Hoeveel eiers kan my man eet? Daar is cholesterol in sy familie maar hy is op medikasie, en sy cholesterolvlak is normaal.
Die 2016 Finse ondersoek
Die 160 mg – 180 mg cholesterol in ’n eier maak eiers een van die kosse met die meeste cholesterol per porsie. Daarom is eiers vroeër verdoem en tot drie, vier per week beperk. Maar die teorie dat eiers = cholesterol = hartsiektes is sedert die jare negentig weerlê, en ondersoek na ondersoek het gewys dat eiers nié hartsterftes verhoog nie.
Die mees onlangse is ’n groot ondersoek deur die Universiteit van Oos-Finland. Meer as duisend gesonde mans sonder hartprobleme is oor 21 jaar gevolg om te kyk of eiers en ander cholesterolryke kos werklik hartsiektes veroorsaak.
• Die bevindings?
Die ondersoek het geen verband tussen eiers, ander cholesterolryke kos en hartsiektes, of selfs eiers en die verdikking van die karotisslagaar (wat op ’n risiko vir beroerte dui) gevind nie.
Dus: cholesterolryke kos het niks met die voorkoms van hartvatsiektes te doen nie.
• Wat as jy die geen vir familiale hipercholesterolemie dra?
Net soos in ons land, dra die Finne hierdie geen (ApoE4), en 32% van die deelnemers was dus mans met ’n hoë risiko op hartvatsiektes. Maar selfs hierdie groep het nie meer hartkwale ontwikkel as mense sonder die ApoE4-geen nie.
Dus kan gesonde mense én mense met ’n familierisiko op hartsiektes met ’n geruste hart eiers eet.
Nogtans sê die ondersoekers hulle wil nie daarmee sê jy kan ’n dosyn of meer eiers per week eet nie. Die deelnemers het gemiddeld een eier per dag gebruik, en ’n totaal van gemiddeld 520 mg cholesterol ingeneem. Hulle het ook cholesterol uit botter, kaas, lewer en vleis gekry. Dit bly ’n kwessie van matigheid: een is goed en selfs voordelig, meer dalk nie.
SA Hartstigting
Megan Lee, geregistreerde ADSA-dieetkundige van die Hartstigting, sê dit hang af van wat jóú liggaam met cholesterol maak. “Soos die Finse ondersoek wys, hoef gesonde mense met normale cholesterolvlakke glad nie eiers te beperk nie, aangesien hul hartsiektes nie daarmee verbind word nie. Navorsing wys dat tot sewe eiers per week jou eintlik teen beroerte beskérm.
“Maar onthou, dit is ’n waarnemingsondersoek op gesonde mense. Dieselfde geld nie noodwendig mense wat reeds hartsiektes, hoë cholesterol of diabetes het nie. Hier moet ons na jou eie, spesifieke reaksie kyk. By sommige mense verhoog eiers hul cholesterol, en by ander nie.”
• Hoe werk dit?
“Die liggaam vervaardig 95% van sy eie cholesterol, meestal in die lewer. Daarby het jou liggaam ’n meganisme om sy cholesterolvlak te beheer: as jy kos met meer cholesterol eet, soos eiers, skaal jou liggaam cholesterolproduksie af. So hou hy jou bloedvlak konstant. Daarom sê ons dat die kos wat jy eet min verskil aan jou cholesterolvlak maak.
“Máár hierdie afskaal-opskaal meganisme gegrond op jou dieet werk by omtrent ’n kwart van mense nie goed nie en hul cholesterolvlak styg as hulle cholesterolryke kos eet. Party kry dit onder beheer met medikasie, ander kan dit net met dieet beheer – en selfs dan nie altyd nie. Vir hierdie groep mense is dit belangrik om cholesterolryke kos soos eiers te beperk.
“Die cholesterol in jou kos het nie veel effek op jou cholesterol nie. Versadigde vette soos vet vleis en kitskosse het ’n baie groter uitwerking op jou cholesterolvlak. Daarom is die aanbeveling dat mense met hoë cholesterolvlakke veral versadigde vette soos botter moet beperk, hoewel hulle drie, vier eiers per week kan bly eet.
“Ons beveel inderdaad aan dat mense eerder eiers eet, aangesien eiers ook goeie HDL-cholesterol verhoog, en nuwe navorsing wys eiers werk inflammasie teë.
“Daarby is eiers meer as net ’n cholesterolbron. Dit bevat ander skaars voedingstowwe wat goed vir jou sig, brein en skelet is.”
Hoe gemaak as jy ’n risiko op hoë cholesterol het maar nog nie hoë cholesterolvlakke het nie?
“Vir jou is dit belangrik om jou dieet aan jou cholesterolvlak te toets. Begin met sowat ’n eier per dag, en toets ná ses maande. As jou vlak gestyg het, moet jy eiers liewer beperk tot drie, vier per week.”
• Wat as jy familiale hipercholesterolemie het?
“Die meeste Suid-Afrikaners met hierdie geen sukkel selfs op medikasie om hul cholesterolvlak reg te hou. Ons beveel aan dat hulle eiers liewer van die begin af beperk.”
• Diabetes
Diabetes SA en die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Diabetes en Endokrinologie sê hulle gee geen riglyne vir diabete oor eiers nie, aangesien eiers nie koolhidrate bevat nie, en jou insulien glad nie beïnvloed nie. Diabetes en metaboliese sindroom (hartsiektes) loop baie dikwels saam. Daarom moet diabete ook hul cholesterol dophou, en daarvolgens oor vette en eiers besluit.