kategorieë: InspirasieJou lewe

Erna Rheeder oor parfuumeilande en tekens dat ’n kind veilig voel

Erna Rheeder oor parfuumeilande en tekens dat ’n kind veilig voel deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf. Hooffoto Pexels

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Erna Rheeder oor parfuumeilande en tekens dat ’n kind veilig voel

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

1. Jy is as maatskaplike werker opgelei. Wat het jou aangevuur?

Ek was baie klein toe ek gedink het ek wil mense help. Later het ek ’n Christen geword en wou graag sendingwerk gaan doen. Die enigste manier hoe ek dit kon sien gebeur, was deur middel van maatskaplike werk. Die kursus by Hugenote Kollege het ’n sendingbaan-opsie gehad, maar dit is opgeskort teen die tyd dat ek daar gekom het.

Ek was by verskillende geleenthede by sendingwerk betrokke, maar ek is baie dankbaar ek het maatskaplike werk studeer. Dit het my tog ’n bepaalde sensitiwiteit vir mense en hulle nood laat ontwikkel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Luister nou na ons gesprek met Erna – dis gratis en jy hoef net op die pienk speelknoppie te klik!

2. Jy is reeds lank betrokke by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie. Vertel kortliks wat die SAVF doen, en watter posisies jy al daar beklee het.

Dit is die derde keer wat ek by die SAVF werk. Vroeër was ek in maatskaplike werkposte – wat ek nie so baie geniet het nie. Aspekte van die werk waarin ek myself nog altyd kon uitleef, was gemeenskapswerk asook groepwerk. Vir die afgelope tien jaar is ek die SAVF FAMNET koördineerder en ek beleef dat ek so min of meer alles geniet wat ek doen!

SAVF is ’n welsynsorganisasie wat in 1904 tot stand gekom het. Ons is ’n organisasie wat nog altyd deur die gemeenskap om ons se nood aangespreek is en dan programme ontwikkel het om die nood te ontmoet. Ons werk in vyf provinsies: Gauteng, Limpopo, Noord-Wes, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Ons het ouetehuise, behuisingskemas, deurgangshuise, kinderhuise, kleuterskole, maatskaplike werkkantore en natuurlik FAMNET!

Eintlik werk ons met die individu van geboorte en vir die res van sy lewe!

Erna Rheeder oor parfuumeilande en tekens dat ’n kind veilig voel

3. Wat behels SAVF FAMNET?

Famnet is die akroniem vir Familie Netwerk. Dit gaan oor die versterking van die gesin as die kern van die samelewing.

Ek bied 4 groepleier-opleidings aan:

  • Impactful Leadership waarin ons die groepleier toerus met groepwerkvaardighede en emosionele gesondheid.
  • Botswadi – ’n groepwerkprogram oor gebalanseerde sorg vir die kind
  • Ubaba Unathi – oor pa-betrokkenheid
  • Rebuilding Dreams – ’n gids vir die swanger tiener/tienerouer om die uitdagings te hanteer en goeie ouers te word.

Sommige van die mense wat as groepleiers opgelei is, kom so drie keer per jaar bymekaar vir verdere toerusting. Dit is veral mense wat klein organisasies het wat nog aan die ontwikkel is en wat dikwels sukkel om die mas op te kom. Ons noem die groep Hope Umbrella.

Sedert 2012 is ek betrokke by werk rondom pa-afwesigheid. Tans is ek die koördineerder van Fathers’ Network. Baie werk gebeur digitaal, maar daar is ’n kerngroep mense wat van tyd tot tyd geleenthede aanbied om verdere bewustheid te kweek en groei te bewerkstellig ten opsigte van florerende pa-kindverhoudings. Ons versprei inligting oor dit wat die verskillende netwerklede doen. Ek dink hierdie is ’n reis waarop ek in die besonder baie geleer het. Maar ook voel ’n mens dikwels magteloos, omdat die probleme wat uit pa-afwesigheid voortvloei so oorweldigend kan wees.

SAMnet (South African Male Mentorship Network) het daaruit voortgevloei. Ons mik nog om ’n “female network” ook tot stand te laat kom.

4. Jy is ook redakteur van die Ek en My Kind/My Child and I-tydskrif.

Ek en My Kind/My Child and I is ’n kwartaaltydskrif wat al vir meer as 40 jaar gepubliseer word. Baie ouers het al vir my gesê hulle het hulle kinders aan die hand van die tydskrif grootgemaak.

Sommige van die tydskrifartikels is reeds digitaal gepubliseer op www.famnet.co.za, maar die mark waar die nood aan ouerskapsinligting die grootste is, is nog lank nie so digitaal ingestel nie – deels omdat internettoegang nie so maklik is nie. Ons beplan dus om die tydskrif nog vir lank te druk, maar sukkel dikwels om die koste te verhaal. Borge is altyd welkom!

’n Groep vrywilligers vorm die redaksie en ek vind dit is die lekkerste vergaderings! Eintlik deel ons ons lewens met mekaar … en so gebeur artikels!

5. Watter rol speel die gesin in ’n kind se lewe?

Ek is weer sterk onder die indruk van die veilige ruimte wat ’n gesin aan ’n kind bied. As hy liefdevolle versorging en omgee tuis vind, kan hy soos op ’n trampolien hoog die lug in skiet.

Mense wat reeds vir jare die dwelmafhanklikheidprobleem aanspreek, is uitgesproke daaroor dat voorkoming en herstel die beste plaasvind waar daar ’n goeie verbintenis met die gesin is.

’n Gesin is die plek waar ’n kind al sy spanning kan laat gaan en spreekwoordelik met sy voete op die koffietafel sit – ons hou nie altyd daarvan nie, maar dit is ’n teken dat hy veilig voel.

Ons kinders is nou jong volwassenes en elke nou en dan sien ons ’n mooi eienskap na vore kom waarvoor hulle nogal vir ons erkenning sal gee. Gesinne is toenemend nie meer “Ma, Pa en kinders” nie. Vir die kind is dit die beste as hy goeie kontak met beide ouers het, én dat die gesin soos hy dit ken die beste, mees vredevolle, knusste plek vir hom is.

Lees ook: 5 ankers wat jou kind veilig laat voel

6. Jy glo dat mentorskap van die wêreld ’n beter plek kan maak.

Daar is altyd iets wat ons nie weet nie. En dikwels is dit iets wat ons funksionering of ons verhoudinge kan verbeter. Ander mense het dinge ervaar wat hulle kan deel en wat jou ’n hupstoot in die lewe kan gee. Maar dan is daar ook mense in wie se lewens groot gapings en nood is. Vir hulle in die besonder is ’n langtermyn verhouding met ’n mentor wat lewensvaardighede kan deel en waardes kan uitleef, uiters waardevol.

Erna se kleinkinders: Samuel, Leah en Lana Erna Rheeder oor parfuumeilande en tekens dat ’n kind veilig voel

7. Jy is passievol oor mentorskap vir mans of seuns. Kan jy ons meer vertel?

Seuns wat sonder pa’s grootgeword het, val in die groep kinders wat ’n groot behoefte aan mentorskap het. Dis waar hulle kan leer hoe om ’n man te wees (gesonde manlikheid), hoe om ’n pa te wees, hoe om vrouens te hanteer en hoe om toegewyd aan hulle kinders te wees. Dis waar hulle ook kreatiewe of sportvaardighede kan aanleer. ’n Mentor moet bereid wees om oor ’n lang tydperk gereelde kontak met so ’n kind te hê, dieselfde positiewe waardes op verskillende maniere met hom te herhaal, sy eie foute te deel en hoe hy daaruit groei, en om aan te hou selfs wanneer dit voel asof dit niks beteken nie!

Dis nie net vir seuns nie. Mans kan ook baat vind by ’n mentorskapverhouding – om dieselfde redes. Dit vul die gapings wat uit gebrokenheid gevorm is.

8. Vertel ons van die “Guide to Restoration from Father Pain”.

Ons het nodig gehad om mense te kon antwoord wat vrae oor afwesige pa’s het, wat bitterheid en pyn beleef, en kwaad is. Ses persone verbonde aan Fathers’ Network het 33 kort videos gemaak aan die hand van vrae soos:

  • Wat maak ek met die leë gevoel oor my pa wat weg is?
  • Hoe kan ek uitvind wie is my pa?
  • Hoe hanteer die terapeut die vraag oor wie die pa is met die ma?
  • Hoe sal ek ’n goeie pa vir my kind kan wees?
  • Hoe kan ek ’n mentor wees vir ’n kind wat ’n mentor nodig het?
  • Na wie kan ek gaan vir hulp?

Hierdie en ander vrae oor die herstel van die pa-pyn, mentorskap, en pa-vaardighede word in die “Guide to Restoration” hanteer. Ons het skakels na die videos op die dokument aangebring en dit is beskikbaar op 2 webtuistes: www.justdadit.co.za en www.famnet.co.za

Lees ook: Hoekom betrokke ouerskap goed is vir pa en kind

“My man, Paul, op sy gelukkigste – aan die lees.” Erna Rheeder oor parfuumeilande en tekens dat ’n kind veilig voel

9. Waar het jy jou man, Paul, ontmoet?

Ek het as jeugwerker in Sunnyside begin werk en het daar in die Jeugtuiste gebly. My man was toe ’n student wat ook daar gewoon het … en die een ding het tot die ander gelei!

Ons is in 1984 getroud – amper 36 jaar gelede, maar dit voel soos nou die dag. Hy is ’n internis wat by Steve Biko Hospitaal werk. Ons het al vonke laat spat, maar gaandeweg het ons ons verskille leer aanvaar en hanteer. Dis nog net so lekker, of nee, nou selfs lekkerder om met hom getroud te wees. Ons het immers ’n hele paar sakke sout saam opgeëet!

10. Vertel van julle kinders en kleinkinders.

My dogter is op ons vyfde huweliksherdenking gebore. Sy is tans besig met haar meestersgraad in regte. Studeer en kinders grootmaak het saam geloop. Sy het ’n dogter van agt, ’n seun van ses en ’n klein driejarige dogtertjie wat almal om haar pinkie draai! Hulle bly sedert Junie 2019 in die Kaap.

Na ’n miskraam het ons ’n seun in pleegsorg geneem en later aangeneem. Hy het sy droomwerk gevind as polisieman hier in Pretoria. (Boewe, wees gewaarsku!)

My jongste seun het so pas sy graad in film voltooi en ons gaan in Maartmaand sy gradeplegtigheid in die Kaap bywoon. Hy wil daarna as raadgewer by ’n somerkamp in Kanada gaan werk voordat hy homself ernstig in die filmwêreld vestig.

11. Watter oumavreugdes ervaar jy?

My polisiemanseun het so pas van ’n vakansie in die Kaap teruggekom en ’n kaartjie saamgebring waarop my oudste kleindogter I love you, Ouma, I love you, Oupa geskryf en geteken het. Dis daardie onverwagte, onbevange waardering wat so lekker is. En ek geniet dit om vir hulle stories te lees. Hulle luister met hulle hele lyf!

Erna se kinders: Emile, Naomi en Stephen Erna Rheeder oor parfuumeilande en tekens dat ’n kind veilig voel

12. Julle is lief vir reis. Vertel van die hoogtepunte uit die verlede.

My man het pas klaar studeer, toe het ons vir ses maande op die Comores-eilande gaan bly. Hy het daar in ’n klein hospitaaltjie gewerk en ek het allerhande knutselwerkies gedoen en soms saam met die mobiele kliniek na die klein dorpies op die eiland gegaan. Dit was ’n ongelooflike ervaring op ’n pragtige eiland met wit sand, koraalriwwe, kokosneutpalms, baie frangipani’s en Ylang-Ylang. Die soet reuk het aan die eilande die naam “parfuumeilande” gegee. Ons het saam met ’n internasionale span gebly en gewerk – soms ’n uitdaging, maar meestal ’n geweldig verrykende ervaring.

Die volgende hoogtepunt was ’n jaar in Holland toe my man die geleentheid gekry het om in Rotterdam verder te studeer. Land van baie water, kaas en drop wat jy by die mark koop, terwyl jy toekyk hoe die plaaslike mense koppe agtertoe gooi en “verse haring” in die keel laat afsak! Ons het fietsgery en gesien hoe polisie die verkeer stop om eende oor die pad te laat loop. My dogter het skoolgegaan en deur haar maatjie het ons lewenslange vriende met hulle gesin gemaak met wie ons nou weer binnekort saam gaan kuier. Ons het heerlike somersdae en baie grou wintersdae van modder en koue beleef. Daar was ’n klein bietjie sneeu en dan was daar die heerlike verrassing van nuwe bolle wat oral op grasperke hulle koppe in die lente uitgesteek het. Dit het ons tweede huis geword!

Ek het ’n prys gewen wat my Kambodja en Thailand toe geneem het. Dit was ’n totaal ander ervaring van taal, kultuur en kos. Maar dit was onvergeetlik. Die markte, mense in die buurt, sewe mense op ’n motorfiets, die Angkor Watt murasies en die eenvoud van die lewe anderkand die Mekongrivier.

In 2012 het ons en ons twee seuns ’n boot- en fietstoer in Holland meegemaak. Dit was ongelooflik heerlik. Op die boot was daar ’n groep Duitsers, enkele Hollanders en ons vier Suid Afrikaners. Ons het soggens met die boot tot by ’n dorp gevaar, en dan gefiets om weer teen aandete terug op die boot te wees. Dit het ons na ’n ander deel van Holland geneem as wat ons voorheen beleef het. ’n Tweede toer het ons deur die Nasionale park, Hoge Veluwe, geneem waar ons saans kindergelag en jakkalsgeroep gehoor het. Die Arnhem oorlogsmusem was vir die manne ’n hoogtepunt … en ons kuier met ons Hollandse vriende!

Dis lekker, maar telkens ontdek ons weer hoe spesiaal ons eie land is!

13. Julle beplan weer ’n besonderse reis.

My film-seun het ’n klasmaat met ’n kortfilm gehelp wat vir die Florence filmfees genomineer is.

“So, Ma, wil julle nie saamkom en dan toer ons ’n bietjie deur Italië nie?”

Natuurlik sê ons toe ja! Ons toer sluit in ’n paar dae in Taizé, Frankryk; ’n oorslaap in Genève, twee dae op ’n pelgrimsreis in Toskane, die ou stad, Siena, en twee dae in Chianti, die wynbougebied. Dan moet ons Florence verken en die filmfees bywoon – hoe anders? Ons gaan ’n vinnige draai in Assisi maak en dan Rome en Parys verken. Ons Hollandse vriende sluit in Parys by ons aan vir ’n hond-uit-’n-bos-kuier!!

Kontakbesonderhede:

erheeder@savf.co.za

Facebook: SAVF FAMNET

http://famnet.co.za/

http://justdadit.co.za/

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Vinnige salmpasta

Genoeg vir 4. Bestanddele   500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…

9 hours Gelede

Hoe om jou hond se ore skoon te maak

Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…

10 hours Gelede

Gevulde soetrissieslaai

Bestanddele   3-4 groot rooi soetrissies, middeldeur gesny, en wit vliesies en pitte verwyder. sout…

11 hours Gelede

10 goed wat jy kan doen om slegte gewoontes hok te slaan

Ons almal het een of ander slegte gewoonte. Die goeie nuus is dat jy dit…

12 hours Gelede

Van speelskool na grootskool: 5 wenke

Van speelskool na grootskool: 5 wenke deur Mariette Snyman. Foto Pixabay   Om by die…

13 hours Gelede

Verleng die lewe van jou swembroek

Met die strandseisoen op ons, kyk ons na die moets en moenies om te verseker…

13 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.