Elkeen van ons ervaar belangrike lewensoorgange in ons bestaan. Ons word mondig, trou, word ma of pa … en die meeste van dié oomblikke gaan met ’n ritueel gepaard. Soms is dit ’n feesviering soos ’n huwelik, ander kere ’n hartseergeleentheid soos ’n begrafnis. By sulke seremonies kom die betrokkenes saam om in die vreugde te deel of simpatie te betoon. Dié wat die oorgang ervaar, weet hulle is nie alleen nie. Hulle word deur die gemeenskap gedra. Ander sien en erken byvoorbeeld die feit dat hul sosiale status verander – van enkellopend na getroude, of van eggenoot na weduwee.
Egskeidings is ’n opvallende uitsondering op dié reël.
’n Huwelik wat gewoonlik binne ’n familie- en vriendekring gesluit is, gaan in afsondering tot niet. Meestal is die regsproses die enigste konteks vir hierdie ingrypende oorgang. Daar is geen samekoms van bekendes om erkenning te gee aan dit wat was, dit wat besig is om te gebeur, en dit wat die toekoms mag inhou nie. Verbintenisse met skoonouers, swaers, en ander aangetroude familielede hang skielik in die lug.
“Die ervaring van ’n egskeiding sonder ’n ritueel is soos ’n ervaring van die dood sonder ’n begrafnis,” sê dr. Christo de Klerk, narratiewe pastorale terapeut van Munster in KwaZulu-Natal. Christo was dekades lank in die bediening en sy doktorsgraad in praktiese teologie het oor egskeidingsherstel gehandel.
“’n Vars benadering is van die grootste belang. Lidmate wat skei, het soos alle ander mense wat trauma ervaar die ondersteuning van die kerk baie nodig. Ongelukkig ontbeer hulle dit dikwels wanneer hulle skei en broos en gebroke is. Dit gebeur omdat alle egskeidings in die meeste kerklike kringe steeds as sonde gesien word. Gevolglik voel baie lidmate in hierdie posisie hulle het in hul geloofslewe gefaal en dat hul medegelowiges hulle veroordeel. Dit gebeur selfs wanneer hul leraars hulle sensitief benader.
“Die ervaring van ’n egskeiding sonder ’n ritueel is soos ’n ervaring van die dood sonder ’n begrafnis”
“Baie lidmate is in die veertien jaar in my laaste gemeente geskei. Min het aangebly. Die meeste het verdwyn. Hulle voel gebrandmerk en soek ’n ander geloofstuiste, of verlaat die kerk.
“Ek maak nie voorspraak vir egskeiding nie. Wanneer jy mense daardeur begelei, kry jy eerstehands met die pyn te make wat soveel partye raak. Tog kan egskeiding nie weggewens word nie. Dis deel van ons werklikheid. Sowat vyftig persent van alle huwelike loop op die rotse en hierdie mense het bystand nodig.
“Toe ek die praktiese deel van my doktorsgraad moes takel, was vyf vroue in my gemeente besig om te skei. Ek het besluit om hulle te vra om ’n navorsingsgroep te vorm – begeleiding en wedersydse steun vir hulle, en ’n studiegeleentheid vir my! Ons het ’n jaar lank tweeweekliks byeengekom en aspekte van egskeidingsherstel ondersoek. Uit ons gesprekke het die behoefte aan ’n egskeidingsritueel na vore gekom wat die transformasie van getroud wees na weer enkel wees kan vergestalt. Ons het ’n egskeidingsformulier ontwikkel wat in die ritueel voorgelees kon word, asook ’n sertifikaat wat bevestig dat die vroue hul nuwe lewe suksesvol gelanseer het en weer sin in die lewe vind.
“’n Egskeidingseremonie is waardevol omdat dit die breuk in die huweliksverhouding erken en bevestig dat die betrokkenes ondanks hul beste bedoelings en pogings nie die huwelik kon laat slaag nie. Dit belig hul gewilligheid om verby die ontnugtering, woede en pyn na ’n hoopvolle toekoms te beweeg. Die deelnemers vind troos in die feit dat die omstanders hulle ondersteun en net die beste toewens. Hulle beleef genesing, afsluiting en die bewustheid van hul eie emosionele en spirituele krag. Bowenal voel hulle vry om hul toekoms met die Here se seën aan te pak.”
“’n Egskeidingseremonie is waardevol omdat dit die breuk in die huweliksverhouding erken en bevestig dat die betrokkenes ondanks hul beste bedoelings en pogings nie die huwelik kon laat slaag nie”
Aan eie lyf
Twee vroue wat jare gelede deel was van Christo se egskeidingsherstelgroep gesels oor hul belewenis:
Gerda* – destyds veertig en pas geskei – het met drie tieners van ’n ander provinsie na Christo se gemeente getrek. “Die woord ‘egskeiding’ was nooit deel van my woordeskat nie, maar ek het by die punt gekom waar ek besef het ons stukkende huweliksverhouding doen die kinders meer kwaad as goed.
“Die groepervaring in ’n opbouende atmosfeer was deel van my gesond word. Dit was wonderlik om te ontdek dat ander my gevoelens deel – ek het aanvanklik geglo my negatiewe gedagtes is uit pas. Deur na die ander vroue te luister, het ek perspektief gekry en geleer dat ek slegs verantwoordelik was vir dit wat ék in my huwelik verkeerd gedoen het, nie vir álles wat skeefgeloop het nie. Waar ek eers te skaam was om te sê ek is geskei, het ek die vrymoedigheid gekry om dit te doen.
“Die egskeidingsritueel, ’n informele geleentheid op ’n Saterdagoggend, was die amptelike afsluiting van ons terapie. Ons het elkeen ’n paar mense genooi wat vir ons baie beteken het. Afgesien van Christo was daar net vroue.
“Christo het verskeie Skrifgedeeltes en die egskeidingsformulier voorgelees, en toe het ons Nagmaal gebruik. Daarna het elk van die vyf deelnemers haar sertifikaat ontvang en ons het oor ’n heerlike ontbyt gekuier.
“Die ritueel was vir my ’n besonderse belewenis. My vroeë ervaring as geskeide was een van teregwysing: jy hoor altyd die Here verafsku egskeiding. Ek verafsku dit ook, maar terselfdertyd weet ek die Here ken en verstaan my situasie. Tydens die Nagmaal het ek gedink: Hier sit ek, ek eet die brood en drink die wyn, dis tasbare tekens dat Christus ook vir my gesterf het ondanks alles wat gebeur het!
“Sedertdien het daar weer balans in my menswees gekom. Ek is nog enkellopend en dis soms eensaam vandat die kinders die nes verlaat het, maar daar is vrede in my huis. Ek leef my in my beroep uit en ek voel ek beteken iets vir ander, alles deur die genade van die Here.”
Elize* was in die dertig toe haar suster in ’n onlusverwante voorval doodgeskiet is. Kort daarna het haar swaer verongeluk en hul seuns van tien en 14 het Elize en haar man se verantwoordelikheid geword.
“Ons was 12 jaar getroud, maar het nog nie kinders gehad nie. Die aanpassing met die seuns was vir my man te groot. Op my beurt het ek hul aanneming en grootmaak as die Here se doel met my lewe gesien. Uiteindelik moes ek tussen my man en die kinders kies.
“Ons was in Christo se gemeente en ook huisvriende. Toe my verhoudingsituasie onhoudbaar word en ek besluit om te skei, het Christo my pastoraal begelei. Die navorsingsgroep het later gekom.
“Hoewel die vroue almal ‘private’ mense is, kon ons ons gedagtes en emosies eerlik met mekaar deel. Binne die groep kon ek maar ontspan. Die dinamiek was ongelooflik – ons het soveel gemeen gehad en mekaar ook prakties ondersteun wanneer een byvoorbeeld hospitaal toe moes gaan. Dit het my gehelp om my gevoel van uselessness, my twyfel oor my vermoëns as ouer, en die finansiële breekspul te verwerk. Daar was waardering vir wie ek is en wat ek doen.
“Ek het agtergekom die manier waarop jy jou egskeiding verwerk, beïnvloed die mens wat jy daarna is én hoe jy jou kinders hanteer. ’n Egskeiding is ’n onbeskryflike ontwrigting, en boonop het ek ’n akute mediese toestand gehad. Maar ek wou nie bitter word nie.
“By Christo het ek geleer vergifnis neem tyd. As jy jouself te vroeg dwing om dit te doen, is dit vals. Ware vergifnis bring genesing en vrede.
“Ware vergifnis bring genesing en vrede”
“In die groep het ek issues uitgepluis wat later verhoudingskade sou veroorsaak het. Ek is ook bevry van die oordeel wat die kerk weens my egskeiding oor my laat hang het. Ek het besef in ’n geforseerde verhouding word jy die mens wat God nié wil hê jy moet wees nie. Dit was God se wil dat ek sterk genoeg sou wees om uit die verhouding te klim.
“Ek het my eks-skoonsus en my vriendin na die egskeidingsritueel genooi, Hulle het geweet waardeur ek is en ook dat ek oor die trauma kon seëvier. Hulle het gesê dis verstommend om na ons vyf te kyk, want hulle kon geen verbittering of afbrekendheid by ons sien nie. Dit was vir hulle wonderlik dat ons elkeen se verhouding met God in stand gebly het.
“Ek is intussen weer getroud met ’n man wat ek deur my werk ontmoet het. Hy gee werklik om vir die seuns, maar dit het my báie lank geneem om sy liefde vir die kinders te leer vertrou. Ek sien die hand van God in al hierdie gebeure, en ek het sy opdrag aan my uitgevoer so goed ek kon.”
*skuilname
Helende rituele
Partytjie
Amélie* is 18 jaar gelede op 42 geskei.
“Ek hou nooit partytjies nie – ek nooi eerder ’n paar mense oor vir ’n intieme ete – maar ek het besluit dis ’n groot dag dié. Ek wou erkenning gee aan die lang pad wat ek moes stap, die verlede afgooi en my toekoms vier. Ek wou dit uitsê: ‘Ek is nou geskei, en dis verby!’ My vriendinne en skoonsusters het gekom en die gebeure het spontaan ontvou. Ek het Antjie Krog se gedig “ek staan op ’n moerse rots” voorgelees en elkeen het vir my ’n wens gegee. Ons het geëet, gedans en gepaartie.
Ek dink ek was ’n bietjie buite myself – dit was ’n besonder emosionele dag. So ’n geleentheid help jou om jouself weer te vind en vas te stel waar in die kosmos jy nou eintlik hoort.”
*skuilnaam
Aan verskillende fronte
Sinta Ebersohn van Stellenbosch ontwikkel onder meer aanlynleerprogramme, maar haar hartsprojek is fairdivorce.co.za – ’n eenstop-egskeidingshulpwebwerf vir almal wat deur egskeiding geraak word.
“Nes baie ander mense wat skei, is ek deur ’n uitmergelende regsproses wat vier jaar geduur het. In ’n stadium het ek besef dit besoedel my bestaan en dat ek dit anders moes benader. Fairdivorce is uit dié insig gebore. Dit bied inligting, hulpbronne, steun, praktiese advies en inspirasie op spirituele, sielkundige, finansiële, praktiese, fisieke en regsgebied.
“Wanneer ’n paartjie hulle ‘for better or for worse’ verbind, dink hulle dalk nie daaraan dat ‘for worse’ op ’n egskeiding kan dui nie. Ons visie is om die oorlog wat dikwels met ’n egskeiding gepaardgaan in ’n beskaafde en redelike skeiproses te omskep en te verseker dat mense hul waardigheid behou.”
Sinta se rituele
• Ná my egskeiding het ek ’n lekker vuur gemaak en die dokumentasie en ander oorblyfsels van die proses in rook laat opgaan. Terwyl ek na die vlamme gestaar het, het ek daarop gefokus om hierdie dinge vry te laat.
• Na aanleiding van dr. John Demartini se boek The Value Factor het ek my waardes in heroënskou geneem. Ons waardes, in die sin van prioriteite, rig ons lewe. My hoogste waarde bly steeds om lewenslank te leer en Fairdivorce skakel hierby in.
• Omdat omstandighede so ingrypend verander wanneer mense skei, is nuwe gesinsrituele nodig. Ek en die seuns het gebruike bedink wat ons gesinstruktuur bevestig. Soggens vroeg gee ons mekaar stywe drukkies vir die dag. Tydens aandete praat ons elkeen oor iets waarvoor ons dankbaar is, die hoogte- en laagtepunt van die dag, iets wat vir ons snaaks was en iets omtrent die volgende dag waarna ons uitsien. Dit bevorder ’n kultuur van dankbaarheid en hou die gesprek aan die gang sodat dit hopelik in hul tienerjare sal voortduur wanneer daar baie keer minder kommunikasie is!
• Ons was vroeër nie dikwels met vakansie nie en het besluit ons wil een maal per jaar vakansie hou.
• Sommige vroue verkoop hul verloof- en trouringe, of smelt dit en skep ’n nuwe juweelstuk. Ek en my seuns het besluit as hulle eendag die jawoord vra, kan hulle die diamante deel. Só bly die ringe wat van hul pa af kom in die familie.
• Ek het vir myself ’n liefdesnessie in my slaapkamer geskep om afskeid te neem van dit wat was en my voor te berei op ’n nuwe liefde. Met nuwe beddegoed, ’n throw, strooikussings, kerse, wierook en ander spesiale dingetjies het ek ’n romantiese atmosfeer geskep.
Lees ook: Egskeiding hoef jou nie te breek nie: 10 wenke