Ontmoet Franja en Ruan. Soos ander kinders deel hulle hul ouers, Juanita en Doepie, se gene, talent én van.
Met dié verskil: dis Du Plessis.
Dié broer en suster het binne omtrent ’n jaar behoorlike kepe in die musiekbedryf uitgekerf. Franja se debuutalbum, My verhaal, wat in 2016 uitgereik is, is met twee Ghoema-toekennings bekroon: beste nuweling én beste vroulike kunstenaar van die jaar. Ruan se album, Eggo, is vroeër vanjaar (2017) uitgereik en kry wyd lof van resensente en is gewild op radiostasies landwyd.
Ruan, wat ’n B.Com.-graad in bemarkingbestuur aan UNISA verwerf het, bestuur sy ouers se platemaatskappy JRECORDS en WOW-musiekverspreiders.
Franja het musiekteorie en –vervaardiging aan die Berklee Online Music College in Amerika studeer en is betrokke by haar ouers se platemaatskappy.
Hulle is nogal vinkel en koljander. Albei huil én bloos maklik, veral wanneer komplimente uitgedeel word. Maar hulle lag ook spontaan en straal lewenslus en energie uit.
Ongelukkig is Franja en Ruan ook uitgelewer aan jaloesie, venyn en vooroordeel. Hul ma is immers die Suid-Afrikaanse superster Juanita du Plessis, wat al elke denkbare musiektoekenning gewen en nagenoeg 2,5 miljoen albums verkoop het.
Hoe beïnvloed dié skadu julle?
Franja: Die druk is erg. Mense vergelyk ons heeltyd met ons ma, hou ons dop en kyk of ons dinge soos sy doen of nie. Mense bevraagteken ons talent. Is ons regtig goed, of bereik ons welslae net omdat sy ons ma is? Ons moet onsself heeltyd bewys as individue, eie mense. Maar omdat ons in die musiekbedryf grootgeword het, kén ons die uitdagings. Ons het vooraf geweet waarvoor ons ons inlaat. Ons weet wat blootstelling beteken. Almal se oë is op ons en ons weet ons gaan onder tonge deurloop.
Ruan: Daar is vir seker meer voordele as nadele. Bygesê, ek meen die nadele kan eerder as ’n geleentheid gesien word. Die voordele is vele: My ouers se kennis en die fondament wat hulle gelê het, is kosbaar en gee ons vir seker ’n voorsprong. Die geleentheid om onsself as kunstenaars uit eie reg te bewys, is opwindend!
Is julle vrywillig in die musiekbedryf?
Franja: Ja! Ons ouers sou ons nooit in ’n rigting indwing nie. Hulle het by my ook ’n liefde vir kinders, diere en sport gekweek. Ek dink ek sou dalk selfs ’n onderwyseres of ’n veearts wou word en sou ’n loopbaan in ’n sportrigting kon oorweeg. Maar my passie – musiek – het gewen.
Ruan: Ek sou baie graag ’n Protea-krieketspeler wou wees. Krieket was op skool ’n groot passie en ek glo ek was goed genoeg om dit te kon regkry, sou ek wou. Maar gelukkig was musiek my keuse. Die bonus is dat ons ouers ons in alles ondersteun en nooit onregverdige verwagtings aan ons opdwing nie. Die wêreld was nog altyd ons spreekwoordelike oester!
Ek lei af jul ouers, wat albei in sport uitgeblink het, het julle ook in sport ondersteun?
Franja: Ja. Ons almal het op skool aan sport deelgeneem en is steeds aktief. Ruan kon, as hy wou, ’n beroepskrieketspeler geword het. Hy het op skool 140 km/h geboul!
Ruan: Inderdaad. Ons broer, Mario, was ’n kranige hoogspringatleet. Franja was onverbeterlik in netbal, atletiek en sagtebal en het baie pryse gewen.
Jul pad het in 2001 van Namibië (Windhoek en Gobabis) tot SA en Pretoria gelei …
Franja: Ons het die eerste jare van ons lewe daar geslyp en ons praat nou nog oor daardie tye; hoe ons in die straat gespeel het en modderkoekies gemaak het. Ons probeer elke jaar teruggaan Hentiesbaai toe. Dit sal altyd vir ons ’n spesiale plek bly. My beste herinneringe is aan ons gesinsvakansies op die plaas of by die see. Jy kan die mens uit Suidwes haal, maar nie Suidwes uit die mens uit nie. Ons klomp het ’n baie goeie en hegte verhouding. Ek dink elkeen bring iets anders in elkeen uit; jy het ’n unieke verhouding met elkeen in die gesin. Verhoudings het maar goeie en slegte tye ook. Solank jy deur die slegte tye werk en sterker anderkant uitkom. Ons is streng grootgemaak, en dit het ons gevorm. My gesin is my veilige hawe.
Ruan: Ons sal altyd hunker na die see en Suidwes se mense én al daardie Hentiesbaai-vakansies! As gesin is ons mekaar se bestes. Ons is regtig lief vir mekaar en sal vir mekaar baklei tot ons vingers stomp is. As jy aan een Du Plessis vat, vat jy aan almal! My lekkerste herinneringe is aan ons geselsies om die kombuistafel oor ’n hele paar koppies koffie en tee en miskien ’n pizza of sewe … Dissipline is deel van die Du Plessis-huishouding, maar die reëls is nooit onredelik nie.
Wat was die grootste uitdagings en aanpassings vir julle in Suid-Afrika?
Franja: Die aanpassing van ’n klein plaasdorpie tot ’n groot stad en baie mense. En ons het ander aksente gehad as die mense hier in Suid-Afrika.
Ruan: Die stad en die feit dat ons fietse gebêre moes word. Dit was vir my ook verskriklik moeilik om vriende te maak.
Franja, skinder ’n bietjie oor Ruan – en laat hom bloos …
Albei my broers is vir my regtig mooi mense. Ek mag dit sê, want hulle is my boeties. Ruan maak baie lekker kos en hy is ’n goeie nabootser. Hy werk aan ’n resepteboek en hy kan Tina Turner se “The Best” amper soos sy sing.
Ruan, kry haar terug!
Franja was kleintyd nogal ’n tomboy, sy het die seuns ge-tackle en sy kon ’n rugbybal drop en van die kwartlyn oor die pale pass! En ai, sy is pragtig skaam. G’n kelner het nog ooit by haar gehoor wat sy bestel nie. Dit is soos om telefoontjie te speel … So met die lyn af.
Terloops, Mario en Franja is eintlik die tweeling, maar tog, anders as wat ’n mens sal verwag, is hy nie in die musiekbedryf nie?
Franja: Baie mense vra of ek en Ruan die tweeling is. Maar my tweelingboetie is die boer in ons gesin. Hy swoeg op ons plaas buite Thabazimbi. Hy ondersteun ons in wat ons doen en ons ondersteun hom in wat hy doen. Hy is baie beskermend teenoor my en sal vinnig kwaai wees as iemand met my moeilikheid soek. Hy hou baie daarvan om my aspris te irriteer.
Ruan: Mario is die terggees van die gesin. Hy laat ons altyd lag met sy streke en ondersteun ons op sy manier in alles wat ons doen. Hy en my pa het ’n passie vir die boerdery. Al van kleins af het hy in die plaas en diere en alles wat daarmee gepaardgaan belang gestel.
Franja, wat is Ruan se beste eienskappe?
Hy is sag en sensitief, en leef sy geloof uit. Hy sal homself benadeel ter wille van ander mense. En hy het ’n goeie humorsin. Maar hy beskik ook oor puik bestuurs- en leierskapseienskappe.
Ruan, wat is Franja se beste eienskappe?
Sy is soos ’n sagte roosblaartjie wat ’n mens net wil oppas en koester. Ek en Mario sal hard baklei vir haar! Haar deursettingsvermoë is vir my inspirerend. Sy kan aanhou en aanhou tot sy iets regkry. Haar lag is ook aansteeklik. En, o ja: sy maak ’n gevaarlike pastaslaai!
Wat irriteer julle soms van mekaar?
Franja: Sjoe! Sy aandag word baie vinnig afgetrek – soms terwyl hy ry of wanneer ek met hom praat. En dis vir my erg as iemand hard kou; hy doen dit soms. Maar glad nie oopmond of lelik nie. Ek kan hom net partykeer hóór eet.
Ruan: Sy irriteer my nie sommer nie, maar haar klere moet altyd deur almal goedgekeur word voordat sy gemaklik daarin voel.
Waaroor verskil julle drasties?
Franja: Niks té ernstig nie, behalwe dat hy nie baie hou van boodskappe tik op ’n selfoon nie en daarom soms darem ’n bietjie lank vat om te reageer. Ek weer probeer om so gou moontlik te reageer. Ek het nie ’n probleem met tik nie!
Ruan: Ek hou glad nie van inkopies in groot malls nie, maar ek hou van kruideniersware koop. Sy is presies die teenoorgestelde. Ek dink ek is ook dalk ’n bietjie meer georganiseerd.
En waaroor stem julle heelhartig saam?
Franja: Ons geloof en verhouding met God. Ons waardes en norme en musiek.
Ruan: Die plek vir geloof, liefde, musiek en pret in ons lewe.
Die liefde – op wie is jy verlief, verloof aan – en/of verlore!
Franja: Ek is verloof aan Willie Engelbrecht. Ons is al ses jaar bymekaar en ken mekaar al sewe jaar. Ons het mekaar op hoërskool ontmoet. Hy speel op die oomblik rugby vir die Pumas. Hy is my eie tall, dark and handsome-held.
Ruan: Ek is op die oomblik verlief op die Here en die lewe. Daar is geen vrou op die horison nie, maar ek het vele vroue in my lewe wat my op my tone hou!
Waarop is julle veral trots?
Franja en Ruan: Om ’n Du Plessis te wees!
Optredes: Melanie Biewenga by [email protected] of Leigh-Ann de Villiers by [email protected]