Iewers lees ek die frase “die evangelie van lekkerte” raak. Dit trek my oombliklik. ’n Evangelie is mos ’n goeie boodskap, en lekkerte verg geen verduideliking nie. Ek is nie seker wie hierdie evangelie verkondig nie, maar dit moet iemand met ’n gul glimlag en wydoop arms wees. ’n Dapper siel wat onverskrokke soek na die heerlikhede van die lewe, dit verwelkom en diep inteug en só geniet dat s/hy ander wil saamsleep op die pad van genot.
Ja, ek weet. Elke silwer wolk het ’n donker randjie. As iets te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik, en van lekker lag kom lekker huil.
Sedert ek ’n CD met ’n praatjie oor vreugde deur die “wacky gynaecologist” uit Amerika, dr. Christiane Northrup, teëgekom het, tob ek oor ons samelewing se issues met lekkerte. “We don’t trust joy,” sê dr. Northrup. En sy is reg.
Hoekom is ons huiwerig om dit uit te basuin as dit die dag regtig goed met ons gaan? Miskien is ons bang ons maak dit moeiliker vir ’n vriendin wat siek voel, geldnood het, ongelukkig is in haar werk of huwelik, of bekommer oor ’n kind met ’n probleem. Dis gewoon nie veilig om vryuit gelukkig te wees nie. Netnoumaar word jy dalk van oordaad verdink.
Daarenteen het ons geen probleem met mense wat swaarkry nie. Ons betuig ons simpatie, voel werklik vir hulle jammer, en steek ’n helpende hand uit (as ons tyd het). Lyding laat geen kritiese wenkbrou lig en is vir g’n niemand ’n bedreiging nie.
Nog erger: ons is nie net huiwerig om te wys ons voel gelukkig nie, ons is bang om gelukkig te wéés. As ons ’n liefde of ’n geldjie of ’n ander gelukkie op die lyf loop, is ons eerste gedagte: wat as ons dit verloor? Dit bederf onmiddellik daardie “ek het kadoems in die botter geval”-ervaring.
Skilder ek die situasie te swart? Wag – ek weet! Ek gaan dié week die mensdom dophou. Ek wil sien wie die evangelie van lekkerte (be)leef en hoe hulle en ander dit hanteer.
Ek kan sommer by myself begin. Watter lieflike ervarings het ek die afgelope week of wat gehad? Mmm … daar was die sappige stuk steak met die vetrandjie, en die onverwagse drukkie terwyl ek skottelgoed was, en … nee, aarde, ek kan nie al my lekkertes hier wil staan en lys nie. Dalk raak dit vervelig of gee dit iemand aanstoot. En ek moet oppas, netnou jinx ek my geluk.
Ek het regtig ’n stukkie raad nodig. Hoe kan ons die evangelie van lekkerte laat lóóp?