Ons was beslis nie meer alleen in die kamer nie. My pa was sterwend, maar ’n onbeskryf-like vrede het op my neergedaal. Hy het sy hande swakkies probeer uitsteek na iets of iemand wat hy met sy fletsblou oë gevolg het terwyl hy saggies prewel. Wat dit ook al was, ek en selfs sy verterende pyn was van minder belang. My pa wou by hierdie mens of wese wees. Nie meer by my nie.
By ’n Christelike retreat vir mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het, deel ek my storie met ander. ’n Boer van die Karoo staan op, en vertel dat sy broer, pa en stiefseun se dood binne drie maande van mekaar net vir hom draaglik gemaak is deur die wete dat niemand alleen is as hy sterf nie. Hy vertel hoe sy broer ná ’n lang siekbed oorlede is, en hoe twee van sy vriende, wat mekaar glad nie geken het nie, later vertel het dat hulle op presies dieselfde tyd in die nag helder wakker geskrik het en “gesien” het hoe twee mans in wit gewade by die broer se huis instap, en oomblikke later met hom tussen hulle uitstap. Twee engele het hul vriend kom haal.
In ’n onderhoud verlede jaar vir rooi rose praat ek en wyle Ruben Kruger, die diep gelowige oud-Springbok, se ewe gelowige weduwee Lize oor engele. Dis hoe ek toe daaroor geskryf het:
“Sy (Lize) het langs sy hospitaalbed gesit, en gewonder of daar engele by hulle is. ‘Toe vra ek vir die Here om my te wys.’
Die volgende middag het ’n baie goeie vriend van Ruben kom inloer en in die kamerdeur vasgesteek. ‘Hy het verstom gevra of ek dan nie al die engele in die vertrek sien nie.
‘Hy het later vir my vertel daardie middag het sy lewe vir altyd verander. Nou weet ek daar was engele, maar die Here het gekies om dit nie aan my te openbaar nie, maar aan ’n baie analitiese man wat normaalweg nie eens oor so iets sou dink nie.’
Dalk, mymer sy, het hy nodiger gehad om die engele te sien”.
Aan die einde van verlede jaar gesels ek en Lizz Meiring een reënerige aand oor engele en hoe sy hul aanwesigheid en troos al in moeilike tye ervaar het. Haar pa was toe al ernstig siek, en kort ná sy dood vroeg vanjaar praat ons weer. Oor die dood van ’n ouer, en oor troos uit onverwagte oorde. Hemelse oorde.
Lizz glo engele is altyd om ons teenwoordig. “Dalk raak ons net van hulle bewus wanneer ons normale, daaglikse beskermingsmeganismes weg is – soos in tye van trauma, vrees of ander intense emosie. Miskien, skandelik, weet ons net van hulle wanneer ons hulle nodig het. Ek glo my onfeilbare intuïsie, wat my al soveel keer uit ’n slegte situasie gered het, is eintlik die stem van die engele.”
Hoe sien sy engele? “Sover ek verstaan, is ware engele wesens van lig en energie. Hulle was nooit mense nie, en hulle het ook nie vlerke nie. Die prentjie van die vlerke kom blykbaar uit die Renaissance om die konsep van engele vir mense meer ‘aanvaarbaar’, meer konkreet te maak.
“Engele is heilig en misterieus vir ons omdat ons hulle nie kan sien nie, maar slegs soms van hulle bewus is.”
Met haar pa se uitgerekte siekbed en dood het sy hul troos baie intens ervaar. “Venessa Clews, wat met engele kommunikeer, het my uit die bloute gebel. Sy het glad nie geweet my pa is sterwend nie, maar tog gesê ‘daardie hospitaalkamer is vol engele’,” onthou Lizz.
“Hulle staan om jou pa se bed,” het Venessa gesê. “Hy moes ’n baie goeie mens gewees het, want selfs die aartsengel Migael is daar. Jou pa het geen pyn nie, sy pyn-senuwees is afgeskakel sodat hy nie ly nie. Hy is vreeslik rustig, en die engele vermaak hom met prentjies en ervarings oor aangename en betekenisvolle oomblikke in sy lewe.”
Lizz vertel dat Venessa plekke en grepe uit haar pa se lewe in detail beskryf, het. “Daar was geen manier hoe sy daarvan kon weet nie. Soos ek dit verstaan het, bring die engele ook afgestorwenes wat na aan hom was, in sy bewussyn deur sodat hulle as ‘doodsbegeleiers’ kan optree om die een wat sterf na die volgende dimensie oor te help. Ek glo dis ’n proses waarvan ons niks kan weet voordat ons sterwensoomblikke nie aanbreek nie.”
Het die engelevrou se woorde vertroosting gebring? “Sonder twyfel. Glo ek dat dit so was? Sonder twyfel. Ek het geleer dat ons nie net moet glo in dit wat vir ons konkreet en sigbaar is nie, en dat ons soms ook nie dit wat konkreet en sigbaar is, moet glo nie.”
Lizz beklemtoon dat sy nie die Heilige Almag van die Skepper bevraagteken nie. “Ek wat altyd vreeslik baie vrae vra, verstaan dat daar sekere dinge is wat vir ons ’n heilige verrassing moet bly. Dit hou ons doodmenslik, op ons plek. Dit gee ons hoop en krag. Dit help ons om die dinge in ons lewe te aanvaar waaroor ons geen beheer het nie. Dit laat ons besef dat wonderwerke nie net moontlik is nie, maar eintlik magies alledaags is.”
Die engel op die snelweg
Fenella van Ryneveld (skuilnaam) vertel dat sy omtrent tien jaar gelede sonder rede vreeslik angstig geword het, en begin nalees het om die gevoel beter te probeer beheer. Baie boeke oor selfhelp, godsdiens en sielkunde later het sy by boeke oor engele uitgekom. Veertig boeke, om presies te wees. Sy het selfs met haar predikant oor engele gaan praat.
“Ek is ’n Christen en besef dat engele aan God verantwoordbaar is, dat ’n mens hulle net deur God bereik, maar besef ook dat ons almal ons eie beskermengele het.”
Sy verkies om onder ’n skuilnaam te praat omdat ’n mens maar skeef aangekyk word as jy oor engele begin praat.
Sy onthou een spesifieke Saterdag-middag wat haar lewe vir altyd verander het. “Dit was twee-uur die middag, vroeg in Julie en bitter koud. Ons was op die verbypad langs Johannesburg verby Soweto. My man het bestuur en die kinders het agter gedut. Skielik sien ek ’n klein Golfie links van my. Agter die bestuurder in die motor sit ’n groot man met lang, spierwit hare en wit klere en sy kop tot teen die dak. Sy regterarm rus teen die venster, sy linkerarm is so lank dit strek tot op die paneelbord. Hy sit die motor amper vol. Die bestuurder is ’n meisie met groot, bang oë. My mond gaan oop om vir my man te sê wat ek sien, toe ek skielik besef: dis ’n engel. Hy is daar om die meisie kalm te hou op die gevaarlike pad. God het die engel aan my openbaar sodat ek kan weet dat Hy altyd daar is; dat Hy vir ons sal sorg; dat ek nie angstig hoef te wees nie. Ek onthou hoe bevoorreg ek gevoel het.”
Maar ses weke later slaan die noodlot toe. Fenella se gesonde, lewenslustige man kry ’n beroerte op ’n afgeleë vakansiekamp in die noorde van KwaZulu-Natal. “Daar was geen dokters naby nie. Die enigstes met mediese kennis was hyself, ’n tandarts, en my swaer, ’n tandheelkundige spesialis.” Tog, vertel sy, het sy gevoel hoe God en sy engele hulle almal dra. “Dit het gevoel asof ek sweef, en ek het besef dat God my ses weke tevore daarop voorberei het om Hom te vertrou deur vir my daardie engel te wys.”
Ses groot Zoeloemans het Fenella se ses-voet-vier man deur die bosse na ’n klein helikoptertjie op die strand gedra wat met hom hospitaal toe gevlieg het.
Gelukkig het hy niks oorgehou van die beroerte nie, maar Fenella sê dit het haar gelaat met ’n lewenslange wete van die krag van geloof. “My kennis oor engele het vir seker my geloof versterk én my nader aan God gebring. Ek weet Hy is daar en dat Hy sorg. Ek het dit dan self beleef! Maar ek weet ook dat God in beheer is, en dat die engele bloot sy boodskappers is. Die engele kan nie jou versoeke en gebede uitvoer sonder dat dit die wil van God is nie.”
Ek en die engelevrou van Pretoria
Natuurlik is ek baie skepties oor die engelevrou, soos Lizz Meiring en die sanger Willie Strauss na Venessa Clews verwys. Ek is nie net ’n logiese joernalis nie, maar kom boonop uit ’n streng Calvinistiese, Afrikaanse agtergrond. Maar, besluit ek, die Here is magtig, en Hy sal my beskerm solank ek my deur Hom laat lei.
Hoe som ’n mens so ’n ervaring akkuraat op? Hoe verduidelik jy dat daar wel ’n vrede oor jou kom – al jou vooropgestelde idees en vrese ten spyt – as die vriendelike vrou met die dik bos hare met jou begin praat en goed uit jou familiegeskiedenis ophaal wat geen mens op aarde behalwe die intieme binnekring kón weet nie? Hoe kon sy weet van my pa se geliefde kolliehond, sy spesiale hoed, dat hy graag (en mooi) gefluit het, dat hy my ma se hond altyd geterg het deur net die woord “sweep” te noem? Of presies wat al die beserings was wat my ma se dood ná ’n motorongeluk veroorsaak het? As logiese, voete-op-die-aarde mens het ek geen verduideliking gehad vir die goed wat sy van my lewe geweet het nie.
Hoe kon iemand my kinders se persoonlikhede so akkuraat opsom as sy hulle nog nooit gesien het nie? Maklik, het sy gesê, die engele vertel haar dit alles. Oor my eie persoonlikheid en swakhede was sy heeltemal in die kol: “You can’t stand stupid people,” het sy met ’n lag gesê. Hoe kon sy weet dat oumense se lyding my so erg ontstel dat ek al agt jaar betrokke is by ’n liefdadigheid vir weggooi-bejaardes?
“Vir ’n joernalis is jy baie media-sensitief,” het sy ook gesê. “Jy kan nie nuus kyk nie, want die lyding is vir jou te erg. En elke hartseerstorie in die koerant raak jou persoonlik. En jy het nie die tipiese killer instinct wat ’n mens van joernaliste verwag nie.” Akkurate waarneming in al drie gevalle – ek kyk al jare lank nie meer TV-nuus nie, en dwing myself om daagliks koerant te lees om op die hoogte van sake te bly. Maar ja, die hartseerstories ontstig my. En al weet ek van ’n bekende se grootste geheim, sal ek dit moeilik in ’n storie uitblaker as dit net oor sensasie gaan.
“You’re a born empath,” het sy aangegaan. “Ander mense se hartseer put jou uit, want jou siel is so oop daarvoor dat hulle hul emosionele pakkies onbewustelik aan jou oordra. Pasop, dit veroorsaak jou moegheid, en kan tot ’n langdurige depressie lei. Jy moet God vra dat die engele jou hier ook beskerm en jou siel afsluit vir ander mense se bagasie.” Weer eens, heeltemal in die kol.
En so het sy punt na punt my lewe ontleed sonder om een keer my toekoms te voorspel. Sy het selfs gevra of ek ’n boodskap van die engele sal gee vir een van my beste vriendinne wat ’n groot besluit oor haar toekoms moes neem. Die boodskap was skrik-wekkend spesifiek, en ’n antwoord op ’n vraag wat sy twee dae tevore vir my ge-SMS het. Ons was albei ewe oorbluf toe ons later daaroor praat.
Die tragedie rondom my ouers se dood het my met baie vrae en groot hartseer gelos. Wat as … Kon ons iets anders gedoen het? Het ek die regte dinge vir Pa gedoen toe hy my verantwoordelikheid was? Was my ma in pyn ná die ongeluk, want met so baie beserings moes sy gewees het, en tog het sy niks gesê nie? Hierdie een gesprek het meer closure gebring as vele terapiesessies en honderde kere waarin ek die gebeure in my gedagtes teruggedraai het.
Psalm 91 is al ses jaar lank my en my kinders se gunsteling-Skrifgedeelte. Ons troospsalm. Veral vers 11: “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm, waar jy ook al gaan.” Hoekom kan dit nie nou ook sy engele wees wat hierdie boodskap vir my gebring het nie?
Al het ek al my grimering afgehuil, is ek met ’n ligter gemoed by Venessa weg. My verhouding met God het ’n nuwe dimensie bygekry, en ek wéét nou dat die engele waarvan daar in sy Woord geskryf word, werklik om ons is. Dat hulle ons aardse lewe makliker maak deur ons te versterk, te beskerm, te waarsku, of wat ook al God hulle beveel om te doen. Het engele nou God se plek in my geloof ingeneem? Glad nie – ek bid steeds tot Hom. Maar ek dank Hom dat Hy ons in soveel detail liefhet dat Hy selfs in hierdie eeu steeds sy engele vir ons beskikbaar stel.
Venessa is baie sku vir publisiteit – “ek glo dat, as jy by my moet uitkom, die engele jou hierheen sal lei”. Sy is al gewoond daaraan dat mense haar skeef aankyk oor haar gawe. Sy noem dit spottenderwys haar “faulty wiring”. Haar ouma was ook heldersiende. Sy sê in haar werk is sy “spoilt with miracles” wat hulle elke dag voor haar afspeel, en dis vir haar wonderlik om te weet dat sy ook daardeur kan troos bring en pyn verminder. Sy sê alle mense het engele.
Glo sy in God? “Ons wêreld is te mooi om net ’n kosmiese gebeurtenis te wees. Ek sien daagliks soveel wonderwerke dat ek nie kan glo dis bloot toevallig nie. Ek sien die verligting op mense se gesigte as daar vrede oor hulle kom.”
Dis nie maklik vir haar om soveel goed van ander mense te weet nie, en sy was lank in ontkenning oor haar gawe. Aan kritiek dat dit wat sy doen boos is, steur sy haar nie.
“Hulle (die engele) kom dan met soveel liefde dat my hele siel daarvan sing,” sê sy. Sy help dikwels – ook die polisie – om vermiste mense op te spoor, en stel glad nie belang om byvoorbeeld in TV-programme op te tree nie. “Hierdie is nie vermaak nie,” sê sy. “Dis ernstige sake.”
“Dit moes ’n engel gewees het”
Toe ek begin rondvra oor engele, vertel ’n klomp kennisse hul eie verhale.
Sommige traag, want, sê hulle, mense kyk jou snaaks aan as jy oor engele praat.
Lucia Giesler van Stellenbosch vertel: “Ek het al ’n verkragter agteruit deur die lug sien trek, weg van my af, asof ’n onsigbare arm hom om die middel beet het en van my afruk. Daar was nie ’n ander siel in sig nie. Ek is daardie dag ’n verkragting gespaar op ’n bonatuurlike wyse – danksy die kragtige Naam van Jesus en my geloof dat Hy my nooit in die steek sal laat nie.”
Anna H. Lemmer, ’n rooi rose-leser, vertel dat sy jare terug met haar 18-maande oue dogtertjie Sania in die voortuin gaan blomme pluk het vir ’n rangskikking in die voorportaal. Terug in die huis wou Anna met die rangskikking begin toe sy ’n duidelike stem agter haar hoor, al was dit net sy en Sania. “Gaan swembad toe,” het die stem gesê. Toe sy deur die kombuisvenster gaan kyk, het sy haar dogtertjie in die swembad sien dryf, handjies na bo. “Ek weet vandag nog nie hoe ek oor die kombuiskaste deur die skuifraamvenster tot by die swembad gekom en ingeduik het nie! Ek weet wel dat dit beslis ’n engel was wat daardie dag met my gepraat het!”
Martjie Roos, ’n joernalis, bieg dat sy baie skepties oor engele was. “Ek het een nag wakker geword en besef iets het my wakker gemaak en daar is iets in my kamer. Daar het twee engele langs my bed gestaan. Ek het nog gedink dit is die Ku Klux Klan, toe hulle weer net so skielik verdwyn. Dit het gebeur kort ná ’n vriendin my vertel het van haar ondervinding met ’n engel en ek haar nie wou glo nie.”
Renette Buitendag van Johannesburg vertel sy was in ’n ambulans op pad hospitaal toe saam met ’n vriendin wat ’n oordosis pille gedrink het. “Dit was baie traumaties vir almal wat betrokke was. Sy het haar bewussyn verloor en die dokter moes haar intubeer. Ek het by die ambulans se venster uitgekyk, en ’n groep engele langs ons sien beweeg. Ek kan die gevoel van vrede wat ons tot in die noodgevalle begelei het vir niemand beskryf nie. En ja, my vriendin het dit oorleef.”
Sonja Rocher van Johannesburg werk tans in China. Sonja is ’n diep gelowige vrou, en sê onomwonde dat sy aan engele glo. “Die Bybel sê dit vir ons al in Genesis, en ek glo wat in God se Woord staan.”
Haar engele-ervaring het plaasgevind toe haar kinders nog klein was en ’n galblaasoperasie skeefgeloop het en sy byna gesterf het. Ná ’n noodoperasie het sy wakker geword met haar oorlede broer langs haar bed. “Hy het my hand vasgehou. Op ’n stoel het ’n onbekende persoon sit en bid. Ek het gedink dis ’n verpleegster. Ek het vir die Here gesê dat ek gereed is om te gaan as dit my tyd is. Die ongelooflikste gevoel van vrede het my omvou en ek het my hand uit my broer s’n getrek. Kan dit wees dat die Here ’n geliefde stuur om ons te ontmoet en vergesel wanneer dit tyd is om Huis toe te gaan? Die vrede wat ek daar ervaar het, kan ek ná jare steeds herroep. Die volgende dag kon ek nie glo dat ek gesê het ek is gereed om te gaan nie. My kinders was nog albei klein, een in die kleuterskool en een in die laerskool. Watter ma sal haar kinders wil agterlaat? Dit het my laat besef dat wanneer die skeiding tussen hierdie lewe op aarde en ons lewe by Jesus Christus aanbreek, daar niks is wat ons sal terughou nie.”
Ronelda Jordaan van Nelspruit vertel dat sy een nag jare gelede wakker geword het en besef het iemand is besig om by haar huis in te breek. Sy is ’n enkelma, en het benoud gaan ondersoek instel en afgekom op ’n ruit wat reeds netjies uit sy raam gehaal was (die stopverf was nog nat omdat die ruit die vorige week vervang is). Sy was nie seker wat om te doen nie. “Toe ek die stoeplig gaan aanskakel, staan my oorlede broer daar, in sy kamoefleerdrag, en sê ek kan maar gaan slaap, hy sal na my kyk.” Sy onthou die vrede wat haar oorval het, en hoe sy omgedraai het en rustig verder gaan slaap het.
’n Bybelse perspektief Volgens Engel Notas, ’n Bybelstudiegids deur Jimi le Roux (www.jimileroux.com) kom die woord “engel” 320 keer in die Bybel voor. Dit beteken boodskapper, en kan ook na ’n menslike boodskapper verwys. Hy beskryf, aan die hand van die Skrif, engele as geestelike wesens wat nie ’n fisieke vorm het nie, maar wel soms fisiek verskyn in die gedaante van ’n mens en soms “skitterend of met skynende wit klere”. Soms verskyn hulle in ’n baie groot gedaante. Maar engele het nie vlerke nie. Dit, verduidelik hy, was oorspronklik in kerkkuns ’n simboliese manier om aan te dui dat engele van ’n hoër orde is. Engele is ook nie klein baba-engeltjies nie en is geslagloos. Volgens die Bybel is daar “miljoene en miljoene engele” (Dan. 7:10). Le Roux beskryf hulle verder so (aan die hand van teksverse): “Engele is magtige en intelligente wesens. Hulle is persoonlikhede met insig en kennis, hulle is bly of kwaad en hulle sing. Engele vrees niks, want hulle het niks om te vrees nie. Hulle vrees alleen God, in die sin dat hulle Hom eer en dien. Hulle bestaan is om Hom te dien.”
Hy onderskei tussen gerubs, serafs, engele en aartsengele, en verduidelik ook engele se funksies volgens die Skrif (troon-, regeer-, stryd-, beskerm- , dien- en boodskapperfunksies).
’n Hele hoofstuk word afgestaan aan engele vandag, waarin moderne mense hulle wedervaringe met engele deel.
Maar Le Roux waarsku ook teen die verering en vertrou van engele bo God, en teen, wat hy noem, die verkeer met engele. “Dit beteken dat ons engele nie aanspreek nie, en nie tot hulle bid nie. Ons praat van die engele, nie met hulle nie. Ons sê nie vir hulle dankie nie, maar vir die Here dankie vir hulle. Ons vra hulle nie om beskerming nie, maar vra die Here om sy engele te stuur vir ons beskerming. Dit is wat hulle verkies. Hulle maak hulself slegs bekend in opdrag van die Here.”