Verf die eiervrugskywe met olyfolie en braai ’n bietjie op ’n slag in ’n warm riffelpan tot goudbruin aan albei kante. Geur met sout en peper.
Begin intussen met die tamatiesous. Verhit die olie in ’n middelslagkastrol en soteer die ui en knoffel tot sag en deursigtig.
Voeg die tamaties, tiemie, witwyn, hoenderaftreksel en tamatiepasta by. Kook vir sowat 10 min. oor matige hitte. Druk die tamaties effens fyner met ’n vurk. Hou eenkant.
Gooi die tamatiesous in ’n oondvaste bak van 20 cm x 30 cm. Rangskik die eiervrug op die tamatiesous.
Meng die eier, Griekse jogurt en fetakaas in ’n aparte mengbak en skep dit oor die eiervrug en tamatiesous. Bak vir sowat 25 - 30 min. tot goudbruin.