Dit was laat in November 1984 toe ek, pas sewe, op my eerste kamp gegaan het. Ek was deel van die graad een Skilpadjiespan van ons laerskool se Voortrekkers. Wat ons groepie meisiekinners gekort het in kampervaring, het ons mee opgemaak in entoesiasme.
Op my heeleerste kamplysie was die gewone: slaapsak, hoed, swembroek, ensomeer. Maar, ek onthou ook “pakkie bruin uiesop”. Want sien, die hoogtepunt van die jaarlikse Voortrekkerkamp was die potjiekoskompetisie die Saterdagaand. En, al was nie een van ons ‘n kulinêre wonder op sewe nie, het ons ywerig uie gekap, groente geskil en gehoop die vleis onder in die pot braai gaar, maar verkool nie.
Groot was ons vreugde toe die beoordelaars ons Skilpadjies se poging as die wenpotjie aanwys! Vandaar af het ons elke jaar gesorg vir ‘n pakkie soppoeier – ons geheime bestanddeel.
Van die volgende ses jaar se kampe onthou ek stowwerige parades in ons bruin rompies, bruin hemde, bruin kappie-agtige hoede en kentekens op die hemde wat getuig van ons groeiende vaardighede in seinkuns, spoorsny en touknoop.
Ek onthou ook een snikhete kamp by Viljoenskroon waar nie almal elke dag kans gekry het om te stort nie. ’n Week in die hoogsomer in ’n warm weermagtent, stowwerige parades en energieke avonture in die natuur later, kon ek seker nie my pa kwalik neem toe hy my by die bus kom haal en vra of ek nie dalk eerder die vier blokke huis toe wil stap nie… Daar is min dinge so lekker soos die eerste ordentlike bad na ’n kamp.
Aan die einde van my graad 7-jaar, het ons Kaap toe getrek en ek het nie weer ingeskakel by die Voortrekkers nie.
Maar, hoërskool het vele kampe opgelewer: CSV-kampe by Melkbos, leierskapskampe in die Boland en selfs ’n oorlewingskamp á là Survivor buite Simonstad. Ek was in my standerd 9-jaar een van drie “gelukkiges” van my skool wat gekies is om vir ’n week lank deur weermagoffisiere verskree te word van soggens tot laat saans en vir ’n paar dae met ’n rugsak wat minstens twee maal soveel soos ek geweeg het, deur ’n wilde woudagtige woesterny bergop en bergaf te ploeter.
“Die sotte stap aan deur die stof… Ongeduldig, iesegrimmig, verwese …”
Toe ons op die voorlaaste aand van die kamp in ’n weermagbus gelaai en Kasteel toe geneem is vir die jaarlikse taptoe, was ek nie die enigste een wat die twintig kilometer wou voetslaan N1 langs terug na my sagte bedjie in my ouerhuis nie.
Maar, verdwaal in die vreemde, kompaskapperjolle en ’n omgekrapte gestel weens kampkos ten spyt, het ons almal ’n traan gestort met die groetslag. Myne was weliswaar meer trane van verligting.
Hoewel ek heerlike herinneringe aan (die meeste) skoolkampe koester, is ek as volwassene nie jou deursnee “happy camper” nie. Ek voel ek het my strepies en my sepies – deesdae met warm water in ’n stort sonder voetskimmel en spinnekoppe – verdien destyds.
En, hoewel ek ook die waarde insien om kinders bloot te stel aan die natuur, sukkel ek om die konsep van kamp met al jou luukshede klein te kry.
Deesdae se kampwaens lyk vir my meer na viersterhotelle in skakerings van khakigroen. Daar is koningsgrootte beddens met donsige wit linne oorgetrek, luukse kombuise, kykgenotskottels op die dak en oorgenoeg elektriese kabels om te sorg dat die platskerm-TV, Playstation, haardroër, krultang en wasmasjien nie hoef beurte te maak vir ’n kragpunt nie.
Ek mis hier bietjie die punt.
Maar, elke natuurliefhebberdiertjie sy of haar plesiertjie – al beteken dit jy wil alles én die kombuiswasbak én die skottelgoedwasser inpak.
Dit is seker maar die oorblyfsels van my Voortrekker-drawwertjiedae, maar ek sal graag aan my kinders ’n kampervaringwil gee wat tentopslaan en stories vertel om die kampvuur behels sonder dat ’n TV-skedule of raserige elektroniese speletjies daarmee wedywer. Eenvoudige, gesonde kampkos in plaas van ’n driegang maaltyd wat voorberei is op ’n veelsydige gasbraaier so groot soos ’n klein karavaan. ’n Vissie op die kole wat self met ’n eenvoudige visstok en “pap-en-aas” gevang is – al vermoed ek my sewejarige dramakwien sal só ‘n keel opsit, ons sal die vis oombliklik weer moet teruggooi in die kampterrein se kabbelende waterstroompie.
Intussen het haar Ouboet vandeesweek op sy negende verjaardag op sy eerste kamp gegaan. ’n Karatekamp van drie nagte ter voorbereiding van hulle gradering.
Hierdie ma het knop-in-die-keel die nuwe slaapsak, eetgerei en ander kampbenodighede gekoop en hom onderlangs fyn dopgehou, maar hy het oorgeloop van opgewondenheid oor dié nuwe avontuur.
Gaan hy genoeg eet? Sal hy onthou om sy tande te borsel en hare te kam? Sal hy regkom as hy in die nag moet badkamer toe tussen die hordes slaapsakke van sy mede-karatekampeerders deur? Gaan hy sy ma verlang? Gaan hy nié sy ma verlang nié…?
Met die aflaaislag, het ek nog bietjie rondgestaan en gehuiwer saam met die ander mammas. Tot hy ferm en effens te hard vir my brose senuwees gesê het: “Mamma, gaan nou net, as-se-bliefff..!”
Die knaap was rég vir sy eerste kampavontuur. Sy ma se hart sal hopelik weldra inhaal.
Of jy nou die komende vakansie deurbring in ’n tweemantentjie by Tietiesbaai, in ’n luukse safaritent op die oewer van die Sabierivier, of sommer net in jou hangmat op jou agterstoep – my wens is dat jy ’n baie geseënde en gelukkige feestyd saam met jou hartsmense sal deurbring. Met genoeg luukses en vars lug en rus om behoorlik af te skakel voor die nuwe jaar.