Die lewe is ’n toegif deur Franciske Venter. Foto’s verskaf. Hooffoto: Franciske en haar man, Fanie.
My ouma was ’n Dijkstra, my ma ’n Duminy en ek is ’n deurdrukker!
Die nag van 9 Maart 1982 het die dokters my ouers gewaarsku dat hierdie babatjie dit nie sou maak nie. Ek is te laat gebore en het ligte breinskade opgedoen.
Wel, hierdie babatjie het nie moed verloor nie, maar deurgedruk. Later het dokters CP by my gediagnoseer. CP staan vir cerebral palsy of serebrale gestremdheid. Dit het veroorsaak dat ek moeilik leer en ook moeilik loop. Ek moes verskeie operasies en intensiewe fisioterapie aan my bene ondergaan.
Gekruip het die uwe nie voor twee en ‘n half jaar nie, en my eerste stappie is eers baie later gegee. Fisio- en arbeidsterapie was my voorland, en stewige stewels om my dom voete te laat vasstaan.
Bekkig was ek beslis, maar lees en skryf het met moeite gekom. ’n Besonder spesiale juffrou, Bernice Kriek by Pretoria Skool, het met ekstra toewyding my minimale breindisfunksie oorbrug – met amanuense eksamens en veel geduld.
Leeswerk op kassette en huismense wat my moes help lees en skryf, het my deur graad tien gedra. Met besigheidsmatriek agter my naam moes ek die volgende hoë hekkie oorkom: ’n wielelisensie. Sewe paaltjies het gekantel, maar die agste bal het ek vir ’n ses geslaan – my eie, outomatiese wielelisensie na onafhanklikheid. Ek het gereeld getwyfel, moed opgegee, geappelleer, maar die Groot Bepaler van Tye en Geleenthede het telkens sy eie tyd met my gehad …
Die eerste sporttreë
Op ’n hoek in Kerkstraat in Pretoria-Wes het my nimmer-eindigende ma ’n sportsenstrum opgemerk. Ai, en was dit tog nie ’n missie om my te motiveer om tussen ouer en veel meer gestremde persone my sportdrome te begin uitleef nie! Geduldige oom Danny het my weekliks die kunsies van diskus, spiesgooi en gewigstoot geleer. Met weinig selfmotivering (want ek was maar ’n balhorige tiener) het ek in 1999 Gauteng-Noord kleure verwerf.
Natuurlik was daar nog geen krieketmoontlikhede nie, maar die drie velditems het my nogtans gedurende die volgende vyf jaar een goud, vier silwer- en vier bronsmedaljes op die SA’s vir gestremdes ryker gemaak.
Vêrsiende oom Danny het ook geglo dat ek kon hardloop (wel op my eie, unieke C5-klas manier). Huiwerig het ek daagliks op die plaaspad begin oefen, sonder afrigting of Nike-tekkies. Die 400 m het ek sowaar bo alle verwagtinge in 2003 gewen, met ’n silwermedalje. Daarna het ek spoed opgetel, en drie dubbelgoud medaljes en Suid-Afrikaanse rekords in 2004 en 2005 het my laat glo dat Danie Botha se “Wenners” vir elke persoon met ’n wil geskyf is!
Hansie Cronjé was in alle opsigte my rolmodel. In die Afrikaanse periode het ek ’n praatjie oor hom gelewer, op TV het ek hom gecheer, elke prent en artikel oor hom het ek gekoester. Al my drome het waar geword toe ek Hansie in 2002 op die SA’s in Kimberley ontmoet het: slegs drie maande voor sy vliegdood in die berge naby George.
’n Onprofessionele fototjie met my pa se mik-en-druk kamera saam met my held het die eerste bal geboul. Die Hansie-en-Franciske foto is deur ’n arrogante ek na ons alombekende gesinstydskrif se ‘Ek-en-’n-ster’ rubriek gestuur. Margot Luyt van RSG-faam was die regte persoon op die regte tyd, want sy het my Hansie-foto en krieketdrome raakgelees. Frans Cronjé het my toe Kaap toe genooi om deel te wees van die Beyond the Boundaries-projek vir die 2003 Wêreldbekerkrieket in S.A.
In die besef dat krieket vir fisiek gestremdes nie in my skoot sou val nie het ek met die hulp van groot genade, talle koerantbekendstellings en nagte se rondrol op 9 Augustus 2003 die Stand-Up Krieketklub laat “opstaan”. Dit het natuurlik spesiaal op ons Nasionale Vrouedag gebeur, omdat vroue dinge laat gebeur!
Stand-Up het met geloof en genade van agt spelers tot ’n formidabele 110 spelers gegroei. Spesiale reëls moes van Engeland verkry word en dié krieket het uiteindelik provinsiale status bereik. Alle fisiek gestremde persone is genooi om te probeer kolf vashou; selfs rolstoele neem al wielend deel, en die spel is aangepas vir spesifieke gebreke.
Gestremde sport het my geleer om alle mense te respekteer. Die ander atlete het my geïnspireer om met meer selfvertroue te lewe en te presteer, om te waardeer wat ek het, en dat om gestremd te wees eintlik ’n lewenskuns is wat net bemeester moet word.
Sedert 2017 word ek as ’n ekstra gebruik op stelle soos Binnelanders, 7de Laan en Getroud met rugby. Ek geniet dit baie om mense te ontmoet. Ek het tot al vir die Diva van drama raad gevra en Brümilda in lewende lywe by Binnelanders ontmoet.
My Ouma Liefie het my geleer dat ’n mens geloof in jou hart dra. Op haar sterfbed het sy gesê: “Die lewe is ’n toegif …”
Dit het my lewensleuse geword!
“The past may dictate who we are, but we get to determine that we become.”-Unknown
Vir nog inspirerende lewensverhale, lees hier