Emo Adams die ernstige (en dis nie ’n grap nie) deur Ilse Salzwedel. Foto’s deur Nelis Engelbrecht van Light Lounge Studios
Emo Adams vier vanjaar drie mylpale: sy veertigste verjaarsdag, dertig jaar in die vermaaklikheidsbedryf en tien jaar sedertsy eerste Afrikaanse album Tall, Dark en Afrikaans.
Met sy komiese sjarme – “ek weet ek lyk nog nie veertig nie, maar ek was nog met daai groen Sunlightseep” – en fenomenale sangtalent het hy die afgelope dekade of wat Afrikaanse harte van die Kaap tot Koekenaap verower, en in die proses daarin geslaag om mure tussen rasse af te breek – want Emo is ewe gewild onder die jonges as onder ouer Afrikaanse ooms en tantes. Want waar Emo is, is PRET – in hoofletters.
In sy TV-program “Jou Show” met Emo het hy nou al ’n hele paar seisoene lank die draak gesteek met alles en almal, en kykers en resensente was ewe beïndruk. (Die program is die afgelope paar jaar al met sewe ATKVeertjies bekroon.)
Vir hierdie “outjie van Mitchells Plain” het alles in sy pa se amateurtoneelgroep op die Kaapse Vlakte begin. Hy was nege toe hy sy eerste professionele rol op die verhoog gespeel het in David Kramer en Taliep Petersen se District Six: The Musical. Van daar het sy pad mettertyd geloop tot by Londen se Weseinde waar hy die hoofrol vertolk het in Kat and The Kings. Maar terug in Suid- Afrika, was hy lus om iets in Afrikaans te doen. Dit was immers sy huistaal, die taal van sy geliefde Vlakte.
“Ek het ’n ruk lank weggehardloop van my identiteit, want ek wou ’n beter en groter lewe hê buite Suid-Afrika,” vertel hy op sy reguit, eiesoortige manier. Hy het weer vir Taliep gewerk, hierdie keer in die kykNET-komedie Alie Barber. Dit was die eerste keer wat hy as professionele akteur net in Afrikaans gewerk het. Sy Afrikaanse loopbaan was ’n direkte uitvloeisel hiervan. “Ek het Afrikaans grootgeword, maar al die musicals wat ek vir Taliep-hulle gedoen het, was in Engels met net so hier en daar ’n Afrikaanse woord. Maar alles by my pa se dramagroep was in Afrikaans. Ons het dit gepraat by die skool, by die kerk, by die moskee.”
“So, my besluit om in Afrikaans te werk, was nie ’n geval van skielik het ek Afrikaans gevind nie – ek moes eers gemaklik raak met my Afrikaans. Of nee, eintlik moet ek seker sê ék was gemaklik daarmee, maar nie almal om my was nie. Daar was maar altyd ’n fight binne-in my oor wat aanvaarbaar is in my werk, en wat nie.”
Toe Emo in dieselfde tyd genader is om deel te wees van Huisgenoot se negentigste verjaarsdagvieringe saam met sangers soos Bobby van Jaarsveld, het hy Taliep se raad gaan vra. “Hy’t gesê dis die regte ding op die regte tyd, maar dat ek net nooit moet vergeet wie ek is nie.”
As hy getwyfel het oor sy besluit om die Afrikaanse rigting te gaan, het sy mentor altyd gesê: “Emo, moenie worry nie, man. Wie’s soos jou?” Die album Tall, Dark en Afrikaans het gevolg, en tien jaar later is hy steeds een van die blinkste sterre op die Afrikaanse horison.
Deesdae is Emo heel gemaklik in sy vel, dankie. “En daarvoor moet ek my ma, my pa, David Kramer, Taliep en al die ander mense bedank wat daartoe bygedra het.”
Maar hoekom het Emo, ’n fyn waarnemer en filosoof wat aanvanklik sielkunde studeer het, juis musiek vir ’n loopbaan gekies? “Ek het geweet musiek is ’n baie kragtige medium. Dit speel onbewustelik ’n groot rol in ons alledaagse lewe. As jy in ’n goeie bui is, luister jy musiek. As iemand jou hart gebreek het, luister jy óók musiek. Daar is musiek vir alles, vir elke bui. Dit verduidelik ons emosie, en sê amper vir ons hoe ons moet voel. Musiek is die een ding wat ek by my shows kan beheer – as mense deur ’n moeilike tyd gaan, is dit my job om dit agter te kom en te sorg dat hulle met ’n smile daar uitstap. ”
Hy het dalk so half per ongeluk in Afrikaans begin werk, maar moenie dink hy het enige iets in sy loopbaan daarna net aan die toeval oorgelaat nie. Daar het fyn beplanning en baie harde werk ingegaan in die skep van wat hy die Emo-handelsmerk noem.
“Dalk omdat ek sielkunde geswot het, of dalk omdat ek hou van musiek en teater, of dalk ’n samevoeging van alles. Maar ek het besef ek moet ’n brand bou. Laat mense in jou brand glo eerder as in die produk wat jy verkoop. Want as mense eers daarin glo, maak dit eintlik nie saak wat jy verkoop nie.”
Dat dit werk, is duidelik wanneer jy hoor sy eerste én laaste Afrikaanse album was Tall, Dark en Afrikaans in 2008. En steeds stroom die mense na sy vertonings …
Kan ’n mens sy musiektalent terugtrek na sy pa toe? (Emo se broer, Loukmaan, is ook ’n bekende sanger.) “Ek weet nie regtig of jy kan sê ons is ’n musikale familie nie, want niemand in ons familie speelenige instrumente nie. Ek ook nie. Maar my pa het ’n ongelooflike oor vir musiek, hy was van jongs af ’n koormeester vir Maleierkore en Kaapse Klopse. Ek dink die musiekding het maar net gebeur omdat hy my en my broer altyd saamgesleep het na al die repetisies van die kore. Hy het ons gedwing om te gaan in ’n stadium van my lewe toe ek regtig nie wou gegaan het nie. Maar dit was beslis tot my voordeel, want ek het nie net geleer hoe ons musiek werk nie, maar ook hoe ons kultuur werk en wat ons musiekgewys tot ons kultuur bydra. En dit het my baie van ’n groot spektrum musiek geleer.”
Baie mense weet dit nie, maar daar is ’n groot verskil tussen Maleierkore en Kaapse Klopse. “Die Klopse gaan mal en sing enige iets. Daar is nie eintlik enige reëls daar nie. Maar Maleierkore is die enigste mense wat nog oorspronklike Nederlandse liedjies sing. Jy mag niks daaraan verander nie – jy moet dit sing in Nederlands soos wat die mense destyds geleer het toe hulle nog slawe was. Hulle sing dit steeds in dieselfde vorm, maar sing dit nou ’n bietjie mooier, met harmonieë en dinge. So, dis eintlik ’n lieflike stuk geskiedenis waarna mooi gekyk is.”
Emo is deesdae nie net sanger nie, maar ook vervaardiger en regisseur wat ondermeer die Taliep Petersenhuldigingskonsert vir kykNET gedoen het, asook ’n huldeblyk om die Kaapse groep die Rockets se vyftigste bestaansjaar te vier. Hy was ook voor én agter die skerms vir ’n kykNET- program om sy eie dertig jaar in die bedryf te vier. “Ek is baie dankbaar vir die kans om my kreatiwiteit ’n bietjie te versprei.”
Al kan Emo gehore laat skater, beskou hy hom geensins as ’n komediant nie. “Ek het maar net altyd die prettige, ligter kant van die lewe raakgesien. Ek sien snaakse goed en kan snaakse stories vertel – dis eintlik net ’n lekker intro vir my musiek en om dit meer relatable te maak. Maar eintlik is ek glad nie snaaks nie. Moenie vir my in ’n winkelsentrum kom vra om ’n joke te vertel nie. My brein werk net nie so nie.”
Hy berei net ’n breë tema voor vir sy Jou Show met Emo. Hoe werk die program dan? “Dis net goed wat in my kop spring, en dan connect my brein my mond. Wat daar uitkom op daai oomblik … ek kan nie help vir daai nie.” So snaaks as wat hy kan wees, so ernstig en filosofies kan Emo Adams wees. Met sy musiek wil hy ook ’n verskil maak. “Ek weet nie of dit my opvoeding of my velkleur is, of die feit dat ons arm grootgeword het nie, maar ek het gevoel ek wil ’n advocate wees – nie noodwendig vir bruin mense nie, maar vir alle mense. Want die lewe móét beter wees. Dit moet great wees! Ek dink nie ons is geskep en in so ’n fantastiese plek op aarde gesit om net probleme te hê nie. Ek weet daar is iets groter as ons. Ek wil die advocate wees wat vir mense sê probleme behoort nie gegrond te wees op kleur of godsdienstige oortuiging of politiek nie. Daar is baie meer in die lewe. Dis hoekom mense na my shows toe kom en dit geniet. Alle rasse, alle ouderdomme – van ses tot ses- en-sestig. Maar ek het dit nie beplan nie – ek het maar net ’n different uitkyk op die lewe, en ek dink mense like hoe ek die lewe sien. Iets in my inner being inspire mense.”
Dit was ook vir Emo belangrik om stereotipes rondom bruin mense te verbreek. “Ek wil die ander kant van ’n bruin gemeenskap wys. Ek kry soms rolle in flieks wat ek weier, want dit gaan altyd oor gangs en goed, en ek voel daar is baie meer wat ons is en wat ons kan wees. Ek herinner mense aan al daardie beter goed, en dat hulle nie moet toelaat dat hul omstandighede dikteer wat vorentoe op hul pad gebeur nie. Onthou, ek het dit geleef – ek was arm en is beperk deur my velkleur. So, ek weet hoe dit voel. Ek is ’n laaitie van Mitchells Plain wat ’n lead rol gespeel het op West End. Daar is baie mense wat akteurskole toe gegaan het om dit te doen en dit nie regkry nie.”
As hy terugkyk op dertig jaar in die bedryf, wat weet hy nou? “Dertig jaar gelede het ek gedink my doel is om beroemd te wees. Nou weet ek dis nie dit nie. My doel is eintlik om mense te help – op my manier. Ek het geswot om ’n sielkundige te wees, want dis hoe ek mense wou help. Nou doen ek dit net op ’n ander manier: op die verhoog, met ’n mikrofoon in my hand.”
“Afrikaans sal oorleef”
Emo is glad nie bekommerd oor die toekoms van Afrikaans nie. “Ek weet nie eens waar die gesprek begin het dat dit kan uitsterf nie. Onthou maar dat Afrikaans die taal is wat die tweede meeste gepraat word in ons land. Engels is maar vyfde op die lys – die ander is almal inheemse tale.”
Hoekom sal die taal oorleef? “Want mense druk hulself verskillend uit, en dis wat Afrikaans so uniek en mooi maak. Gaan luister ’n bietjie na liedjies soos ‘Skipskop’, ‘Kinders van die wind’ en Coenie de Villiers se ‘Klein-Karoo’ – dis liedjies wat net in Afrikaans gesing kan word. Dis wat Afrikaans so uniek en mooi maak. En ons taal het wonderlike ondersteuning en infrastruktuur soos kunstefeeste. En selfs as ons net vyftig mense is wat oorbly wat Afrikaans is, maak dit nie van ons ’n unieke groep nie?”
30 Jaar se lesse
- Daar is beslis nie kortpaaie na sukses nie. “Die enigste pad is om hard te werk.”
- Moenie dink jy is beter as ander nie. “Want jy is nie.”
- “Love what you do, and if you don’t love it, change it!”
- Moenie mense in die rug steek nie, en wees opreg. “Moenie sleg praat van ander mense nie, maar maak seker ander mense praat van dit wat jy reg doen.”