Foto’s: Verskaf/kykNET
Kykers maak vanaf Donderdag 27 Maart kennis met ’n nuwe karakter in kykNET (DStv-kanaal 144) se telenovela, Diepe Waters. Bianca Bester maak haar onverwagse verskyning as Fourie (David Louw) se eks-vrou en haar teenwoordigheid gaan die poppe behoorlik laat dans.
Die rol van Bianca Bester word vertolk deur Natasja Jacobs, wat kykers sal onthou as Amanda in Getroud met Rugby. Oor haar karakter sê sy: “Bianca is ’n enigma. Niemand gaan haar kan vergeet nie, en die wêreld gaan nooit weer dieselfde wees nie. Goed of sleg, nadat Bianca deur jou lewe geloop het, weet jy sy was daar.”
Bianca is ‘n vrou wat niemand sommer sal vergeet nie. Sy is aantreklik, slim en suksesvol in haar eie juweliersbesigheid. Maar agter haar bekoorlike glimlag skuil ‘n verlede wat sy vir altyd probeer begrawe het.
Hoewel haar seun, Juvan (Christiaan Ackerman), bly is om haar te sien, wek haar verskyning alles behalwe vreugdevolle emosies by Fourie en haar voormalige skoonpa, Nelius (Jürgen Hellberg) op.
Fourie se hart is jare gelede gebreek toe Bianca hom en hul seun sonder enige verduideliking verlaat het. Nou is sy terug. Vir Juvan… of dalk vir meer? Die verlede loer om elke hoek en draai, en ou geheime weier om begrawe te bly.
“Bianca is nie daarop uit om enigiemand seer te maak nie. Kom ons sê maar net, daar is ’n paar mense wat lig moet loop. Sy mag dalk net weet waar hulle hul geraamtes begrawe het,” sê Jacobs oor die kinkels wat kykers kan verwag.
As sy haar karakter in een sin moet beskryf, sê Jacobs: “Bianca is daai dinamiese, komplekse, lewenslustige vrou wat jou beste vriend kan wees, maar daar is ’n donker kant wat jy definitief wil vermy.”
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met Beer Adriaanse oor Niggies en sy intensste rol nóg
Wat bring Bianca werklik terug? Is dit bloot ‘n ma wat haar verhouding met haar seun wil herstel, of skuil daar iets donkerder agter haar terugkeer? Kykers gaan moet inskakel om die antwoorde te kry, maar een ding is seker – waar Bianca loop, gaan dinge nooit weer dieselfde wees nie!
Diepe Waters word Maandae tot Donderdag 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: Verlief en verloof! Hierdie bekendes is op pad kansel toe