, maar omdat my broer alles so maklik gekry het, het hy ook nooit geleer om verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar nie. As kind moes ek in die huis help omdat ons nie voltydse hulp kon bekostig nie. Teen die tyd dat my broer oud genoeg was om te help, het ons ’n voltydse helper gehad en my ma het nie verwag dat hy ’n vinger lig nie.
“Toe ek my studie laat vaar, het ek ’n werk gesoek, my ma se ou motor gekoop en my ouers betaal om in die huis te bly. My broer het die een kursus na die nader aangedurf en nooit iets voltooi nie, maar hy het ’n motor by my ouers gekry en nie ’n sent tot die huishouding bygedra nie.
“My broer het vir jare in die huis gewoon. Hy is nou al byna 37 en ná ’n mislukte huwelik en verskeie onsuksesvolle be-roepe, leen hy steeds groot bedrae geld by my ouers en by my en my man wat hy nooit terugbetaal nie. Ek is jammer vir hom wat nooit geleer het om verantwoordelikheid te aanvaar nie en ek blameer my ouers daarvoor.”
Die jongste word altyd voorgesê
Elna* (53) van Randburg, Johannesburg is 15 jaar jonger as haar vier sibbe. “My ouers en ouer broers en susters het my vreeslik bederf, maar ek is ook altyd voorgesê en reggehelp. As ek iets gedoen het, was daar altyd een wat dit beter kon doen en verduidelik het hoe dit eintlik gedoen moes word.
“Dit het beslis ’n invloed op my selfvertroue gehad. Hoewel ek ’n A vir wiskunde en wetenskap in matriek gekry het, het ek eerder biblioteekwese soos my twee broers gaan studeer, omdat ek nie gedink het ek is goed genoeg om ’n B.Sc.-kursus te volg nie. Hoewel ek suksesvol in my beroep is, is ek spyt dat ek nie die kans gewaag en in die wetenskap studeer het nie.”
* skuilname
Bronne: New York Times 22 June 2007; Time Magazine 2 Oct 2007; Psychologies Feb/March 2008
Lees ook: Is jou kind ADHD of begaafd?
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.