kategorieë: InspirasieJou lewe

Femme Fantasties: Angeli Marais is ʼn gebore entrepreneur

Deur Rentia Mynhardt. Foto: Verskaf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Angeli Marais is ʼn gebore entrepreneur wat op tienjarige ouderdom haar eerste onderneming begin het. Dis waarskynlik die feit dat sy eers op driejarige ouderdom hare op haar kop begin kry het, wat haar liefde en belangstelling vir hare geprikkel het; ʼn liefde wat baie jare daarna tot groot sukses sou lei.

Dit is heeltemal normaal vir dogtertjies om met Barbie-poppe te speel, maar Angeli het veel meer met hulle gedoen as net mooi aangetrek. Hulle was haar eerste amptelike kliënte wat gewillig stil gesit het terwyl hul hare gedoen word. As kind moes Angeli se ma gedurig na haar nuwe besigheidsidees luister, wat sy dan ook kort daarna laat realiseer het. Tydens haar brugjaar ná matriek het Angeli ʼn modelagentskap vir dogters tussen vyf en 15 –  Flawless South Africa – op die been gebring, wat sedertdien tot een van die land se grootste modelplatforms van sy soort gegroei het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dit was aanvanklik die regsfakulteit by Tuks wat Angeli, een van ʼn tweeling, na afloop van haar brugjaar nadergewink het, maar die entrepreneur in haar het die oorhand gekry en sy het uiteindelik haar graad in aanbodkettingbestuur voltooi, ʼn besluit waaroor Angeli veral deesdae dankbaar is, omdat sy dít wat sy studeer het daagliks in haar onderneming toepas.

“Ná my studies het ek op ʼn internasionale produk afgekom wat later gepatenteer is. Ek het ʼn alternatief vir menshare uitgerol en Novella and Co. in 2022 aanlyn begin. ʼn Jaar later het ek beleggers gevind wat in die onderneming belê het en kon ek uiteindelik die gekonsolideerde skoonheidsateljee waaroor ek gedroom het in Pretoria oopmaak.”

Angeli vertel hoe sy na ’n naam vir haar onderneming gesoek het wat luuksheid moes weerspieël, maar ook die toets van tyd kon deurstaan. “Novella” beteken “nuut” of “storie”. “Dit was die perfekte naam waarna ek gesoek het.”

Sy het ʼn geleentheid in die mark gesien nadat sy self by verskeie salonne hare gedoen en as ambassadeur opgetree het. “Ek het gefrustreerd met die bedryf geraak omdat ek kon sien dat ons nie op internasionale standaard is nie. Ek wou nog altyd my belangstelling en liefde vir skoonheid met akademie verweef. Die skoonheidsateljee gee my die geleentheid om dit te doen.”

Stringe hare word uit die westelike dele van Europa ingevoer. Elke string hare, wat minstens 30 keer gewas word, word eers getoets en word gesorteer volgens die kleur van die ondertoon om te bepaal of die hare blond gekleur kan word al dan nie. “Novella and Co. bring wetenskaplike innovasie met ’n kunstige visie byeen om produkte van hoë gehalte te verseker.” Wanneer die hare uiteindelik vele toetse deurstaan het, word dit in verskillende lengtes en kleure omskep wat die perfekte natuurlike kersie op talle kroontjies sit.

Haar kliënte, waaronder talle bekende name soos Rolene Strauss en Aletté Winckler, word in groot luuksheid spesiaal laat voel, of hulle hul hare of naels doen, haarverlengstukke of wimpers kry, grimeer of masseer word, of selfs verslankingsbehandelings kry – hulle keer terug om weer hierdie ervaring uit ʼn Eerstewêreldland te kom ervaar.

“Ons kliënte ontvang waarde vir hul geld en dis bekostigbaar om alles onder een dak laat doen,” verduidelik Angeli, terwyl sy trots na die unieke ligte, kandelare, houtpanele, fluweelafwerkings en Hollywood-spieëls kyk wat elke kliënt byna adellik kan laat voel. “Ons ateljee is regtig klassiek en enig in sy soort, met ʼn baie besonderse span mense wie se briljante werk lojaliteit by kliënte kweek.”

Angeli sien haar grootste mylpaal as die dag toe haar sake-idee ’n tasbare werklikheid geword het. Sy en Lysle Turner, haar sakevennoot en liefde van haar lewe die afgelope ses jaar lank, het die projek om hierdie vlagskipwinkel die lig te laat sien self behartig.

“Elke liewe detail in hierdie skoonheidsateljee het ’n laat nag wat daaragter skuil. Dit maak die eindresultaat soveel meer bevredigend as jy sien hoe jou harde werk in iets omgeskakel word wat ander kan geniet.”

Behalwe dat sy daarna mik om Novella and Co die “Louis Vuitton” van die skoonheidsbedryf te maak, is haar droom dat haar onderneming en dienste op ’n internasionale platform erken sal word. “Ek wil mense beter af laat wees as vantevore en wil graag iets bou wat aan die volgende generasie oorgedra kan word en moontlik werkloosheid kan verminder.”

Hierdie pragtige, blonde entrepreneur is stadig, maar seker besig om uitdrukking aan hierdie visie te gee, onder meer met die oprigting van die “Femme Tank”, ʼn platform vir vroue met sake-idees en -drome. “Femme Tank maak dit moontlik vir vroue om onder mekaar te netwerk en jou bestie in business te vind.”

Die platform bied ʼn diens aan vroue waar hulle toegang tot beleggers kry wat moontlik in hul besigheidsidees kan belangstel. Daar word ook opleiding deur ʼn span gegee wat op besigheidsontwikkeling fokus. “Femme Tank neem ʼn besigheid van ʼn idee na ʼn werklikheid.”

Volgens Angeli is daar iets unieks aan vroue se ervaring van die lewe en is sy oortuig dat hoe meer selfvertroue vroue in die besigheidswêreld kry, hoe meer vroue daar in senior posisies aangestel sal word. “Vroue het toegang tot ondersteuning, opleiding en hulpbronne nodig en die noodsaaklikheid om te netwerk speel ʼn groot rol hierin. Ons skep by Femme Tank ʼn wêreldwye susterskap waar vroue binne ’n veilige en kreatiewe ruimte kan netwerk sodat hulle die gereedskap kan kry wat nodig is om sukses te bereik.”

Sy glo dat geslagsgelykheid ʼn nuwe aanslag, nuwe produkte en nuwe dienste sal meebring, en om vroue met vaardighede toe te rus, gee aan hulle ’n stem en selfvertroue om dit te kan bereik. “Vroue moet aangemoedig word om hul stemme te laat hoor sodat sosiale norme kan verander en skadelike stereotipes afgebreek kan word. Vandag se pioniers vorm môre se geleenthede wat tot voordeel van ander is.”

Dit eindig nie daar nie. Daar is selfs franchise-geleenthede beskikbaar, sou jy ook ʼn geleentheid soek om jou liefde vir skoonheid na ʼn volgende vlak te neem. Hoewel Angeli voel dat entrepreneurskap uitdagend is, voel sy ook dat dit van jouself afhang hoe jy kies om dit te hanteer.

Haar onderneming word digitaal bemark, maar sy erken ook dat mondelinge kommunikasie geweldig belangrik is. “Word of mouth is een van die belangrikste maniere hoe jou onderneming se beeld versprei word. Jy moet sorg dat die gehalte van die produk en diens wat jy lewer iets is waaroor mense wil praat.”

Wanneer jy met mense werk, kan jy beslis weet dat almal een of ander tyd met mekaar gaan verskil of ontevrede gaan wees. Angeli gebruik die woorde van Bill Gates as riglyn om dit te hanteer:

  • Bly kalm, ongeag hoe ontsteld jou kliënt raak.
  • Luister en wees empaties teenoor jou kliënt en hul bekommernisse.
  • Gee ʼn vinnige antwoord.
  • Vind uit wat gebeur het.
  • Bied ʼn oplossing.
  • Sny jou verliese.
  • Skep ʼn konflikoplossingsplan.
  • Leer daaruit!

En léér, leer sy beslis graag! Wanneer sy nie oplossings vir uitdagings binne die sakewêreld kan vind nie, doen sy graag navorsing oor spesifieke mentors wat vir hul oplossings en uithouvermoë bekend is. Sy sien haar eie ma ook as een van haar mentors, wat nie net ʼn sakevrou is nie, maar ook al ʼn hartstilstand oorwin het. Dit is duidelik waar Angeli se veggees vandaan kom!

Verder toer sy graag deur Londen, en gee sy haar gewillig oor aan Indiese kos. “Ek kan net nie genoeg daarvan kry nie. Net soos die winter – ek is mal daaroor!” Sy hou nie net daarvan om mense goed te laat voel oor hul uiterlike nie, maar hul innerlike ook, want enigiemand wat al iets uit Angeli se kombuis geëet het, sien haar as ʼn bobaaskok!

By die huis is sy en Lysle groot hondeliefhebbers, en sy beskryf haarself as ʼn regte “hondema”. “Ons Liver nose Rhodesian Ridgeback en drie Hongaarse Vizslas is ons alles.”

Dit is duidelik dat Angeli hier is om die wêreld ten goede te verander en dat sy ook vroue wil bemagtig om dieselfde te doen. Haar selfvertroue straal uit haar uit en sy kyk die lewe met sy uitdagings vierkantig in die oë. Sy droom groot en gaan in alle waarskynlikheid hierdie drome binnekort ʼn werklikheid maak.

Toe sy jare gelede met haar Barbie-poppe “besigheid” gedoen het, en haar brownie-mengsels reeds as klein dogtertjie regdeur die land versprei het, moes die wêreld al gesien het dat hier iets groots aan die kom is wat absoluut tot voordeel van die ekonomie in die algemeen sal wees.

Wanneer Angeli Marais nou sê dat sy nie sal omgee om eendag die Forbes 30 Under 30-lys te haal nie, kan jy nie help om te dink dat dit dalk nie so onwaarskynlik is nie.

Kyk saam met ons:

rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.

Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.

Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.     Lees ook: 10 redes waarom jy die Augustus-uitgawe van rooi rose móét lees!

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

10 redes waarom jy die September-uitgawe van rooi rose móét lees!

  Melinda hou aan groei    Die aktrise Melinda Viljoen het die afgelope paar…

1 day Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Jacques Bessenger oor ‘Een keer om die son’ se lesse

Jacques Bessenger is vanjaar as beste manlike byspeler in ’n TV-drama (vir Hartklop) en beste…

1 day Gelede

Waarom dit nodig is om saam met ‘n werwingsagentskap in Suid-Afrika te werk vir besigheidsgroei

In die hedendaagse vinnig veranderende sakewêreld, staan Suid-Afrikaanse maatskappye voor toenemende druk om mededingend, buigsaam…

2 days Gelede

‘Diepe waters’ se Gys en Zelda: Ou liefde roes nie

Gys “Ek wil by jou wees, maar ons moet mekaar vergewe vir die verlede. Kom…

2 days Gelede

Die beste gebraaide broodjies denkbaar!

Jy het brooddeeg vir die resep nodig, maar as dit tyd knap is, kan jy…

2 days Gelede

Gluten- en eiervrye sjokoladekoekies

Bestanddele   125 ml (½ k) sagte botter 125 ml (½ k) suiker 110 ml…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.