Dis die babapoeieradvertensie wat voor jou geestesoog opkom as jy jou eerste baba beplan. Die sagte babageur, ’n klein engel oopmond aan’t lag of heerlik in droomland. Langsaan die ma met ’n salige uitdrukking op haar gesig. Jy sien nooit die krampwateradvertensie met ’n baba wat blou moord skree en ’n ma met wydgesperde oë wat maande laas ’n ordentlike nagrus gehad het nie …
“ ’n Eerste baba verander jou lewe onherroeplik,” sê dr. Elzette Fritz, doktor in opvoedkundige sielkunde, “en nie almal hanteer dit ewe maklik nie.” ’n Baba is ongelukkig ook die allerlaaste manier om ’n wankelrige huwelik te probeer red. “In baie huwelike verhoog die geboorte van ’n baba die spanning tot breekpunt en kan dit ’n groot bydraende faktor tot egskeiding wees.”
Onthou, elke klein jakkalsie kan ’n monster word as jy moeg, gefrustreerd en vaak is.
“’n Eerste baba verander jou lewe onherroeplik”
Vyftig jaar gelede was dinge aansienlik makliker. Die meeste ma’s het nie gewerk nie en kinders was ’n natuurlike volgende stap. Vandag werk die meerderheid vroue en word die opsie om kinders te hê ’n baie bewuste keuse tussen twee lewenstyle. As albei partye werk, word die versorging van die baba ’n gedeelde verantwoordelikheid.
Dis juis die onwilligheid van sommige mans om te help wat vroue bitter maak en wat uiteindelik kan lei tot die verbrokkeling van ’n huwelik. Volgens ’n meningspeiling onder 2000 ouers deur die Britse Mother and Baby Magazine, slaap meer as die helfte van alle nuwe pa’s deur die baba se gehuil (of gee voor om nie wakker te word nie). Net ’n kwart word wakker, maar die meeste eers nadat die ma reeds wakker is.
Die gebrek aan slaap, met gepaardgaande wrewel wat by die vrou opbou, dryf maklik ’n wig tussen ’n paartjie in. Ses uit tien paartjies het gesê dat ’n nuwe baba hul verhouding onder “ontsaglike druk” geplaas het.
Gewillige en beskikbare oumas is ook maar dun gesaai. As hulle nie self nog in ’n beroep staan nie, woon hulle baie keer ver. Omdat vroue oor die algemeen later kinders kry, is die oumas ook nie meer so jonk en energiek nie. Dit veroorsaak dat ma’s swaarder steun op pa’s vir hulp en ondersteuning.
“As daar geen onderliggende ondersteuningstelsel vir nuwe ouers is nie, kan hulle oorweldig voel,” sê dr. Fritz. Vroue wat gewerk het en deurgaans ten volle in beheer gevoel het, is nou skielik gekonfronteer met ’n situasie waarvoor hul geen opleiding of oplossings het nie. Dit laat so ’n ma baie magteloos voel.
Kommunikasie is jou sterkste bondgenoot, sê dr. Fritz. Pa’s kla dat hulle graag sou wou help, maar nie weet hoe nie. “Ek het soos ’n buitestander gevoel,” sê een nuwe pa. “En as ek aanbied om die baba stil te maak, huil hy net harder.”
Kommunikasie is jou sterkste bondgenoot
Dr. Fritz sê sommige ma’s fokus só op die baba dat die pa afgeskeep voel. Hoewel dit onrealisties is, begin hy dan ’n gevoel van wrokkigheid teenoor die baba opbou. As die onderskeie rolle nie gedurig bespreek en uitgemerk word sodat elkeen ’n bydrae lewer nie, voel albei magteloos en oorweldig deur ’n situasie wat hulle nie kan beheer nie.
By gebrek aan goeie kommunikasie kry die verontregte ouer ander maniere om die ander een “terug te kry”. So begin ’n bose kringloop van verwyt wat moeilik is om te herstel.
Die gebeur ook soms dat ’n ma ’n nuwe identiteit en domein in die verhouding verkry met haar nuwe status as ma, verduidelik dr. Fritz. “As sy nie vroeër een gehad het nie, het sy nou een.” Sy is ook nou die kenner op ’n gebied waarvan die man baie min weet. “Só word ’n baba soms ’n pion in ’n magstryd waar ouers mekaar probeer troef.”
Niks en niemand berei nuwe ouers genoeg voor vir die ontwrigting van ’n nuwe baba nie. Voorgeboorteklasse hou by geboorte op. Die samelewing verwag en aanvaar dat alle vroue natuurlike moeders is. Soms is dit nie so nie, en het die vrou baie ondersteuning nodig om heelhuids anderkant uit te kom. “Daar moet definitief vooraf konsensus wees oor hoe elkeen betrokke gaan wees. As een ’n geduldiger en gelykmatiger persoonlikheid het, moet daardie een ’n groter rol op een vlak speel. Paartjies moet hul sterk en swak punte identifiseer en mekaar aanvul.”
“Kinders skep nie probleme in ’n huwelik nie, hulle maak die bestaande probleme net opvallender,” sê Elsabé van Niekerk, ’n berader wat in huweliksprobleme spesialiseer.
“Kinders skep nie probleme in ’n huwelik nie, hulle maak die bestaande probleme net opvallender”
Nog ’n wanopvatting is dat alle pa’s by die geboorte wil wees,” sê dr. Fritz. “Bespreek dit vooraf. Dalk wil hy nie.” Vir sommige mans is dit so traumaties dat dit daarvan ’n negatiewe ervaring maak. ’n Voornemende ma moet ook hier ondersteunend wees en dan liewer ’n vriendin of haar ma kry om haar by te staan, eerder as om haar man te dwing. Maar hy moet by wees tot sy na die geboortesaal geneem word. Soms word mans in elk geval so meegevoer dat hulle dan uit hul eie kies om by te wees.
Sommige pa’s verras hulself tog met hul staal. Stefaans* was erg huiwerig om die keisersnee van sy eersteling by te woon, want hy is een wat flou val as iemand se neus bloei. Maar hy het gevoel dat sy ondersteuning die minste was wat hy sy vrou kon bied en wou ook nie so ’n grootse gebeurtenis misloop nie. “Die ergste was dat die ginekoloog gemeen het dit sal vir my baie interessant wees en hy het my in detail daardeur gepraat. Dit was by tye nogal erg en die baie bloed het my bekommer. Ek sou dit nogtans vir niks wou misloop nie, maar ek het die dokter se aanbod om die naelstring te knip ferm van die hand gewys.”
Kinders beklemtoon die verskille in paartjies se agtergrond. Klein verskille in waardes, godsdiens, kultuur en dissipline wat vroeër jul verhouding interessant gemaak het, word ammunisie vir ’n oorlog in jou binnekamer oor verskillende opvoedingsbenaderings. Bespreek kwessies soos kerkverband, taal en dissipline voor die tyd. Dan kan julle dit minder emosiebelaai doen en hopelik oplossings kry wat julle albei geval.
Voornemende ouers dink selde daaraan dat ’n nuwe baba sieklik of gestrem kan wees. Geen twee mense ervaar en verwerk ’n krisis dieselfde nie en dit kan tot groot konflik lei.
“Ons huwelik het deur ’n vuurproef gegaan toe ons eerste baba met ’n ernstige defek gebore is en binne ’n paar weke oorlede is,” sê ’n pa wat nou al drie kinders het.
“Hoewel ons albei verpletter was, het ek ná ’n ruk gevoel ons moet vrede maak met die verlies en aangaan. My vrou kon die verlies nie verwerk nie en het dieper en dieper in ’n depressie verval en verder van my weggedryf. Sy het my ook verwyt dat ek hierdie groot hartseer kon oorkom - so asof ek nie genoeg omgegee het nie. Dit was meer as ’n jaar voor sy met hulp die trauma kon verwerk. Ek weet nie hoe ’n wankelrige huwelik dit sou oorleef nie.”
Daar is ook nie meer ’n sosiale stelsel vir vroue met jong kinders nie. Vroeër het ma’s met die baba in die stootwa gaan stap en ander jong ma’s by die park ontmoet. Nou is dit baie keer te onveilig en voel ma’s uiters geïsoleerd. Deesdae se uitstappies na groot winkelsentrums is ook glad nie ontspannend vir ma of baba nie. “Die stimulasie van helder kleure, lig en harde geluide is te veel vir ’n baba en wen hom eerder op. As hy dan weens uitputting begin huil, voel die ma soms lus om saam te huil,” sê dr. Fritz.
Dis veral ouer ma’s, dalk die enigste in hul vriendekring met ’n baba, wat geïsoleerd voel. Ouer ma’s het die voordeel dat hulle soms geduldiger is, hul verhouding sterker is en hulle finansieel sterker is. Hierdie ma’s voel ongelukkig soms die ontwrigting die ergste omdat hulle ná jare in ’n beroep skielik nie enige intellektuele stimulasie het nie, en hulle verkwalik mans wat ’n kind en ’n beroep kan hê.
“Dis veral ouer ma’s, dalk die enigste in hul vriendekring met ’n baba, wat geïsoleerd voel”
Juis hieroor is kommunikasie uiters belangrik – sodat elke ouer weet wat sy rol is. Pa’s kan baie doen om hul gewilligheid te wys en op ander maniere (soos oor naweke) sorg dat die ma welverdiende rus kry. Ma’s moenie in die stilligheid ’n wrok opbou as hy sit en rugby kyk terwyl sy gehoop het hy gaan die baba oppas en haar ’n blaaskans gee nie. Bespreek dit aan die begin van die naweek sodat elkeen weet wat van hom verwag word.
“As jy dolgraag ’n baba wil hê, en jou geliefde teësinnig inwillig, moet jy seker maak van ’n ondersteuningstelsel,” waarsku dr. Fritz. Daar is altyd ’n buitekans dat hy deur die momentum en emosie oorgehaal gaan word, maar dit kan geweldige konflik veroorsaak as jy groot betrokkenheid van hom verwag terwyl hy teësinnig was.
Moenie dat mans wegkom met die argument dat hulle nie borste het nie en dus snags geen rol kan speel nie. As die baba reeds gedrink het en weer wakker word, is dit sy beurt. Terwyl ma’s met kraamverlof is, is dit logies dat hulle ’n groter rol speel, maar waar albei voltyds werk, móét die pa sy kant bring.
Kombineer seks met min slaap en die frustrasie en magteloosheid wat nuwe ma’s soms aanvanklik ervaar, en dit word ’n vloekwoord. Vroue herstel emosioneel en liggaamlik in verskillende tempo’s. Sommige vroue is uiters in voeling met hul vrou-wees na ’n geboorte, terwyl seks vir die meeste tot heel laaste op die “onthoulysie” skuif. In ’n meningspeiling in Brittanje het meer as drie kwart van die nuwe ouers erken dat min slaap hul liefdeslewe ondermyn, en die meeste vroue het gesê dat hulle slaap bo seks verkies.
“Kombineer seks met min slaap en die frustrasie en magteloosheid wat nuwe ma’s soms aanvanklik ervaar, en dit word ’n vloekwoord”
Sommige mans voel ook afgehaal omdat hulle met die baba om die vrou se borste moet kompeteer en sal die vrou soms aanmoedig om op te hou borsvoed. “Die belangrikste is om hierdie kwessies te bespreek en saam ’n oplossing te soek. As die vrou moeg is en liggaamlike ongemak het, kan sy haar man dalk op ’n ander manier plesier.”
Volgens dr. Fritz lyk dit asof postnatale de-pressie aan die toeneem is en nie altyd betyds gediagnoseer word nie. “Dit kan wees omdat vroue minder ondersteuning het. Skielik sit sy en haar huilende baba vasgekluister in die huis. Mans werk oor die algemeen baie langer ure as ’n paar dekades gelede en kom baie keer eers tuis na die baba gebad, gevoed en aan die slaap gesus is. Verkeer veroorsaak ook dat mense in die oggend vroeër werk toe vertrek.
Maar dis nie alles rampe en ellende nie. Dis belangrik om te onthou dat dit net tydelik is en dat hul lewe weer later in ’n normale ritme gaan val, paai die kenners.
Voor die tyd
• Ontleed jul verhouding en kyk waar moontlike probleme is. Werk eers aan die probleme vóór julle aan kinders dink.
• Praat met mense wat reeds kinders het en stel vas waar hul uitdagings gelê het. Besluit hoe julle dit gaan hanteer.
• Baken rolle af en bespreek elkeen se betrokkenheid.
• Identifiseer elkeen se sterk en swak punte en kyk hoe julle mekaar kan aanvul sodat die verantwoordelikheid gedeel word.
• Bespreek verskille in waardes en agtergrond voor die tyd. Konflik oor dissipline, kultuur en godsdiens kan groot spanning veroorsaak.
Oppas vir:
• Ons is besig om uitmekaar te dryf, maar ’n baba sal ons nader aan mekaar bring.
• Ons het nie een regtig lus vir ’n baba nie, maar almal sê dis tyd dat ons kinders kry.
• Ek het lus, maar my geliefde nie. Ek is seker as die baba eers daar is, sal hy mal wees oor die kind.
• Onthou, die baba moet altyd die prioriteit wees. Moenie ’n kind hê om jóú lewe te vul nie.
Lees ook: Swanger bo 40