’n Goeie reputasie is belangrik
Maak seker dat die dokter en kliniek wat jy besoek ’n goeie reputasie in die estetiese veld het en dat daar goed opgeleide personeel (dokters, terapeute, susters, ens.) is wat jou belange op die hart sal dra.
Lees ook meer oor “Microblading”
Weet wat jou pla
Evalueer jouself goed – dalk voor ’n spieël – en kyk wat jou die meeste pla wanneer jy na jouself kyk. ’n Dokter kan dan alleenlik die beste aanbevelings vir jou maak oor behandelings. Dit help nie om vir die dokter te sê: “Dokter, jy’s die expert, watter behandeling stel jy voor?” nie. Die dokter kan dan enige voorstel maak, soos dat jy moet begin met ’n neurotoksien-inspuiting, terwyl jy eintlik hulp met die ekstra rolletjies wat so skelm en onverwags rondom jou middel kom wegkruip het, wil hê. Dit gaan jou negatief maak en dit gaan verseker langer neem en die aanbeveling is eerder dat jy en die dokter ’n gemaklike dokter-pasiënt-verhouding ontwikkel. Wees eerder eerlik met jouself en praat jou hart uit teenoor jou dokter.
Begroot
Beplan vooraf hoeveel jy bereid is om te spandeer en bespreek dit met jou dokter. Dit sal die dokter ook help om ’n geskikte pakket vir jou saam te stel, wat jou sak sal pas.
Moenie estetiese prosedures voor ’n spesiale geleentheid laat doen nie
Onthou dat estetiese prosedures soms aanleiding kan gee tot blou kolle of swelling, so moenie so iets doen kort voor ’n groot geleentheid nie.
Dit verg instandhouding
Estetiese behandelings is nie net ’n eenmalige prosedure wat maak dat jy vinnig 5-10 jaar jonger lyk nie. Jy moet bereid wees om ’n pad te stap met jou estetiese dokter. Veroudering is ongelukkig ’n volgehoue proses, so ook moet die onderhoud en sorg van jou vel wees. Estetiese behandelings vir ouderdom is soos ’n leiband om ’n haastige Jack Russel se nek. Mens moet so elke nou en dan die band styftrek sodat die Jack Russel nie vir jou weghardloop nie, net so help estetiese behandelings om die verouderingsproses ’n bietjie te rem.
Wat kan jy tuis doen om jou mooiste vel te verseker
- Gebruik ’n geskikgte gesigwas twee keer per dag.
Was jou gesig twee keer per dag met ’n geskikte gesigwasmiddel vir jou vel. Showergel is nie altyd die gewenste reiniger nie en kan jou vel geweldig uitdroog.
- Gebruik die regte produk vir ju veltipe
As jy ’n velprobleem soos aknee, pigmentasie of rosacea het, moet jy die geskikte produk(te) vir die toestand kry.
- Bevogtiger is belangrik
Jou vel het ’n gewenste bevogtiger nodig, selfs al het jy ’n olierige vel. Jou estetiese dokter sal jou kan help om die geskikte produk te kry.
- Sonblok is ’n moet
Sonblok, sonblok, sonblok met SBF 50! Dit is van kardinale belang.
- Was jou grimering af voor jy gaan slaap
Moet NIE met grimering aan gaan slaap nie.
- Hou op rook
Rook ontneem jou vel van een van sy belangrikste oorlewingsagente, naamlik suurstof, so as dit een van jou slegte gewoontes is, hou op.
- Eet gesond
Gesonde eetgewoontes is belangrik vir jou vel se gesonheid.
- Derm-restourasie is belangrik
Laastens is derm-restourasie van kardinale belang. Jou vel en jou hele dermkanaal ontwikkel uit dieselfde deel wanneer jy as baba in jou ma se baarmoeder groei, naamlik die ektoderm. Van ’n eksterne oogpunt beskerm jou vel jou teen alles wat in die omgewing voorkom en wat jou liggaam kan beskadig en van ’n interne oogpunt beskerm jou dermwand jou teen alles wat jy deur jou mond inneem. Ek sê altyd dat die vel van ons gesig soos die paneelbord van ’n motor is. Hoe weet jy jou motor se petrol is op? Die rooi liggie op die paneelbord begin flikker. Hoe weet jy dat jou derm ongesond is? Jou gesig gaan vir jou sê. ’n Holistiese benadering gaan veel beter resultate vir jou gee as wanneer jy jou vel as ’n entiteit op sy eie behandel.
Lees ook: Bevogtig jou somervel