Forelle-pere met hul rooi wange en die beeldskone rooi pere is so mooi dat ek hulle as tafelrangskikkings gebruik. Pere is veelsydig en ewe lekker in soet en sout geregte. Die drie gewildste variëteite hier by ons is Packham’s Triumph, forelle en Beurre Bosc.
- Pere se klassieke pasmaats is okkerneute, amandels en varkvleis, en hulle speel ook lekker met kaneel, gemmer, sjokolade en enige verouderde kaas soos parmesaan of gorgonzola.
- In resepte kan jy appels deur pere vervang. Laat net ruimte vir die peer se effens sagter tekstuur.
- Gebruik dit vir terte soos die klassieke tarte tatin. Die botterkaramel-en-peer-kombinasie is hemels.
- Dis ook perfek vir die maak van blatjang vanweë die hoë pektieninhoud. Sit voor met wildsvleis.
- Rol peerwiggies toe in parmaham en sit op ’n kaasbord.
- Behalwe vir hul lekkerte, hou pere ook baie gesondheidsvoordele in. Dis ’n goeie bron van vesel, yster, vitamien A, die B-vitamiene, vitamien C en foliensuur. Dis veilig vir kinders of mense met allergieë.