Foto’s en teks: Anet Schoeman. Hooffoto: pixabay
Is jy die een wat altyd afhop as daar ’n skielik skerp opdraand is? Of gefrustreerd wonder hoekom die ander ’n lang steil opdraand so maklik regkry en jy misluk elke keer?
Dis frustrerend as jy fiks en sterk is, maar steeds tydens ’n wedren hope tyd verspil omdat jy nie tegniese opdraande kan baasraak nie. Dit mors tyd en maak die spannetjie, wat agter jou ook noodgedwonge van hul fietse moet spring, die josie in. As jy die Wines2Whales bergfietswedren in Oktober/November gaan doen is dit beslis ’n handige vaardigheid om vroegtydig onder die knie te kry.
Hier is ’n paar wenke wat jou sommer baie ammunisie gaan gee as jy weer in dié posisie is. Marc Fourie is ’n bergfietsafrigter by die PwC Bike Park in Bryanston en verduidelik dat jy met die regte pyle in jou koker enige tegniese opdraand kan baasraak.
Lees ook: Die geheim agter bergfietssukses
Wenke
- Kyk voorentoe en kies jou lyn sorgvuldig
- Bly sit in die saal. As jy opstaan verminder jy die afwaartse druk op die agterwiel en dus verloor jy traksie.
- Skuif jou gewig vorentoe sodat jy op die voorpunt van die saal sit.
- Laat sak jou bors nader aan jou handvatsels
- Vou jou elmboë in sodat dit teen jou lyf sit om die afwaartse druk op die voorwiel te behou. So bly jy in beheer om die fiets beter te stuur.
- Hou jou liggaamsgewig gesentreer tussen die twee wiele.
- Maak klein aanpassings deur jou gewig effens vorentoe en agtertoe te skuif sodat jy die hele tyd traksie op beide wiele behou. As jou voorwiel lig terwyl jy klim; laat sak jou bors en skuif jou heupe vorentoe. As die agterwiel traksie verloor; skuif jou heupe agtertoe, maar hou jou bors steeds laag.
- Hou aan met trap. As jy trap het jy beter balans. Moenie ophou nie.
Kontak Marc Fourie by die PwC Bike Park by [email protected] om ’n vaardigheidsles te bespreek.
Lees ook: Die Telkom 947 word op sy kop gekeer