Black Swan is een van daardie briljante, ryk geskakeerde flieks waaroor jy ure wonder omdat dit soveel kwessies in die verhaal inweef. Daar is allereers liefdevolle maar ambisieuse ouerdruk, saam met selfdruk, groepsdruk, afguns, eetobsessies, dwelms, prima donnas, lesbiese seks, ego’s en die kort raklewe van ballerinas. Die gebruik van seks vir manipulasie en inspirasie laat jou hare rys. Boonop is Nina ongediagnoseer psigoties sodat jy nie altyd maklik onderskei tussen die werklikheid en haar verbeelde werklikheid nie. En dan is daar die rou wond op haar rug. Die fliek bied dit amper as ’n nagedagte aan. Dis aanvanklik net nou en dan die fokus. Maar dit groei. Eers is daar die skaafplek; later sien jy dat haar hand skelm soontoe glip; later sien jy dit is sy wat onbewus krap dat die bloed loop. Teen die einde wys ’n toneel hoe sy ’n bloederige reep vel trek, uitskeur en losruk … en hoeveel verligting sy daaruit put. Nina is nie net psigoties nie. In dié Swaan skuil ook ’n selfvernietigende velkrapper. ’n Skadukant wat amper 6% van tiener- en twintigermeisies met haar deel. Boonop lyk dit of die verskynsel toeneem – en weet bitter min ouers hoe belangrik dit is om bedag te wees daarop, voor dit hul dogters se lewe oorneem.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
Ons loop selferkende velpikker Susan Erwee raak. In goeie weke is die haarlose kol op haar kop gesond; in slegter tye is dit ’n oop, rou wond. Is dit velkrappery soos in die fliek? “Ek het nie die fliek gesien nie maar ek kan vertel hoe dit is,” sê hierdie besige, effe sku enkelma wat graag op Oos-Londen se strande tyd met haar dogter, Liesl, deurbring, muurbal speel, haar vaste kwota kilometers per week draf en maklik tien uur per dag agter die rekenaar insit. “Eers is ek onbewus daarvan. Maar as ek my kom kry, is my hand op my kop. Die vryf gee ’n onbeskryflike soort gevoel. Dit is asof die vryf-en-krap my help dink, asof ek ’n bietjie rustiger is, of nie so angstig is nie, asof ek veiliger en geanker is. “Daar is ook die kwessie van jeuk. Nes dit gesond word, begin dit jeuk. Maar dis nie soos ’n gewone jeuk nie. Dit is soos ’n gevoel dat ek aan my kop móét vat, asof iets my hand dwing. En dan vryf en krap ek en so begin alles van vooraf. Op die lang duur kan die plek nie gesond word nie, want ek krap dit altyd. My kol is seker nou permanent, want ek dink nie die hare gaan teruggroei nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }“Eintlik is ek oraloor jeukerig. Ek betrap my voortdurend dat ek iewers aan myself krap, veral as ek effens gespanne raak. Ek was een van daardie tieners wat kougom gekou het asof my lewe daarvan afhang – veral as ek stres gehad het … wat my nou laat wonder of dit dieselfde soort ding is.” Net soos Nina het Susan nie aanvanklik besef dat dit sy sélf is wat haar kopvel stukkend krap nie. Die kaal kol op haar kop het haar net baie selfbewus gemaak.
“Ek het fanaties daaroor geword dat niemand my van bo-af mag sien nie, of agter my mag staan nie. Naderhand wou ek nêrens heen gaan nie – nie sonder ’n hoed of iets op my kop nie. Ek het boonop die kol met Bactroban (’n antibiotiese salf) behandel, wat my hare olierig maak en dan lyk ek nie goed nie. “Al mens wat van my kol mag geweet het, was my haarkapster. Dit was ook net omdat ek haar nodig gehad het om my hare so te stileer dat dit oor die kol val. “Ek het gedink ek verloor hare weens stres. Ek was juis toe besig om te skei en het oorgenoeg daarvan in my lewe gehad. “Toe ’n sielkundige my daarmee konfronteer dat ek die oorsaak van die kaal kol op my kop is, was ek stomgeslaan. Ek wou haar nie glo nie. Ek het immers nie oor die kol gepraat nie en was daar oor my depressie, aandagafleibaarheid en my erge PMS.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Soos vir Nina – en vir die meeste velpikkers – gaan krappery gepaard met komplekse gemoedsgesondheid. Susan is aandagafleibaar en sukkel boonop met ’n erge graad van PMS – so erg dat sy glo dit het haar haar huwelik gekos. “Vyf dae elke vier weke is my lewe hel – en gee ek almal om my opdraand.
Twee dae lank is ek verstrooid en leëkop. Dan volg twee van my aggressiewe dae: ek verskree almal. Tot my skaamte en skade. Ek het al twee verhoudings hieroor verloor. “Die laaste dag pak ’n uiters donker depressie my. Ek voel anders, asof ek buite beheer is. Ek verstaan wat mense bedoel as hulle sê iemand se ‘kop het uitgehaak’, want dit is hoe dit voel. Ek weet ek is nie rasioneel nie maar ek kan dit nie beheer nie. Ek kan myself nie kalmeer en rustiger kry nie. Ek is net een bondel onbeheersde reaksie. Ek is elke keer op my perdjie en pluis kwessies aggressief uit. “Dit is op dae soos dié dat ek my eks om ’n egskeiding gedagvaar het, en my werk bedank het omdat hulle nie vir my die regte boekhoupakket wou aankoop nie.”
“Eers het ek gedink dit is net ’n gewoontetjie wat ek aangeleer het – amper soos naelskou, wat ek nog nooit gedoen het nie. “Maar dit is baie moeilik om af te leer, want ek weet nie dat ek dit doen nie. As ek my weer kom kry, is ek klaar aan die krap. Al wat ek weet, is dat ek begin krap as ek stres het. Soos nou. Die telefoon is nog ’n stressor. As ek moet dink en wonder wat om te besluit ook. Ek doen dit nie as ek besig is nie – net as ek alleen is.” Behandeling, sê prof. Christine Lochner van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, is kompleks.
“Mense kan krap weens fisieke oorsake soos aknee en ekseem, wat ons uitskakel voor ons sê dis velpikkery. Ons weet reeds velpik is anders as ’n gewoonte. Dit het waarskynlik met breinchemie te doen, net so trigotilomanie (waar mense hul hare uitpluk en eet) en obsessief-kompulsiewe sindroom (waar mense in sekere gedragspatrone vashaak). Ons doen juis baie navorsing hieroor in Suid-Afrika.”
As jy velpik, obsessief-kompulsief is, of trigotilomanie het, nooi Christine jou uit om deel te word van die projek. Jy moet regshandig en tussen 18 en 65 wees. Kontak hulle by 021 938 9762.
Prof. Christine Lochner, een van ons voorste kenners, vat velpikkery saam:
1 Toets of jy ’n krapper is by http://rooiroseluister.wordpress.com
2 Raak ingelig: Hier is ’n goeie bron www.trich.org
3 Hou dagboek: teken aan hoe jou wond lyk en wat alles in jou lewe aan die gang is
4 Wys jou dagboek wat jou sneller? Pik jy as jy stres, of spesifieke dinge doen?
5 Wat kan jy doen om die snellers te vermy?
6 Keer jouself deur handskoene te dra of pleisters oor jou vingers te plak
7 Die beste bly berading, soos by SADAG op 011 262 6396
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Lewer sowat 9 kranse Bestanddele 100 g (160 ml) koekmeel 175 ml water…
Hierdie webwerf gebruik koekies.