Vonkpos
– Jy begin jou e-pos, nes ’n regte briefie, met ’n ordentlike aanhef (hallo daar / beste of liewe) en sluit af met groete. Anders kan jy maklik baasspelerig en ongeskik klink. Dit geld ook SMS’e. Onthou: mense kan jou “stemtoon” in jou woorde lees.
– As iemand ’n antwoord verwag, antwoord hom so gou moontlik. As jy nie dadelik kan nie, merk die e-pos en stel vir jou ’n reminder om op te volg.
– Maak seker jy druk die regte knoppie! Moenie reply all druk as jy oor jou of iemand anders se baas wil skinder nie – iemand kan dalk sy werk verloor! Of jy kan beetrooi van skaamte wees. ’n Kennis het ’n werkuitnodiging gekry vir ’n naweek in ’n spoghotel, en stuur toe vir haar man ’n boodskap en vra of hy in die luim vir ’n bietjie hotelseks is. Eers toe sy ’n boodskap terugkry van die persoon wat hulle genooi het wat sê hy neem aan hierdie boodskap is nie vir hom bedoel nie, het sy besef sy het nie forward gedruk nie, maar reply.
– Moenie alles aanstuur wat jy ontvang nie.
– Moenie mense per e-pos boelie nie. Laat hulle besluit wat hulle wil aanstuur. Daar is geen sin in daardie Christelike e-posse wat sê jy verloën God as jy nie dié e-pos aanstuur vir almal wat jy ken nie. Veuve Cliquot, Microsoft, Nokia, Blackberry … niemand gebruik e-posse om gratis produkte of geld weg te gee nie. Nie eens Bill Gates nie. En geen Internetdomein sal geld skenk vir die arme meisietjie met die vier arms in die verste uithoek van Bosnië net omdat drie triljoen mense die e-pos aangestuur het nie. Dis net ’n manier om sensasie, gruwelike foto’s, spyware en virusse per e-pos te versprei. Mense se tyd is kosbaar. Respekteer dit.
– Hou e-posse kort en hou by die punt as dit oor werk gaan.
– Dink twee keer oor wat jy in ’n e-pos sê. Jy kan dit nie terugtrek sodra die send-knoppie gedruk is nie. Rassisme, seksisme, vuil taal en haatspraak is net so onaanvaarbaar per e-pos as wat dit in die regte lewe is, maar met e-pos kan dit letterlik reg om die wêreld gaan vir almal om te sien.
– Onthou ook dat jou werkgewer jou e-posse kan en mag monitor, dis nie privaat nie.
Sit ’n bietjie af!
– Goed, jou selfoon ís fantasties, en dis wonderlik dat hy omtrent alles kan doen, behalwe grassny. Maar nie almal wil dit weet nie! Moenie elke e-pos wat inkom gou in ons geselskap lees nie, en hou Facebook, Twitter en WhatsApp gerus vir wanneer jy alleen is. Weer eens: dit gaan oor respek vir die mens wat sy tyd aan jou afstaan. Bêre die ding, of stel dit op silent sodat elke biep en pieng nie met die gesprek inmeng nie. (Ons is nie harteloos nie, antwoord gerus werklik dringende oproepe, soos van Barack Obama, maar net as jy ’n onderhandelaar vir wêreldvrede is. Vir die res? Gebruik gerus daardie wonderlike ander funksie van jou slimfoon: die stempos!)
– Sit dit af! In die kerk, in die fliek, met oueraande, in die raadsaal, in die vliegtuig. Veral in laasgenoemde. Niemand stel belang in jou teorie dat ’n selfoon nié kan veroorsaak dat ’n vliegtuig val nie. Uitsonderings: geen vir die vliegtuig-situasie nie, maar vir die res sal ons verstaan as jy ’n mediese dokter op diens is, of as jy ’n siek kind by die huis het. Dus, as dit ’n lewe-en-dood-situasie is. Die res van die wêreld kan boodskappe laat. As jou selfoon inmeng met ander mense se ervaring van enigiets, is jy ongeskik. Punt.
– As jy in ander mense se geselskap ’n selfoonoproep móét antwoord, vra éérs of jy die oproep mag neem. Antwoord en sê dadelik jy kan nie nou praat nie en vra of jy later kan terugbel. As jy eenvoudig móét praat, verskoon jouself en gaan staan buite. Niemand wil ’n hoogs persoonlike gesprek aanhoor nie, en dis ongeskik om te dink die res van die geselskap moet tjoepstil sit en wag tot jy klaar gepraat is. (Selfs hegte vriende of kollegas raak geïrriteerd met swak selfoonmaniere maar is waarskynlik te ordentlik om iets te sê.)
– Praat as-se-blief tog sagter, veral in die openbaar! (Die hardpratery is ongeskik en onnodig. Dis ’n telefoon, nie ’n megafoon nie. En jy lyk maklik mal, veral as jy met jou oorfone aan deur ’n winkel stap en praat dat die berge antwoord gee!)
– SMS’e is ook uit in flieks – jou liggie pla ons. En ’n onskuldige vragie: As jy met jou pel oor die foon wou kuier, hoekom het jy kom fliek?
– Bluetooth is ’n wonderlike stuk apparaat vir praat en bestuur, nè? Maar daardie oorstukkie lyk simpel enige plek buite jou motor! Haal dit af, tensy jy aan ’n geheime sekte behoort wat gereedmaak vir die wegraping en net aan hul bluetooth-ore uitgeken gaan word!
Let op wat jy op die bakkiesboek skryf!
– Facebook is ’n wonderlike sosiale netwerk. Jy kan op datum bly met almal in jou lewe se doen en late. Maar al die doen is nie altyd vir almal om jou so interessant nie, en behoort dalk eerder weggelaat te word. Iets soos “ek is baja verveelt en lis ve ’n glas wyn” is uit. Regtig, wie gee om? (En waar het jy leer spel? Of het jy klaar die glas wyn gehad?)
– Dis UIT: Vuil taal, rassisme, jou sekslewe, enige vorm van diskriminasie (bv. godsdiens) en jou persoonlike politieke siening. Bly weg van kubergevegte – die woorde is daar vir almal om te sien! Facebook-uitsprake het al die einde van vriendskappe en loopbane beteken. Wees ekstra versigtig as jou maatskappy op enige manier aan jou FB gekoppel is. Onthou ook dat jy as hul verteenwoordiger gesien kán word.
– SMS-taal is uit. Baja (baie), ve (vir), gr8 (great), late (later – genugtig, jy moes net nog een knoppie gedruk het!), yt (uit) en dun (doen) laat jou lesers se oë pyn én verklap baie van jou. As jy nie eens die moeite doen om woorde uit te skryf nie, hoekom bodder om met ons te gesels?
– Onthou: die foto’s wat jy plaas, is daar vir die hele wêreld om te sien. En ons wil regtig nie alles sien nie …
– Druk gerus die unfriend-knoppie. Net soos in die regte lewe gaan mense jou meet aan jou vriende en hul uitsprake.
Is elmboë op die tafel steeds taboe?
Beslis tydens ete, sê Emsie Schoeman, dekades lank al ’n etiketghoeroe. “Maar as jy eers klaar geëet het en die lekker geselstyd aangebreek het, mag jy maar ontspan, veral tydens koffie.”
Tafelmaniere 101
Mag ek ’n broodrolletjie in ’n restaurant met my hande oopbreek?
Ja.
Smeer ek die botter of konfyt direk op my broodjie?
Nee, jy skep dit eers op jou bordjie.
Wat maak ek met my servet as ek van die tafel opstaan?
Plaas dit links van jou bord, ook as jy klaar geëet het. Nooit óp jou bord nie.
Hoe gaan die kelner weet ek is klaar geëet?
Sit jou mes en vurk netjies langs mekaar sodra jy klaar is.
As iemand vra ek moet die sout aangee, geld dit vir peper ook?
Altyd – die twee gaan saam.
Sê reg dankie!
Emsie sê: Dis steeds hoogmode. Maar jy hoef nie meer ’n kaartjie te pos ná ’n ete by ’n vriendin nie. “Tye het beslis verander. Ek stel voor jy koop ’n paar mooi kaartjies wat ook as boekmerk kan dien, en neem dit saam na die ete. Daarin bedank jy jou gasvrou vir die uitnodiging en sê hoe baie jy uitsien na die aand. Dan is dit heeltemal in orde om die volgende dag net ’n SMS of e-pos te stuur waarin jy haar bedank.”
Ons sê: Vir geskenke sê jy beslis nog dankie – en nie net in die algemeen nie. Iets soos: “Baie dankie vir my geskenk! Die geld/geskenkbewys is ’n heerlike bonus – ek gaan myself daarmee bederf/dit spaar vir my oorsese reis/nuwe huis, of wat ook al.” Jy kan dit per e-pos of SMS doen, veral as jy al reeds dankie gesê het toe julle saam gekuier het. Maar onthou gerus dat ouer mense (veral bejaardes en diegene wat nie tegnologies bedrewe is nie) nog van ’n handgeskrewe briefie of ’n oproep hou, veral as hulle baie moeite gedoen het met jou geskenk. Maar as jou ouma van 98 op WhatsApp is, is die kanse goed dat sy net so opgewonde sal wees oor jou SMS!
Hou dit eg!
“Die nuwe trui laat my hart bons soos springmielies in ’n warm pot” is ’n bietjie oordrewe. “Dankie vir my pragtige trui!” is meer as voldoende.
Vir trougeskenke sê jy behoorlik dankie.
En nie eers as die eerste baba gebore is nie. Direk ná die wittebrood en met ’n handgeskrewe kaartjie wat jy pos of gaan gee. Onthou om op te skryf wat elke persoon vir jou gee wanneer jy die trougeskenke oopmaak – iemand wat ’n R500-geskenkbewys gegee het, gaan nie vir ’n vadoek bedank wil word nie.
Dis resessie, en ek neem altyd ’n gereg of ’n slaai saam na ’n ete by vriende. Moet ek dan steeds blomme vir die gasvrou neem?
Emsie sê: “Nee wat, dis onnodig. Weer eens, neem ’n mooi handgemaakte kaartjie wat sy kan hou, en moet nooit die waarde van ’n klein geskenkie soos ’n koekie lekkerruikseep of sjokolade onderskat nie.”
Ons sê: Neem vir haar die jongste rooi rose! Dit kos minder as ’n bos blomme, hou langer en dalk maak sy ’n vriendin vir die res van haar lewe!
As die trouklokke lui“My vriendinne trou almal deesdae op ver plekke, en bespreek soms ’n hele naweek op ’n wildplaas of vakansieoord. Ons moet vir ons eie verblyf en reiskoste betaal. Moet ek dan steeds ’n duur trougeskenk gee?”
Emsie sê: “Ek dink nie dis regverdig om so iets van ’n mens se gaste te verwag as hulle boonop duur vir hul akkommodasie moet betaal nie. As julle ’n klomp goeie vriendinne is, hoekom gee julle nie elkeen ’n sekere bedrag geld en sit dit saam in ’n koevert met ’n kaartjie waarin almal iets geskryf het nie? Dit laat die geskenk sommer groter lyk.”
“Ek trou binnekort, en ons wil graag kontant hê. Kan ek dit in my troukaartjie sê?”
Emsie sê: “Beslis nie! Dis regtig platvloers om dit op die troukaartjie te laat druk. Almal weet tog dat jongmense deesdae kontant verkies. Doen dit meer subtiel as jy dan moet. Vra ’n vriendin, jou ma of skoonma om die woord te versprei dat julle kontant sou verkies, of sit ’n aparte nota binne-in die koevert wat sê dat julle ’n trouregister by ’n winkel het vir ingeval mense sukkel om te besluit wat om te gee, en ook baie dankbaar sal wees vir ’n geskenkbewys of kontant as hulle nie kan besluit nie.” Jy bedel nie op jou troue nie.
Ons sê: Sorg dat daar iets vir elke begroting op ’n trouregister is! Nie almal kan R500 aan ’n trougeskenk bestee nie. Onthou, tye is taai!
Dis beslis ook ongeskik om vir mense “opdragte” te gee om vir jou iets spesifieks op die trouregister te koop.
As jy redeneer dat dit jou duur kos om die troue te hou en dat hulle daarom vir jou ’n duur geskenk moet gee, dink weer. Jy kán ’n goedkoper en steeds stylvolle troue hou as jy kreatief is en bietjie rondsoek na goedkoper venues, én jy nooi die mense na jou troue wat jy daar wil hê omdat hulle vir jou spesiaal is – nie om die waarde van die troue in presente of geld terug te kry nie.
Is ’n kontantkroeg in orde?
Emsie sê: “Ek dink nie dis baie stylvol nie. Dis soos om kontant te vra op jou troukaartjie. Daar moet darem drinkgoed op elke tafel wees.”
Ons sê: Weer eens, jy nooi die mense as jou gaste en moet sorg dat die basiese vonkelwyn, koeldrank en wyn op elke tafel is vir heildronke, en iets om saam met die ete te drink. Jy gaan hulle tog nie vir ete nooi by jou huis en laat betaal vir elke drankie nie? Maar ja, as jy ’n klomp groot drinkers verwag, laat hulle vir sterker drank betaal – dis vir almal van ons aanvaarbaar. Jy wil beslis ook nie stormdronk mense op jou spesiale dag hê nie.
“En die toilette is … ”
Emsie sê dis onnodig om dit aan te kondig voordat daar met die toesprake begin word. “Toilette is tog altyd duidelik gemerk. Dis heeltemal onnodig!”