Laat in 2016 bied sy ’n funksie enig in sy soort aan. Dance with the Survivors, word dit genoem.
Haar idee is nie sommer so-so nie. Dit is ’n formele aandfunksie by ’n lieflike venue in Muldersdrift buite Johannesburg waartydens kankeroorlewendes dansvertonings lewer saam met professionele dansinstrukteurs. Ek wil nie eens probeer dink hoeveel organisasie in so ’n geleentheid ingaan nie, die harde werk om borge te kry, onderhandelinge, advertensies, kaartjieverkope, die opleiding van die oorlewendes, die reël van vermaaklikheidsterre wat bereid is om hulle tyd gratis af te staan, die mooimaak van die venue. Veronica het met haar eie twee hande geskenkies van draad en krale gemaak en die seer vingers gehad om dit te bewys.
In 2016 was ek, Ina, Janita, Marietjie, Fernanda en Vivian die dansers. Ter voorbereiding het ons elke week een gratis dansles gekry by ’n baie bekende dansskool. Vir my is deel van die herinneringe aan daardie tyd die uitputting. Die chemobehandeling was nog aan die gang, so my lyf was nog aan die veg om te oorleef. Ek was moeg, moeg, moeg. Maar net so vasberade soos my vriendinne om nie vir Veronica, ons instrukteurs en die gaste teleur te stel nie.
Die aand was fantasties. Mooi mense in aandklere, die tafels pragtig versier, kos uit die boonste rakke, pryse wat uitgeloot word en ’n atmosfeer van hoop, moed, liefde en meelewing. Die dansery loop toe goed af, met die gaste wat juig en jil en hande klap en aanmoedig.
Die tweede funksie is gister aangebied – weer by ’n prentjiemooi plekkie in Muldersdrift, gratis beskikbaar gestel deur die eienaars. Die mense wat die dekor (gratis) gedoen het, het die plek in ’n wonderwêreld verander, die vermaaklikheidskunstenaar briljant, die regte, egte ‘High Tea’ eenvoudig uit die boonste rakke.
En die mense. Ai. Hoendervleissake. ’n Lang tou van hulle geklee in hul beste, wagtend om by die saal in te gaan, mense wat met ’n lekker hart geld uithaal vir hierdie belangrike saak. Die man voor my het twee tafels bespreek. Dit moes hom R 7 000 uit die sak gejaag het. Kyk nou net.
Ses dapper dames, elkeen ’n kankeroorlewende, het een na die ander aan die arm van haar dansinstrukteur die dansvloer betree en die gaste in absolute vervoering gehad. Hulle het (gratis) dansrokke aangehad, mooigemaak deur (gratis) professionele mooimaakmense. Ek kon die glimlag met die beste wil ter wêreld nie van my gesig af kry nie. Oral om my was daar mooi in soveel verskillende vorme. Dit is op tye soos hierdie waarin ek van voor af besef waarom God die mens liefhet. Ons is tot soveel lieflik en rein in staat.
“Dit is op tye soos hierdie waarin ek van voor af besef waarom God die mens liefhet”
Soos in 2016 was die hartroerendste oomblik die een waarin die seremoniemeester vra dat elkeen wat al ooit met kanker gediagnoseer is, opstaan.
Stadig, een na die ander, staan die oorlewendes op. Soveel van ons. En vanjaar, net soos verlede jaar, kyk die sittendes met skok en verbasing na die hoeveelheid mense wat staan. Dis een ding om die insidensiesyfers te lees. Dis ’n ander ding om die mense te sien wat deel uitmaak van die statistiek.
Vir my sal hierdie oomblik altyd een van hoop wees. Kyk hoeveel mense staan. Stáán.
Oorlewendes.
Oorwinnaars.