Sien, ons ma en ouma se derde boek is op die rak (en ja, kyk bietjie, sy’s Mariël le Roux, in Augustus rooi rose se Skrywer van die Maand). Ons bars van trots; in die binnekring stuur ek, Pappa en my drie broers en skoonsusters e-posse en koerant- en tydskrifknipsels heen-en-weer om ons opgewondenheid oor Mamma se Klara-boek te deel. Want op 65 bly dít ‘n inspirerende storie, dié ding dat ons verpleegster-ma nou ‘n skrywer genoem word. Dis eers by die eerste boekbekendstelling in die skone Stellenbosch wat ek besef wat ‘n boek aan ‘n familie- en vriendekring kan doen. Ma se boek. Ons boek.
Ooms en tannies uit ons verlede, ons grootmaak-ma Evelina se kinders en kleinkinders, mede-verpleegsters uit ons kindertyd, vriende, vriendinne en nuuskieriges. Gesigte en stemme doen moeite om in dié storie te deel. ‘n Boek trek ons lewe bymekaar. ‘n Boek gee Ma se drome vlerke. ‘n Boek laat ons dink oor dít wat ons met ons lewe doen. Laat my dink.
Al ooit gewonder of jy te oud is om iets nuuts te leer? Dalk is dit daardie middeljare-ding (ja, ek’s ook anderkant veertig)? Dalk Ma se Klara-boek? Ek wonder.
Is dit te laat om medies te gaan swot, vra ek die week op Facebook.
“Ja.” Kort-en-kragtig antwoord my jongste broer. “Dis nooit te laat nie,” sê KykNet-Kokkedoor-vriendin Marinda Engelbrecht. “Marí, Marí, Marí . . . dan kan ek onderwys doen, my droom,” kom dit van Dale-wat-my-so-goed-ken. “Neeeeee, asseblief nie, dan sien ons jou nooit nie,” sê skoolmaat Tricia, my gewete. “Jou werksure is reeds lank genoeg,” praat my universiteits-kamermaat Anéne.
Ek wonder tóg. Elkeen het sy eie storie. Maar met soveel geleenthede daar buite, hoe kies jy die regte hoofstuk op die regte tyd? Hoe gebruik jy een lewe op? Sinvol op? Hoe lees daardie storie? Hoe kies skoolverlaters deesdae?
Die vrae bly draal in my kop toe ek by die koffiewinkel instap. Ek is kriewelrig, dolgelukkig in my werk, maar op soek na ‘n nuwe uitdaging. Altyd op soek na nog iets om te doen, nog iets om my lewe vol(ler) te maak. Sommer-net kriewelrig.
Daar, op die swartbord teen die muur staan dit, in skoolbordkryt-sentiment:
“Live as if you were to die tomorrow. Learn as if you were to live forever.” Ja, Mahatma Gandhi, dink ek. Vandag praat jy met my. Ek dink weer aan Klara, ‘n boek oor die vreemde draaie wat die lewe soms met jou gooi. En hoe gelukkig ons wat keuses het is. Ook: hoe heerlik dit is om die stories van hierdie keuses met ander te deel. Ooms, tannies, grootmaak-ma’s, kinders, kleinkinders, vriende, vriendinne en nuuskieriges. Elkeen het sy eie storie, dít hou ons lewe bymekaar.
So, wat dink jy, is dit te laat om medies te gaan swot?
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za