Ek verstaan nie die onblusbare lus vir wortelkoek wat my op ’n Sondagmiddag skuins na vier tref nie. Ek verstaan nie hoekom die rondste van vroue kies om hulself in lae vormloosheid toe te wikkel nie. Ek verstaan nie hoekom die prys van petrol en diesel van plek-tot-plek in Suid-Afrika wissel nie (ok, ok …) Ek verstaan nie hoe vliegtuie tussen die geskud en geskommel in die lug bly nie. Ek verstaan nie (altyd) my Graad 5-kind se Wiskunde-huiswerk nie. Ek verstaan nie hoekom sommiges meer huil en lag as ander nie.
Ek verstaan nie hoe Eskom se base snags rustig kan slaap nie (om van ’n paar ander in leiersposisies nie eens te praat nie).
Ek verstaan nie die politiek nie. Wonder of jy doen?
Maar vandag, vandag verstaan ek niks. Ek verstaan nie die foto’s voor my op die skerm nie. Mense wat bloei, mense wat brand, mense wat veg, mense wat sterf. Mense.
Ek verstaan nie xenofobie nie. Regtig nie. Skryf dan:
Liewe Jacob,
Ek wonder of jy verstaan?
’n Paar jaar gelede het jy uit Zimbabwe gevlug om ’n nuwe potjie te kom krap. Jy’t ’n nuwe koers gekies en, al het jy matriek en al lees jy wyd, het jy gekies om in ander se tuine te begin werk. Met ’n “Morning Ma’am, how are you Ma’am, God is good to me Ma’am, hope He’s good to you too Ma’am” het jy ander onder die stof gewerk.
Later trots vertel jou papierwerk is agtermekaar (al moet jy dit gereeld hernu), jou vrou is op pad, jou bankrekening is oop, jou plan begin werk. Al slaap jy, sy en ’n paar ander steeds om die beurt op ’n bed. Al lag jy oopmond toe jy die kind in ons huis se driekwartbed moet skuif, want, sê jy, daar’s dan slaapplek vir drie.
“God is good to me, Ma’am. . .”
Ja, Jacob. Dankie, Jacob. Sien jou volgende week, Jacob.
Verstaan jy xenofobie, Jacob? Ken jy die mense wat bloei, brand, veg en sterf, Jacob? Is julle veilig, Jacob?
Sê as ons moet help, Jacob?
Liefde vir jou vrou, Jacob.
Ma’am
Skryf ek. Verstaan ook nie regtig wat ek probeer sê nie. Dalk dit:
Aan die lus vir wortelkoek kan ek iets doen, die vormlose rondes ignoreer en probeer luister die volgende keer as iemand die prysverskil tussen petrol en diesel vir die soveelste keer verduidelik. Ek kan minder vlieg sodat die geskud en geskommel my nie pla nie, iemand kry om my kind met sy Wiskunde-huiswerk te help, lag en huil wanneer ek wil en ander los om hul eie keuses te maak.
Vrede maak dat ek Eskom en sy base nooit sal verstaan nie. En aanhou lees oor die politiek. Dalk verstaan ek, eendag.
Ek sal xenofobie (en die meeste ander fobies) nooit verstaan nie. Maar ek sal my kinders leer: elke mens het die reg om mens te wees. Jy’t geen reg oor ’n ander se menswees nie. Ek sal aanhou bid vir dié wat bloei, brand, veg en sterf.
“God is good to me Ma’am, hope He’s good to you too Ma’am. . .”
Mag dit waar wees, Jacob. Vir ons almal. Sodat ek, jy en ons kan verstaan.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za