Deur Anne Marais
In die immergewilde Friends wat tot ʼn paar jaar gelede uitgesaai is, het die karakters tot ʼn vriendekring behoort wat soos familie is. Deesdae vind al meer mense hul “familie” onder vriende en familievervreemding is besig om toe te neem.
Volgens Tarien Roux, ’n lewensafrigter, behels familievervreemding om tydelik of permanent kontak met familie te verbreek.
“Dit kan geleidelik of skielik gebeur. Dit is gewoonlik die resultaat van onopgeloste langtermyn- kwessies.”
Simone Vink, ’n kliniese sielkundige, voeg by dat dit ook net kan behels om minder tyd saam met familie deur te bring. “Dit behels om jouself fisiek, sowel as emosioneel, van jou familie te distansieer.”
Mariette Joubert, ’n maatskaplike werker, sê party individue sal net sekere lede van hul familie verwerp en wel kontak met ʼn ander deel van die familie maak.
Hoekom gebeur dit?
Tarien sê daar is gewoonlik ses hoofredes. “Dit sluit in mishandeling of verwaarlosing, die begunstiging van sekere kinders bo ander en onderlinge wedywering tussen sibbe. Egskeiding kan ook daartoe lei dat een ouer van kinders vervreem. Konflik rondom geld soos ʼn gebrek aan ondersteuning of selfs geldelike uitbuiting is ʼn ander rede. Nog iets wat kan lei tot vervreemding is verskille rondom waardes en lewenstyl, veral verskille rondom politiek, godsdiens, seksuele oriëntasie, beroepskeuses en keuses van huweliksmaats.
“Versuim om aan sekere verwagtinge te voldoen speel ook ʼn rol. ʼn Verdere bydraende faktor is ongediagnoseerde geestesversteurings.”
Simone voeg by dat wanneer familielede mekaar nie aanvaar nie en die familie-eenheid nie meer ʼn veilige ruimte is nie of wanneer iemand aan ʼn narsistiese persoonlikheidversteuring lei, dit ook probleme kan veroorsaak.
“Persoonlikheidsbotsings en onopgeloste misverstande is ʼn verdere rede,” noem sy.
Mariette sê daar is verskeie redes hoekom individue hulle van hul families afsny. “Dit sluit in trauma soos mishandeling en kulturele verskille. Wanneer ʼn ouer weer trou, kan die familie of kinders uit vorige verhoudings dalk nie die nuwe lewensmaat goedkeur nie en bande met die ouer breek. Tydens egskeiding kan een ouer die kind dalk negatief teen die ander ouer beïnvloed. Sommige families het weer ʼn familielid wat die familie bymekaar hou en geleenthede vir kontak skep. As daardie persoon afsterwe, raak die kontak soms geleidelik minder totdat daar geen kontak meer is nie. Baie familie is ook al as gevolg van hul ouers se testament van mekaar vervreem. Wanneer die kinders nie erf wat hulle gevoel het hulle toekom nie, kan familiekonflik ontstaan. Sommige familielede mag immigreer. Soos wat hulle nuwe vriende maak en deel van ʼn gemeenskap word, begin hulle al minder kontak met hul familie hou. Mettertyd vervaag die kommunikasie en word die kontak verbreek.”
Lees ook: 5 dinge wat niemand jou vertel voor jy trou nie
Hoekom is dit soms nodig?
Tarien sê familievervreemding neem toe wanneer mense konstant afgebreek word of verskille nie gerespekteer word nie, en dit kan dit mense se lewensgehalte en innerlike vrede negatief beïnvloed. Volgens Simone is familievervreemding soms noodsaaklik omdat die familie nie langer ʼn veilige ruimte is nie en die situasie ongesond is, veral wanneer daar gepoog is om te versoen en dit nie gewerk het nie. Mariette voeg by dat sommige families toksies is, wat die individue se geestesgesondheid negatief beïnvloed. “Sommige mense wat persoonlikheidsversteurings soos grenspersoonlikheidsversteuring, gedragsversteuring of narsissistiese persoonliheidversteuring het, kan nie verander nie. As ʼn persoon in so ’n verhouding bly, kan dit veroorsaak dat die persoon aan mishandeling blootgestel bly. Die individue se geestesgesondheid word negatief beïnvloed en dit kan selfs tot selfdood of ʼn gesinsmoord lei.”
Ester de Beer, ’n kliniese sielkundige, sê familievervreemding is noodsaaklik wanneer chroniese fisieke of verbale mishandeling tussen familielede voorkom. “Wanneer emosionele manipulasie voorkom of iemand nie ʼn familielid se grense respekteer nie, kan dit ook nodig wees om kommunikasie op sosiale media te blok.”
Kenmerke en uitdagings
Mariette sê individue praat tipies nie oor hul familie nie. “Hulle sal soms sê dat hulle hul families afgeskryf het. Die individue sal soms baie woede en aggressie weerspieël teenoor die familie wat vervreem is en sal ook hartseer, rou en verlies ervaar. Individue kan ook sukkel om op die duur positiewe verhoudings te bou.”
Simone sê tipiese uitdagings is dat mense in wese sosiaal is. “Vervreemding kan daartoe lei dat mense isolasie en vereensaming beleef. Hulle kan selfs van hulself vervreem raak en dit is uiters ongesond.” Mariette voeg by dat omdat die individu nooit ʼn hegte band met hul familie gevorm het nie, kan dit verhoudingsprobleme in die toekoms veroorsaak. “Die individue kan sukkel met ʼn lae selfbeeld, woede-uitbarstings, depressie en swak geestesgesondheid. Individue kan hulle fisies afsny van familie, maar die emosionele band sal altyd daar wees. Dit veroorsaak baie geestesgesondheidsuitdagings.”
Hoe moet dit hanteer word en wat is die oplossing?
Tarien sê versoening is nie altyd moontlik nie, maar omdat vervreemding ʼn afbreking van kommunikasie is, kan dit help om mens se kommunikasievaardighede te verbeter. “Dis belangrik om jou behoeftes en grense duidelik te kommunikeer. Onthou ook dat niemand perfek is nie; ons het almal foute. Dit mag soms nodig wees om te vergewe en die kwessie net te laat gaan. Dis ook noodsaaklik om te luister sonder om op die verdediging te wees en nie bloot aannames te maak nie.” Sy sê verder aanvaarding en validasie is belangrik, maar ’n mens moet onthou verskille stel mens aan nuwe idees bloot.
Simone sê as jy jou in ʼn situasie van vervreemding bevind, mag dit nodig wees om terapie te kry. “As jy kontak moet verbreek moet dit op die gesondste manier moontlik geskied. Oop kommunikasie is uiters belangrik.” Ester sê om jou totaal af te sny van ʼn familielid behoort die laaste uitweg te wees. “Psigoterapie kan van groot waarde wees om die slagoffer in staat te stel om selfhandhawingsvaardighede te ontwikkel. Volwassenes laat dikwels toe dat hul ouers of ouer familielede wat hulle as kind geboelie het, hulle steeds as volwassenes manipuleer om hul sin te kry. Psigodinamiese insigte is belangrik, want die volwassene regresseer na die ego-staat van die ouderdom wat hulle was toe die familielid hulle mishandel het en reageer steeds uit ʼn plek van vrees vir verwerping. Dit kan tyd neem om die wanfunksionele gedragspatrone te verbreek.”
Ester voeg by dat sekere gevalle van familievervreemding voorkom kan word wanneer daar betyds by kliniese sielkundiges aangeklop word.
“Soms is daar onderliggende versteurings wat eers behandel moet word voordat verhoudingsterapie suksesvol toegepas sal kan word. Vele konfliksituasies sal nie tot só ʼn mate eskaleer dat dit permanente vervreemding veroorsaak as mense betyds konflikhanteringsvaardighede aanleer nie. Baie keer is mense net onkundig oor hóé om oor verskille te praat.”
Sy sê verder kommunikasiefoute wat eindelik tot vervreemding kan lei sluit onder meer die volgende in: afbrekende kritiek, disrespekvolle kommunikasie, om verdedigend te wees en nie verantwoordelikheid te aanvaar vir verkeerde optrede nie, om verskoning te vra en gedrag nie te verbeter nie, maar teenaanvalle van stapel te stuur wanneer foute uitgewys word, asook om stilstuipe te kry. Sielkundiges kan mense help om moeilike gesprekke, wat gewoonlik op ʼn bakleiery uitgeloop het, beskaaf te hê.”
Mariette sê in albei gevalle waar vervreemding nodig was of nie nodig was nie, is dit nodig dat die individu terapie ontvang.
“Dit is baie moeilik om jou familie af te skryf (al mag dit in jou beste belang wees). As hereniging in die beste belang van die familie is, moet al die familielede betrek word. Die familielede wat direk by die vervreemding betrokke was sal genader moet word. Herstellende gesprekke en mediasie kan dan benut word om die verhoudings te begin herstel. Bindingsterapie kan ook gebruik word. Die familielede moet stelselmatig kontak herstel.” Sy sê verder dat indien dit beter vir die individu is om hul van die familie te vervreem, is dit goed om nuwe ondersteuningstelsels te ontwikkel – byvoorbeeld kerkgroepe, vriendekringe of kollegas. Volgens Ester is daar geen twyfel daarin nie dat vriende in vele gevalle hul “hartsfamilie” word nie. “Hierdie hartsfamilie kan dieselfde funksie as goeie bloedfamilie vervul. Ek hoor dikwels in my praktyk dat ʼn goeie ouer vriend soos ʼn ouboet is wat iemand nooit gehad het nie of dat ʼn ouer vriendin vir hulle ʼn ma geword het.”
Lees ook: 5 maniere om meer selfvertroue te hê
Vind jou trop
As jy van jou familie vervreemd is, kan jy ondersteuning by sogenaamde “troppe” (kerkgroepe, vriendekringe of werkskollegas) vind. Hier is ʼn paar wenke om joune te vind:
- Weet wie jy is en ken jouself.
- Identifiseer jou behoeftes en weet waarna jy soek.
- Fokus op mense met gemeenskaplike belangstellings en waardes.
- Reik soms eerste uit.
- Moenie bang wees om nuwe dinge te probeer nie.
- Dit mag nodig wees om aan verskillende troppe te behoort om in al jou behoeftes te voorsien.
Bronne:
www.wanderlust.com
www.theladders.com
Nuttige Internetskakels
www.theparticipationcompany.com
www.bloemfonteinpsychologist.co.za