Dis ’n storie wat klink soos iets uit ’n sprokie. ’n Jong man wat iewers in die straat staan en sing. ’n Vrou wat hoor. ’n video maak en dit op die Internet laai. Oornag praat ons almal van Refentse Morake, so asof ons hom al jare ken. Die jong man van Vereeniging wat nuwe lewe blaas in Golden Oldies soos Lisa se Klavier, Jantjie, Ou Ryperd, Sonvanger en Steve se Pampoen.
“Middag Tannie,” groet hy. Ek wil-wil antwoord met ’n “Ek’s nie jou Tannie nie,” maar hy kyk bril, hoodie en al so diep in my binneste dat ek geen woord uitkry nie. Dis Donderdagmiddag, hy is die gaskunstenaar by ’n dubbele viering: die afskeid van ’n geliefde kollega en die feestelike viering van Vrouedag.
Ek is bleker en broser as gewoonlik: ’n week of twee van verandering eis sy tol. ’n Nuwe skoolkwartaal, twee siek kinders, ’n kantoortrek, ’n nuwe job, ‘n nuwe span, ’n siek man. . .
Op dié Donderdag doen ek wat die vroue in my kop sal doen. Oorle oumas, my ma, my tantes, skoonsusters, ’n vriendin of ses. Lipstick aan. Smile and wave. Of, praat ek met myself, soos die dierbare Dory vir Nemo sal sê: “Just keep swimming. Just keep swimming. What do we do, we swim, swim, swim . . .” Ek’s immers ’n Eva, en stilsit, stilbly of lê is nooit ’n opsie nie.
Dis hy wat my terugbring werklikheid toe, dié jong man wie se musiek tans topverkoper-status het, wil President word en wat verlede jaar nog op die skoolbanke gesit het. Hy sing met die deernis en diepte van ’n stokou siel, en gee plek-plek sy jeugdigheid weg as hy vertel hoe hy nog eendag ’n meisie gaan soen. Regtig gaan soen. Om my sien ek die susters swymel en sug, hul koppe iewers tussen onthou . . . en wens.
My kop is by Cecilia Kruger Marchionna, die vrou wie se Facebook-profiel haar tussen hakies as Kleintjie beskryf. Ek wonder of dié Tannie (en ek is oortuig daarvan hy noem haar ook Tannie) weet hoe groot hierdie ontdekking van haar regtig is? En dat niks wat sy doen tussen hakies hoort nie. Sy’t gedoen wat ek glo vroue doen: iets gesien, gehoor, en dadelik besluit om die wêreld te vertel. Stilsit, stilbly of lê was nooit ’n opsie nie.
“Dankie Tannie,” sê hy met die groet, ná hy almal weer herinner het aan Berthold Auerbach se wyse “Music washes away from the soul the dust of everyday life”. Ek wil-wil antwoord met ’n “Ek wens ek was jou Tannie” besluit dan hy’s nog te jonk om regtig te verstaan. Cecilia Kruger Marchionna sal. Die vroue in my kop ook. En die een wat hy eendag gaan soen. Regtig gaan soen.
Tot volgende week,
Marí