Energie is ‘n onverklaarbare verskynsel, veral as dit die tipe is wat jy nie het nie. Ek staar altyd in kinderlike verwondering na drawwers wat teen dagbreek die teerpad aandurf. Waar kry hulle die moed om vroeg uit die vere te vlieg, en dan nog te gaan draf?
Naguile se energie verstaan ek. Ek neem elke aand swaar afskeid van ‘n dag wat dalk, wie weet, nog ‘n onverwagsheidjie of twee kon inhou as ek net langer kon wakker bly. Dis natuurlik die soort instelling wat die ouers van jong kinders grys hare gee, maar gelukkig is ek en my kinders almal oud genoeg om onsself in die bed te sit.
Een energie wat niks te doen het met die tyd van die dag nie maar my altyd in my spore laat vassteek, is vonkelende lewenslus. Daar is mense wat die lewe gretig inwag en soggens met die opstaanslag al planne maak om als uit die dag te haal. Hulle wil nuut sien, hoor, ruik, voel, proe, leer en ervaar. Dis asof hulle permanent in ‘n vreemde land op reis is; hulle verwag om verras te word.
Jy kry hierdie lewenshonger onder alle ouderdomme, maar vir my is dit die mooiste by my mede-fifty somethings. Veral die mans. Gee my ‘n man wat elke dag van sy lewe lééf – vir hom sal ek selfs voor hanekraai opstaan en my stapskoene aantrek, mits hy die koffie maak.