Niks is romantieser as om ‘n silwer hartjie om jou nek te dra met foto’tjies van jou en jou geliefde nie, het ek as tiener geglo. As jy jouself wou opkikker, kon jy die hangertjie daar en dan oopmaak en ‘n bietjie dagdroom. En kom jy in ‘n ongeluk om, sou die omstanders dadelik weet jy “behoort” aan iemand. Dit sou die regte soort tragiek aan die aangrypende gebeure verleen.
Vandag is verliefdes steeds behep met foto’s. En daar is soveel meer van die goed. (Foto’s, meen ek.)
Om ‘n kykie te kry in die lewe van iemand wat haar hart vinniger laat klop, is ‘n hoërskoolmeisie nie meer afhanklik van skelm kykies na foto’s in die jaarblad nie. Met ‘n paar klieke besoek sy die hartebreker se Facebook-blad – of dié van sy pelle – vir ‘n uitgebreide fotoverslag van sy kom en gaan.
Toe fotografie nog in sy kinderskoene was, was dit ‘n heel ander storie. Een van die baanbrekers wat dié kuns ernstig opgeneem het, was die Britse wiskundige Charles Dodgson (1832-1898). Hy was beter bekend as Lewis Carroll, skrywer van Alice’s Adventures in Wonderland en Through the Looking-Glass.
Die eksentrieke Charles, wat nadoods van allerhande dinge verdink is omdat hy graag (onder andere) dogtertjies afgeneem het, het begryp dat ‘n foto-oomblik omsigtig benader moes word. Die foto’s wat hy geneem het, is stemmingsvol en verbeeldingryk. Hy het waarskynlik verstaan wat ene Diane Arbus bedoel het toe sy geskryf het: A photograph is a secret about a secret. The more it tells you, the less you know.
Of dit waar is, weet ek nie. Versluier ‘n foto geheime?
Miskien hang dit af van die een wat kyk. Die meisie wat haar hangertjie oopmaak om sag aan die beeld van haar geliefde te raak, is reeds in Wonderland. Mag sy slim genoeg wees om dag vir dag met wakker oë na die foto én die man te kyk. Dalk, net miskien, sien sy helder genoeg om ’n gedeelde wêreld anderkant "the Looking-Glass" te ontdek.
Meer foto’s van Charles Dodgson te sien by www.amadelio.org/volumes_entries/fine_art_directory/lewis_carroll_fine_art1.html