Hier is Estelle se wenke
- Hoe swakker jy fisiek is, hoe weerloser is jy emosioneel. Dit help om dit te verstaan.
- Ná so ’n ervaring het jy ’n reeks reaksies wat normaal is, maar vir jou verwarrend voel. Jy kry byvoorbeeld slaapstoornisse of nagmerries; jy is bang om in ’n vreemde groep te wees of na vreemde plekke te gaan. Jy is hiperbewus van jou omgewing; jy voel emosioneel (ons het emmers vol gehuil) en jy beleef terugflitse van die gebeure. Mettertyd word dit egter weer beter.
- Dit het ons baie gehelp om oor ons ervaring te praat. Ons het vir al ons vriende vertel wat gebeur het. Omdat ek lank in ’n koma was, het ek tot onlangs toe nog vrae gevra wat my man geduldig moes beantwoord. Práát oor jou gevoelens van vrees, woede, ens. Daar is nie ’n regte of verkeerde manier om te voel nie, maar deel dit wat jy voel.
- Maak van beskikbare hulp soos terapie en medikasie gebruik soos nodig. As dit nodig is om operasies te ondergaan om jou fisieke skade te herstel, doen dit. Dis nou meer as ’n jaar na die voorval en ek het pas ’n voethersteloperasie gehad. Verdere chirurgie word vir volgende jaar beplan om my abdomen te herstel.
- Gaan met jou lewe aan, en doen dié dinge wat jy graag wil. Die lewe is kosbaar. Gebruik elke dag om jou drome uit te leef – moenie wag vir ‘eendag’ nie. Ek het gevoel ek is dit aan myself en my dierbares verskuldig om te genees, so nie het my aanvallers mos gewen. Ek besef nou hoe kosbaar die lewe is, daarom wil ek nie toelaat dat onbenullige dingetjies my tyd in beslag neem nie. Ek voel soos iemand wat met ’n nuwe bril na die lewe kyk.
- Die band van liefde het ons as gesin versterk en ons waardeer mekaar nou soveel meer.
Die viering een jaar later
Sedert die terreuraanval was ons weer oorsee. Ek is nie bang om te reis nie, hoewel ek lande met hoë veiligheidsrisiko’s sal vermy. Voor die terreuraanval was ons in ’n hotel in Rome langs die Basilica Santa Maria Maggiore. Daar was nie tyd om hierdie kerk te besoek nie, maar ek het my voorgeneem om later ’n kers daar te gaan aansteek. Terwyl ek baie siek was, het ek geweet ek moes gesond word om my voorneme uit te voer. Op 18 Maart, presies ’n jaar na die aanval, het ek ’n kers gaan aansteek om dankie te sê dat ons lewe. Ons en die kinders het ook ons eie klein ‘Camino’ gestap tussen die klein dorpies Corniglia en Vernazza in die Cinquaterre-streek in Italië. Dit was nie ’n maklike stappie nie, maar Chris het my gehelp. Dit was ekstra spesiaal omdat ons besef het ons kon dood gewees het.