Meng 400 g ricotta, 100 g bokmelkkaas, 250 g bevrore ertjies, 2 eiers, 5 ml (1 t) neutmuskaat en sout en peper en skep in ’n kolwyntjiepan wat met papiertjies uitgevoer is. Bak vir 30 min. by 160 °C en sit met ertjiespriete en suurroom voor.
Pronkerige ertjies
Een van ’n kok se lenteplesiere is die soetheid en vars kleur van ertjies. Gewone groen ertjies, dié ken ons almal, maar moenie van die soet jongertjies, oftewel petit pois, en die eet-alles-mangetout vergeet nie. Die groente is ryk aan proteïene, kalium en vitamien C. Mangetout, die ertjies wat jy met peul en al eet, is die perfekte, veselryke peuselkos. Hou ook die winkelrakke dop vir ertjiespriete. Die fyn, geurige blaartjies van die spriete is heerlik saam met forel en papajaslaai. Die smaak van kruisement, fetakaas en die speserybyt van chorizo pas perfek by ertjies.