Die toneel wat nie vergeet word nie: Anita Ekberg met ’n sensuele boesem in ’n laaggesnyde swart aand-rok in die water van die Trevi-fontein in Rome. Sy roep verleidelik “Marcello, Marcello” na haar metgesel. Dié toneel uit Federico Fellini se La Dolce Vita (Die goeie lewe) het van die blonde sterretjie Anita Ekberg ’n sekssimbool in die oortreffende trap gemaak.
Dié beroemde Italiaanse rolprentregisseur het dolverlief geklink toe hy oor die ster gesê het: “Sy het die skoonheid van ’n jong godin. Die gloeiende kleur van haar vel, die helder ysblou oë, die goue hare en die lewenslus maak van haar ’n ‘grandiose’ buite-aardse wese, maar terselfdertyd hartroerend en verleidelik.”
Moeilik om te weet of Fellini ernstig was en of hy so ’n bietjie gekgeskeer het met Hollywood se beheptheid met sekssimbole. Mooi vroue het Fellini bekoor, maar terselfdertyd was hy glo baie bang vir hulle. Een van die joernaliste op die stel van La Dolce het later vertel dat Anita bang was dat hy met haar die draak steek. Toe sy ontsteld aanhou met dié storie, het Fellini geantwoord: “Maar Anitona, hoe kan ek? Jy is veronderstel om Ava Gardner te wees.”
Jare later, in 2005, het Ekberg oor die Sweedse radio vertel dat die Trevi-toneel in ’n koue Europese Februarie verfilm is toe die water naby vriespunt was. “Ek het byna gevries. Hulle moes my uit die water trek omdat ek nie meer my bene kon voel nie.”
Anita het die rol gespeel van ’n model wat deur die paparazzi agtervolg word. Vir Marcello is sy ’n droomvrou wat altyd buite sy bereik bly.
Fellini was moontlik so gefassineer deur die Sweed dat hy haar rolle in drie ander rolprente gegee het. En toe sy ouer was en tot met haar dood in 2014 het sy in Italië gewoon.
Anita word nou vir min anders as haar droomoptrede in La Dolce Vita onthou – dalk omdat sy so bekoorlik was en mans om haar pinkie gedraai het; dalk omdat Hollywood nie die regte rolle vir haar gehad het nie; miskien omdat sy nie haar talent ernstig opgeneem het nie.
Ekberg is op 29 September 1931 in die Sweedse stad Malmö gebore, die sesde van agt kinders. In haar tienerjare het sy as model gewerk. Haar ma het haar aangemoedig om vir die Mejuffrou Malmö-kompetisie in te skryf, wat gelei het na die Mejuffrou Swede-kompetisie, wat sy gewen het, en toe is sy Amerika toe om vir Mej. Heelal te probeer. Hoewel sy nie gewen het nie, het sy ’n kontrak by Universal Studios losgeslaan, al kon sy baie min Engels praat.
By Universal het sy lesse in drama, elokusie, dans, perdry en skerm ontvang. Anita het haar dramalesse nie getrou bygewoon nie en eerder in die Hollywoodse heuwels gaan perdry. Sy het later gesê die ateljeestelsel het haar bederf en sy het nie werklik hard probeer om vir haar ’n loopbaan uit te kerf nie. Desondanks het sy in 1953 klein rolletjies in Abbott and Costello go to Mars en The Golden Blade vertolk.
Die kombinasie van Anita se wellustige uiterlike en haar kleurryke private lewe (soos stories oor verhoudings met Frank Sinatra, Yul Brynner, Errol Flynn, Rod Taylor en Tyrone Power) het haar baie publisiteit by skindertydskrifte soos Gossip en manstydskrifte soos Playboy besorg. Sy was dus nog feitlik voordat sy ’n noemenswaardige rol in ’n prent gehad het, reeds ’n prikkelpop van die vyftigerjare. Sy het ook deelgeneem aan publisiteitsfoefies soos om met ’n fotograaf af te spreek om ’n foto te neem van die voorval toe haar rok in die voorportaal van die Londense Berkeley-hotel by haar borste oopgebars het.
Teen die middel van die jare vyftig, en ná heelwat modelwerk, het die vermaaklikheidswêreld uiteindelik van Anita kennis geneem. Sy was ’n gasster in die TV-vervolgreeks Casablanca (1955) en het ’n rolletjie in Blood Alley gespeel. Vir dié rolprent het sy ’n Golden Globe-toekenning as belowendste nuweling ontvang. Sy het ook in twee prente vir Paramount Pictures gespeel: In die komedie Artists and Models saam met Dean Martin en Jerry Lewis en in die satiriese Hollywood and Bust. Frank Tashlin, die regisseur van laasgenoemde prent, het reggekry wat Fellini later ook sou doen: om die Sweedse ster in ’n erotiese satire te gebruik. Sy was in dié stadium bekend as Paramount se Marilyn Monroe.
’n Ander belangrike gebeurtenis in Anita Ekberg se lewe was toe sy in Valerie teenoor Anthony Steel, een van Brittanje se grootste rolprentsterre in die jare vyftig, gespeel het. Hulle is in 1956 getroud.
Volgens die Britse dagblad The Guardian het dié huwelik Steel se loopbaan kortgeknip, want hy is agter Anita aan Hollywood toe. Daar het hy gesukkel om werk te kry en die poniekoerante het na hom as “Meneer Ekberg” verwys. Die stormagtige huwelik is ná drie jaar beëindig. Een van hul openbare “gevegte” het plaasgevind terwyl die paparazzi hulle in Rome agtervolg het. Die rusie het glo sommige tonele in La Dolce Vita geïnspireer, want ’n jaar later (in 1960) het Fellini haar haar bekendste rol gegee, dié van Sylvia Rank in La Dolce Vita. Sy was die onbereikbare droomvrou van die karakter Marcello Rubini, wat deur Marcello Mastroianni vertolk is.
Twee jaar later het sy weer vir Fellini gespeel – dié keer in die omnibusprent Boccaccio 70 in die deel “Le Tentazioni del Dottor Antonio”. (Die versoeking van dokter Antonio). Dokter Antonio was geïrriteerd met die morele verval in sy dorp en protesteer teen die suggestiewe, wulpse model in die drink-meer-melk-advertensie op ’n reklamebord naby sy woonplek. Die reusemodel (Anita Ekberg) klim van die reklamebord af en agtervolg hom.
Daarna het Fellini haar nog twee keer gevra om in sy flieks te speel.
Anita het dikwels haar mond verby gepraat in onderhoude, soos om beroemde mense “van wie sy niks hou nie” se name te noem. Sy is ook meer as een keer aangehaal dat Fellini sy sukses aan haar te danke het, eerder as andersom. Dalk het sy ’n (flou) grappie gemaak, of anders is sy ’n bietjie dom, want hy word allerweë as een van die belangrikste rolprentmakers van die twintigste eeu beskou.
Die Sweedse seksbom is vir ’n tweede keer getroud, dié keer met die Amerikaanse akteur Rik van Nutter. As sy naam dalk onbekend klink – Rik het in heelwat onbelangrike rolprente gespeel. Hulle was van 1963 tot 1975 getroud. In een onderhoud het Anita gesê sy is jammer dat hulle nie kinders gehad het nie, maar in baie ander onderhoude het sy beweer dat sy nooit kinders wou hê nie. Sy en Rik het in Spanje en Switserland gebly, waar hulle ’n skeepsonderneming begin het.
Hoewel sy meer as vyftig prente oor vyf dekades gemaak het, het Anita se loopbaan teen die laat sewentigerjare nie meer fut gehad nie.
Sy het sedert die vroeë vyftigerjare nie in Swede gewoon nie en het haar geboorteland selde besoek. Maar sy het wel Sweedse joernaliste in haar huis in Italië verwelkom.
In Desember 2011 het Italiaanse koerante berig dat die tagtig-jarige Anita Ekberg behoeftig was nadat sy meer as drie maande met ’n gebreekte dybeen in ’n hospitaal in Rimini, Federico Fellini se tuisdorp, gelê het. In dié tyd is daar by haar huis ingebreek en byna al haar meubels en juwele is gesteel. ’n Deel van die huis is ook in ’n brand beskadig. Anita, in ’n rolstoel, het by die Fellini-stigting om hulp aangeklop, maar dié stigting het destyd ook reeds finansiële probleme gehad.
Sy is op 83 in armoede oorlede. Haar begrafnisdiens is in die Lutherse-Evangeliese Christuskerk in Rome gehou, waarna sy veras is en haar oorskot is in die begraafplaas van die Skanörkerk in Swede begrawe.
Die Italiaanse reaksie
La Dolce Vita het in 1960 in Italië alle vorige kaartjieverkope verbygesteek. Die kaartjies is op die swartmark teen fenomenale pryse verkoop en mense het ure lank in toue gestaan om die “immorele prent” te sien voordat die sensors dit verban. By ’n eksklusiewe Milaanse vertoning het ’n woedende fliekganger op Fellini gespuug, en ander het beledigings na hom geslinger. Regses het die prent in die parlement verguis. Die Vatikaan se amptelike blad, L’Osservatore Romano, het voorspraak vir sensuur gemaak. Toe die prent die Palme d’Or in Cannes wen, het die feesskare die hoofbeoordelaar, die Belgiese skrywer Georges Simenon, uitgejou. Nou word die fliek wêreldwyd deur studente in die rolprentkuns bestudeer.
Federico Fellini
Die beroemde Italiaanse regisseur word as een van die beste en invloedrykste rolprentmakers van die twintigste eeu beskou. Van sy rolprente, sê Cahiers du Cinéma en Sight and Sound, is van die beste rolprente wat tot nog toe gemaak is. Sy loopbaan het oor vyftig jaar gestrek en hy het onder meer toekennings in Italië, Frankryk, Brittanje en Amerika gewen en hy is ook vir twaalf Oscars benoem. Vier van sy prente het Oscars vir “die beste buitelandse prent” gewen en ’n Oscar vir “Lewenslange Prestasie” is by die 65ste jaarlikse Akademietoekennings in Los Angeles aan hom oorhandig.
Mastroianni oor Anita
Anita se medester in La Dolce Vita was aanvanklik glad nie beïndruk deur haar nie. “Sy laat my dink aan ’n Duitse soldaat wat my na ’n vragmotor aankeer,” het hy volgens The Guardian gesê. Maar ná ’n week waarin sy in die koue in die fontein moes staan en daarna haar rok in die son moes laat droogword, het hy vir haar respek, selfs toegeneentheid, gehad.
Sekssimbole in rolprente
Sedert die veertigerjare het verleidelike vroue (en mans) as sekssimbole bekend geword. (Dit het niks met talent te doen nie, hoewel sommige sekssimbole soos Elizabeth Taylor, Jane Fonda en Sophia Loren ook toneel kon speel.) Vroulike sekssimbole van die jare vyftig en sestig was onder andere Marilyn Monroe, Ann-Margret, Brigitte Bardot, Raquel Welch, Jayne Mansfield, Catherine Deneuve en Anita Ekberg. Manlike sekssimbole in dié tyd was sterre soos Elvis Presley, James Dean en Paul Newman.
Hierdie artikel het oorspronklik in die Februarie 2016-uitgawe van rooi rose verskyn.