Vanaf die eerste dag ná chemo hou ek die hoeveelheid hare wat in my borsel agterbly met ‘n valkoog dop. Ek weet my hare behoort eers teen die tweede week na chemo uit te val, maar nogtans kyk ek. Elke keer as ek my hare was, verwag ek om met handevol hare onder die water te staan. Ander kankerstryders het in detail die trauma daarvan aan my beskryf. Trauma is egter nie deel van my aksieplan nie. Ek sal my kop kaalskeer sodra die eerste hare begin uitval. Ek sal in beheer bly van wat op my kopvel aangaan, dié het ek lankal besluit.
My kollega en vriendin, Kay Leslie, skakel my uit ‘n winkel in China World, diep beïndruk met die verskeidenheid verspotte kostuumpruike wat te koop aangebied word. Koop ‘n spul daarvan, vra ek. Ons gaan ‘n pruikpartytjie hou op die dag waarop my hare waai. Kay beskryf die pruike telefonies en ek plaas my bestelling gebaseer op die graad van lafheid. Die partytjie beloof om vet pret te wees.
Ek sit met die eerste bos hare in my hand op ‘n Maandagoggend drie weke ná die chemo-sessie. Om seker te maak, stoot ek my vingers weer deur my hare en word beloon met nog ‘n handvol. Ek draai ‘n kopdoek om my kop. Netnou is daar niks oor om af te sny nie. Ek bel vir Kay en Jaun en ons besluit dat die pruikpartytjie op die Dinsdagaand gaan wees. Daar is sosiale verpligtinge op die Maandagaand en mens kan nie dat hare wat uitval sosiale verpligtinge kortwiek nie. Dit sal net laf wees.
Ek bring Dinsdag deur met ‘n kopdoek om my kop om seker te maak my hare bly op my kop. Toe dit vroegaand word, maak ek vir ons aandete en ek gaan sit solank die gereedskap op die spieëltafel in die slaapkamer reg: Skêr, elektriese skeermes, skoppie, handoek. Dit voel goed om alles so reg te maak vir Die Daad. Dis asof ek tong uitsteek vir die chemo.
Daardie aand eet ons ‘n gesellige aandete en ons drink ‘n glasie goeie rooiwyn terwyl ons land en sand gesels oor allerhande dinge behalwe hare wat uitval. Jaun skink vir ons nog ‘n glasie wyn om saam te neem slaapkamer toe. Ons speel partytjiemusiek uit die 80’s en bewonder die lawwe kostuumpruike voordat ek my plek voor die spieël gaan inneem. Met Kay wat ‘n video neem, tel ek die skêr op en kyk vir oulaas hoe Madelein lyk met skouerlengte hare. Dit gaan min of meer een jaar wees voordat ek weer genoeg hare sal hê om ‘n besoek aan ‘n haarkapper te regverdig.
Met elke string hare wat onder die skêr deurloop, word die gevoel van bevryding in my sterker. Ek voel soos ‘n devil-may-care rebel wat geen nonsens van kanker óf chemo duld nie. Toe my kop net ‘n versnipperde laag ekstra kort hare is, lê Jaun die skeermes in. My agterkop is toe nie so lank nie en my kop voel heerlik lig en koel. In ‘n liefdevolle gebaar van solidariteit beveel Jaun my om sy kop ook kaal te skeer. Ek gehoorsaam. Twee (kaal) koppe is mos beter as een. Met die partytjiemusiek in die agtergrond pas ons kostuumpruike aan, neem foto’s en lag heerlik vir elke transformasie. Die partytjie is ‘n reusesukses.
Daardie aand, toe ek en Jaun in die bed lê, vryf ons mekaar se kaal koppe voordat ons mekaar nagsê. Jy lyk baie seksie, lig ek hom lomerig in. Hy lig my op sy beurt in dat hy weet hy lyk seksie voordat hy my ook komplimenteer op my nuwe voorkoms.
Daardie volgende oggend maak ek ‘n lysie van die voordele van kaalkop wees. Ek kan sonder moeite aan 10 voordele dink.
Chemo, waar is jou angel?