Liewe Steve,
Nou’s jy 50.
Geweet jy deel dié mylpaal met Sandra Bullock, Courtney Love, Courteney Cox, Wynonna Judd, Melissa Gilbert, Russell Crowe, Nicolas Cage, Matt Dillon, Rob Lowe, Elle Macpherson, Mary-Louise Parker, Keanu Reeves, Calista Flockhart, Marisa Tomei, Teri Hatcher en nog ’n hele paar ander? Interessante, rebelse lotjie, as ek dié Klub van Vyftig só bekyk.
Vyf dekades, ’n halfeeu oud. In dié tyd het jy dit reggekry dat mense jou aanbid én verafsku, toustaan om jou te sien en hoor óf draaie om jou loop, tydskrifte en koerante koop as jy die hoofstorie word óf lang debatte voer oor hoe jy die nasie opsweep, aanpraat en aanvat.
Daar’s dié wat van jou hou en dié wat jou haat. Dié wie se knieë jy laat knak en dié wie neusoptrekkerig ander pad kyk.
En ek? Ek het geweet, maar weet nie meer hoe ek oor jou voel nie. Vandag wil ek eintlik net sê: baie geluk. Omdat my ma my so grootgemaak het – verjaardae bring koek, presente én vergifnis.
Eendag, eendag as ek die moed bymekaar het om jou tromp-op te loop as ek jou hoed-oor-die-oë tussen die boekwinkel se rakke sien skuil, wil ek jou sitmaak vir koffie en ’n lang rits vrae vra. Ek wil praat oor wat jy lees, wat jy skryf en wat jy regtig dink van die goed wat jou aanhangers én haters alles in die openbaar kwytraak. Oor jou. En oor jou mense. Ek wil weet hoekom jy doen wat jy doen as jy nie sing of skryf nie.
En nee. Ek wil nie praat oor Die Stem-gedoente nie, net soos ek destyds nie wou praat oor of luister na Bok van Blerk se Ons vir jou Suid-Afrika nie. Daai goed sit nie vir my lekker nie. Of wag, dalk, net dalk moet ons tóg daaroor praat.
Jy ken my nie (die enigste ooreenkoms tussen ons is dat ons in dieselfde week verjaar), al pryk daar iewers op my elektronika verskeie foto’s van ons saam. Foto’s wat my familie en vriende veroordelend laat grinnik. Ek steur my lankal nie.
Sien, ek dink jy’s ’n goeie ou. ’n Pa wat dit regkry om in die openbaar ’n saamgestelde kroos groot te kry. Dít sit nie in elke ou se broek nie. En ja, ’n briljante bemarker.
Ek kan nie ignoreer dat jy behoeftes van ’n bepaalde mark aanspreek nie. Soms, soms dink ek (dalk naïef) dat hul reaksie oor jou manewales baie meer sê oor hulle as oor jou. Maar dis nie waaroor hierdie brief gaan nie.
Ek skryf om te sê: baie geluk. Jy’s vyftig. Vier dit.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za