Erns kuier elders, maar dié keer in Japan! deur Zoë Salzwedel. Hooffoto: Verskaf
Met die komende Rugbywêreldbekertoernooi in gedagte (van 20 September tot 2 November) bied Elders: Japan vir kykers ’n blik op hierdie fassinerende land wat ook met volgende jaar se Olimpiese Spele wêreldwyd in die kollig gaan wees.
Erns Grundling hou van stap, en om te bly by die staptema van die eerste reeks verken hy twee pelgrimstogte in Japan – die Kumano Kodo (’n susterpelgrimstog van die Camino in Spanje) en die Nakasendo, die destydse handelsroete tussen Kyoto en Tokio. Hy probeer ook om die ikoniese berg Foedji uit te klim. Gaan hy dit tot bo maak in die sneeu?
Erns is ’n groot rugby-entoesias en Elders: Japan het ’n sterk rugbyfokus, wat onderhoude met verskeie Springbokke in Japan, besoeke aan Wêreldbekerstadions en ’n All Black-legende insluit. Verder ervaar Erns Japan se wonderlike kultuur, kos, oorweldigende stede, pragtige natuurskoon en hy hou sy lyf onder meer samurai, ninja en sumostoeier. Soos in die eerste reeks bied dié reeks baie spontane oomblikke en verrassings.
Ons gesels met Erns oor sy reis na die besonderse land:
Wat het jou op Japan laat besluit?
Ek het in 2017 ’n eerste Elders-reeks aangepak op die Camino-pelgrimstog in Spanje. Ek het egter geweet wat om te verwag toe ons daardie reeks geskiet het, want ek was al tevore op die Camino. Toe ek begin kyk na bestemmings vir ’n tweede reeks, wou ek graag iewers heen reis waar ek nog nooit was nie en waar ek heeltemal uit my gemaksone gaan wees. Ek het ook gedink ’n reeks in Japan sal tot Suid-Afrikaanse gehore spreek, veral met die Rugbywêreldbeker om die draai en die Olimpiese Spele in Tokio in 2020 wat voorlê.
Hoe het jy die land ervaar? Wat maak Japan uniek?
Dit was eenvoudig oorweldigend, maar nie op ’n negatiewe manier nie. Japan se kultuur is baie eiesoortig, omdat dit ’n eilandnasie is wat tydens die Edo-periode (1603-1868) vir meer as 200 jaar basies geïsoleer was en bitter min kontak met die buitewêreld gehad het. In terme van wêreldgeskiedenis het hierdie redelik onlangs gebeur. Die Japannese self is wel besonder vriendelik, hoflik en behulpsaam. Dit het my opgeval hoe stil dit op die treine was – niemand praat hard op ’n foon nie, niemand eet of drink in die openbaar nie, en die strate is skoon en netjies. Veral Tokio, ’n metropolitaanse gebied met meer as 15 miljoen inwoners, is besonder ordelik, al is daar altyd baie mense op straat. Iets wat ek dikwels gehoor het in Japan is die frase “alles werk”, en dit voel regtig so.
Vertel vir ons van die twee pelgrimstogte wat jy aangepak het. Wat was vir jou die heel moeilikste deel hiervan? En watter lewenslesse het dié uitdagings vir jou geleer?
Daar is verkeie pelgrimstogte in Japan. Ek het op die Kumano Kodo besluit, aangesien dit die Camino in Spanje se susterpelgrimstog is. As jy albei voltooi, kry jy ’n Dual Pilgrim-sertifikaat. Die Kumano Kodo was baie uitdagend, want dit is in die berge van die Wakayama-prefektuur. Ek het die steiltes en terrein onderskat – dit is ’n moeiliker staptog as die Camino, maar die natuurskoon en uitsigte was werklik besonders.
Ek het ook die Nakasendo-pelgrimstog gestap, ’n ou handelsroete tussen Kyoto en Tokio. Wat die terrein betref? Wel, dit was heelwat makliker as die Kumano Kodo met pragtig gerestoureerde dorpies soos Magome, Tsumago en Narai. Die woudtonele op die Nakasendo, met die herfs in volle swang, was wonderlik.
Hoe het jy die Japanese kultuur en kosse ervaar? Watter gereg het jou aangenaam verras, en watter gereg het jy met moeite klaar geëet?
Die kultuur en kosse was fassinerend, hoewel die kos nie so eksoties of vreemd soos ander lande in die Verre Ooste is nie. Maar die rys was net op ’n ander vlak as dít waaraan ek gewoond is – om nie eens van die sushi te praat nie!
Ek en die span het dikwels ramen-noedels geëet, en Japannese kerrie was ’n verrassing – dit is eenvoudig, maar baie geurig. Iets vreemd wat ek wel geëet het was fugu, of blaasoppie/pufferfish. Die fugu is eintlik baie giftig, as die sjef dit nie presies reg voorberei nie kan jy sterf. Die stukkie fugu wat ek geëet het was lekker maar het nie vir my veel anders as diepgebraaide stokvis geproe nie.
Al wat ek soms met moeite klaar geëet het was ’n heel gebraaide (en nogal souterige) vissie wat soms op my ontbytbord beland het.
Watter onderhoud in dié reeks het jy die heel meeste geniet, en hoekom?
Dit is’n baie moeilike vraag om te antwoord, want ek het soveel spesiale onderhoude in Japan gehad. Ek gaan twee uitsonder: om vir ’n hele paar uur met die Springbok-agsteman, Duane Vermeulen, in Tokio te kuier was ’n groot voorreg en hope pret. Duane is plat-op-die-aarde en beslis ’n bok vir sports! Hy was ook baie vrygewig met sy tyd en het selfs ingestem dat ek hom na ’n katkafee kan neem, hoewel hy eintlik ’n hondemens is.
’n Ander onderhoud met ’n rugbyspeler wat my altyd sal bybly, was met die All Black-legende Dan Carter. Ek was baie gelukkig om op kort kennisgewing vir hom te kon ontmoet by sy spanoefening in Kobe. Hy was ook baie vriendelik, geduldig en professioneel. ’n Ware rolmodel. (En ek wil nie stereotipeer nie, maar ek dink veral vrouekykers sal hom steeds baie sag op die oog vind … My meisie sê ook so!)
Dit sit nie in enige man se broek om die berg Foedji uit te klim nie. Hoekom het jy besluit om dié spesifieke uitdaging aan te pak? Wat was vir jou die ergste deel hiervan? En was dit die moeite werd?
Ek is nie ’n baie ervare bergklimmer nie. In 2006 het ek Kilimanjaro geklim maar moes naby aan die piek die aftog blaas weens hoogtesiekte. Ek wou egter baie graag die ikoniese berg Foedji uitklim, veral omdat dit buite seisoen was en die berg reeds vol sneeu was – dit was die eerste keer dat ek ooit in sneeu gestap het. Berg Foedji is 3 776 m bo seespieël – hoër as enige berg in Suid-Afrika óf Lesotho! Dit was ’n baie uitdagende klim, en die ergste was beslis die laaste 200 m tot bo. Maar ek het besluit om net by my leuse van “een voet voor die ander” te hou. Dit was absoluut die moeite werd. Die uitsigte was verstommend en ek en my mede-vervaardiger PJ Kotzé (hy was ook een van ons twee kameramanne) was baie gelukkig om te kon stap op ’n wolklose oggend met geen wind.
Terloops, as jy buite seisoen wil gaan stap, is dit ’n goeie idee om liewer saam met ’n gids te stap. Ons het saam met David Niehoff van Kanto Adventures gaan stap – ek sal hom beslis aanbeveel!
Watter lesse dink jy kan ons Suid-Afrikaners by die Japannese leer? En hoekom?
Ek bewonder die Japannese vir hulle produktiwiteit, vasberadenheid en hoflike gedrag. Die land was in puin gelê (byna letterlik plat) ná die Tweede Wêreldoorlog, maar die Japannese het nie gaan lê nie en die land met harde werk en deursettingsvermoë herbou tot een van die wêreld se grootste ekonomieë. Soms wonder ek wel of die arme Japannese hulself nie doodwerk nie… Alles kom teen ’n prys!
Iets anders wat my ook getref het was die Japannese lewensuitkyk, wat sterk beïnvloed word deur die Shinto-godsdiens. Dit gaan oor harmonie tussen mense, maar veral ook tussen die mens en die natuur. Die Japannese heg groot waarde aan die seisoene, jy sien dit in alles, van versierings in winkelvensters tot eetgerei. Ek dink Suid-Afrikaners, en die res van die wêreld, kan beslis baie by die Japannese kultuur leer.
Watter boodskap wil jy met dié reeks aan mense oordra?
Ek hou van die idee van betekenisvolle “bucket list” bestemmings – plekke wat jy kan besoek om jou horisonne te verbreed, maar wat ook die potensiaal het om jou oë werklik oop te maak vir ander maniere van dink en doen, en dalk selfs ook tot iets in jou binneste spreek. Ek hoop die reeks inspireer kykers om self ook Japan te gaan besoek, dit is regtig nie so duur soos baie mense altyd sê nie. En hierdie reis het my opnuut laat besef dat reis en ervarings baie meer werd is as materiële dinge.
Sommer vir interessantheid: Hoe lank was jy in Japan om aan die reeks te skiet?
Ek en die span (ons was vier in totaal) was vir vyf weke in Japan gedurende Oktober en November verlede jaar.
En laastens: Stel vir ons ’n lys op van die top 10 plekke in Japan (wat jy aanbeveel) wat mense beslis moet besoek as hulle Japan wil gaan verken.
- Tokyo Skytree (hoogste toring op aarde)
- Shibuya Crossing in Tokio (staan by die besigste voetoorgang op aarde)
- Osaka Castle (lieflike park en kasteel)
- Dotonbori Street (Osaka se straatkos-hoofkwartier)
- Nara Deer Park (voer bokkies in ’n park – heerlike uitstappie vir kinders)
- Hiroshima (besoek die Vredespark en museum)
- Miyajima-eiland (vaar met ’n veerboot na die eiland en kyk na die drywende torii-hek)
- Kyoto (kyk of jy ’n geisha op straat sien in die buurt Gion)
- Kumano Kodo (gaan stap die Camino se susterpelgrimstog)
- Toyota City (wonderlike natuurskoon en aktiwiteite in die omgewing)
Die reeks word vervaardig deur PJ Kotzé van Bonanza Films en Erns Grundling. Elders: Japan word aangebied in assosiasie met Toyota SA, ClemenGold, Showmax, Sure Travel, TIC en Cape Union Mart.
Elders: Japan wys op Dinsdae om 21:00 op kykNET en ’n boek oor Erns se reis in Japan, Sushi en Shosholoza, word uitgegee deur Queillerie en sal van Donderdag 29 Augustus 2019 af op die rakke wees.