Framboosfluweelkoek met framboos-roomkaas-versiersel deur Vickie de Beer.
Bygestaan deur Martjie Malan Foto’s deur Lee Schwagele van www.crphotographic.co.za. Blomme deur Marida Steyn van Paradiso Flowers.
Framboosfluweelkoek met framboos-roomkaas-versiersel
Ingredients
- Genoeg vir 1 groot reghoekige koek
- • 300 g (2 k) koekmeel
- • 60 g (½ k) mielieblom
- • 10 ml (2 t) bakpoeier
- • 5 ml (1 t) sout
- • 250 g (1 k) botter, by kamertemperatuur
- • 400 g (2 k) suiker
- • 5 eiers
- • 300 ml karringmelk
- • 90 ml (6 e) frambooskonfyt
- • 3 druppels pienk voedselkleursel
- Framboos-roomkaasversiersel
- • 125 g (½ k) botter, by kamertemperatuur
- • 460 g (sowat 2 k) roomkaas, by kamertemperatuur
- • 390 g (3 k) versiersuiker
- • 100 g (½ k) vars frambose
- Versiering
- • 4-5 makrolletjies (macaroons), klein meringue-soentjies en vars blomme soos rose en jasmyn.
Instructions
1 Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Spuit ’n 25 cm x 25 cm-koekpan deeglik met kleefwerende kossproei, of smeer dit goed met botter en voer die pan met bakpapier uit.
2 Sif al die droë bestanddele in ’n groot mengbak en roer met ’n draadklitser sodat dit goed gemeng is.
3 Gebruik ’n elektriese staanmenger met die ballonklitser aangeheg. Verroom die botter tot sag. Gooi die suiker geleidelik by en meng met ’n matige spoed. Verroom dit dan baie goed met ’n hoë spoed tot lig en donsig. Voeg die eiers een vir een by en skraap die kante van die mengbak af indien nodig.
4 Sif ’n derde van die droë bestanddele by die eiermengsel in en meng met ’n stadige spoed. Voeg die karringmelk en kleursel in 2 dele by en wissel dit af met die meelmengsel, meng goed. Gooi die beslag in die koekpan.
5 Drup eetlepels vol frambooskonfyt in die beslag en meng versigtig deur sodat dit strepe maak.
6 Bak die koeke vir 45-60 min. of tot ’n toetspen skoon uitkom. Haal uit en laat vir ’n paar minute in die koekpanne afkoel voor jy hulle op ’n draadrakkie uitkeer. Sny die koek in die helfte deur om reghoeke te maak. Sny die koek met ’n koeksnyer in 4 gelyke lae.
Framboos-roomkaasversiersel
1 Verroom die botter en roomkaas vir 1-2 min. in ’n elektriese menger. Voeg die frambose by en klop tot die frambose begin opbreek. Voeg die versiersuiker geleidelik by en meng net tot alles goed deurgemeng is.
2 Smeer die versiersel tussen elke laag en ook netjies aan die kante. Rangskik die blomme en makrolletjies bo-op en aan die kante van die koek.