Kinders verbind geskeide ouers onlosmaakbaar. Maar gewoonlik is ’n egskeiding maar net die einde van ’n lang, ongelukkige pad en dis vir mense moeilik om nie emosioneel te wees nie. “Maar ouers moet heeltyd dink hoe hul optrede die kinders op lang termyn gaan beïnvloed, en hulle moet probeer om volwasse te wees en in beheer van hul emosies te bly,” sê Elzette Fritz, opvoedkundige sielkundige.
Hy laat die kind in die steek
Iets waaroor baie geskeide ouers kla, is dat die “naweekouer” belowe om die kinders te kom haal, maar dan nie opdaag nie. “Dis of hy my probeer straf deur die kinders ongelukkig te maak,” kla ’n ma.
Elzette sê die kind se ouderdom gaan bepaal hoe jy die situasie hanteer. Kleintjies onder drie het nie ’n tydpersepsie nie en dis makliker om vaag te bly en te sê dat die naweekouer gaan kom, maar nie ’n tyd of dag te noem nie. Dis ook makliker om hul aandag af te lei as hulle wel teleurgestel word. Met ouer kinders is dit nie so maklik nie en is dit belangrik om hul woede en teleurstelling te erken. Moenie dit probeer afmaak nie. “Ek kan sien jy is kwaad omdat pappa nie gekom het nie. Miskien wil hy baie graag kom, maar dalk is hy baie besig.”
Sit ’n wag voor jou mond en moenie dit as ’n geleentheid gebruik om jou eks af te kraak nie. Dis baie belangrik om hier te onderskei tussen wat jóú emosies is en wat die kind s’n is. As jy hier kleitrap, koop jy vir jou baie probleme later. “Die kind moet verstaan dit is die naweekouer se probleem wat die kuier in die wiele ry, en nie hy wat verwerp word nie. Die kind is nie die rede hoekom die ouer nie opgedaag het nie,” sê Elzette.
Moet ook nooit die naweekreëlings deur die kinders tref nie. Bel jou eks, of stuur ’n sms of e-pos. Anders beland die kinders in die spervuur, sê Gretha Wiid, ’n ouerskapkenner van Pretoria.
Nuwe aanhangsels
Jy wens dalk al die Bybelse plae toe aan die nuwe meisie in jou eks se lewe wat jy vir jou hartseer verantwoordelik hou, maar moet dit nie op jou kind projekteer nie, waarsku Elzette. “Dis dalk ’n heel cool tannie met wie hy baie pret het, maar nou mag hy by die huis niks daaroor sê nie.” Ja, jou deug moet ver bo dié van korale wees, maar uiteindelik sal jy daarby baat vind.
Reëls en dissipline
’n Desperate ma kla: “In die ander huis is bitter min dissipline en ek voel altyd soos ’n draak as ek grense stel.”
Gretha stel voor dat jy met die kinders ’n huisvergadering hou en verduidelik wat die reëls in “ons” huis is. “Dis makliker as dit ‘ons’ reëls is en nie ‘my’ reëls nie. Dan weet kinders dat ongeag die reëls van die ander huis, dít is wat hier geld.”
Onthou, as julle ooreengekom het dat etes nie met SMS’e en mxit-boodskappe onderbreek mag word nie, mag jy ook nie met iemand oor die foon klets nie. Sê jy bel later terug.
My kind is nie veilig nie
“My eks se drankprobleem was een van die deurslaggewende faktore in ons egskeiding,” vertel ’n ma. “Ek was baie ontsteld toe ek hoor my kinders van vyf en agt jaar oud ry alleen met hul fietsies in die straat, en drentel saans tot nege-uur in die donker parkie saam met hul pa rond. Een van die bepalings vir die egskeidings was dat ek volle toesig oor die kinders kry. Die oplossing is dat hy nou smiddae ná werk by die kinders kom kuier, eerder as wat hulle na hom toe gaan.”
“Maak seker jy berei jou kinders vir allerhande situasies voor as hulle op ander plekke kuier,” sê Gretha. Maak seker hulle kan vroeg swem en praat met hulle oor goed soos seksuele molestering. Praat met die kleuterskoolonderwyseres oor maniere om die saak aan te roer as hulle nog klein is.
Die kinders wil nie by die eks kuier nie
Onderskei tussen gewone skeidingsangs, wat meestal tot op vier voorkom, en ware ongelukkigheid, sê Elzette. “Hulle huil vreeslik as die ma moet ry, maar sodra jy om die draai is, speel hulle ewe vrolik. Ouers moet ook versigtig wees om nie die kind as ’n metgesel te sien wat hul eensaamheid moet verdryf nie.”
Alle studies dui op die voordeel wat dit vir kinders inhou om twee ouers te hê. Moenie jou eks van die kinders vervreem nie. As die kinders kla oor iets by die eks se huis, moet jy objektief wees en nie dinge uit verband ruk nie. Die kinderwet maak deesdae voorsiening vir tieners se voorkeure en jy kan met ’n maatskaplike werker praat as die kind onwillig is om te gaan kuier.
Kinders moet altyd die reg hê om die ander ouer te bel. Maar moenie dat kinders jou op hol jaag met klein goedjies nie. Moenie op detail fokus nie, maar beoordeel ’n situasie as ’n geheel, anders gaan die kind jou elke keer bel as hy gedissiplineer word.
Probleme met tieners
Sielkundiges is dit eens dat ’n egskeiding met jonger kinders aansienlik minder slaggate as een met tieners het. “Tog is aggressie ’n baie beter emosie as depressie. Solank hulle hul emosies wys, is dit gesond,” sê Elzette. En moenie die maats belet wat jou nie aanstaan nie. Hierdie verbode vrugte raak net soeter. Kyk liewer of daar ’n vertroueling onder die maats is met wie hy kan gesels. Hulle moet ’n uitlaatklep vir hul emosies hê en tekeninge en gedigte is ook goeie ontlading.
“Doen enigiets om in voeling met hul lewe te bly. Maar onthou, ’n dagboek is privaat en nie vir ouers se oë nie.”
Gaan kyk na hul sportwedstryde al sê hulle jy moenie gaan nie. Staan maar op die agtergrond en moenie verwag om erkenning te kry nie. Teken belangrike gebeurtenisse in hul lewe aan. Stuur ’n WhatsApp as jy weet dat hulle ’n toets skryf, of aan iets belangriks deelneem.
En wat maak jy as niks werk nie? Kry hulp van buite. “Moenie blind en doof vir gevaartekens wees nie,” waarsku Elzette. As die kind weier om vir terapie te gaan, is dit belangrik dat jy met iemand gaan praat sodat jy meer in beheer van die situasie voel. “Reël vir hulle studie- of loopbaanvoorligting by ’n toepaslike sielkundige. Dalk doen die geleentheid vir gesprek hom só voor.” Praat voor die tyd met die sielkundige en verduidelik die situasie. (Bel jou naaste universiteit se departement van opvoedkundige sielkunde en stel vas of hulle ’n kliniek het. Dis gewoonlik bekostigbaarder.)
Hoe bly ons na aan mekaar?
Met kleintjies is dit belangrik om saam met hulle te speel en lyfkontak te maak. “Laat hulle op jou skoot sit. Of speel in die swembad of op die gras waar julle aan mekaar vat,” sê Gretha. “Vra met wie hulle by die skool speel; laat hulle praat. Maak een tot een kontak soos om vir hulle ’n storie te lees.”
Elzette ervaar dat kinders makliker praat as hulle dit speel-speel doen. “Dit werk uitstekend as jy aktiwiteite met kleintjies doen wat hul sintuie inspan.” Speel in die sand, bak modderkoekies, swem, bak koek met regte of speeldeeg of mors saam met vingerverf. Fliek is minder suksesvol met kleintjies, maar jy kan steeds geselstyd inkry as julle saam na strokiesprente op televisie kyk en saam lag en grappe maak.
Om ’n bot tiener te pols vir geselskap, is soos om ’n groen avokado ryp te druk. Jy’s altyd agterna spyt. Die eerste sonde is om te vra “Wat is fout?” Of erger, “Hoekom is jy so dikmond?” Soms is hulle bloot moeg, of het nie veel om te sê nie.
Jy het dalk baie uitgesien om hom te sien en nou kry jy die lang lip. “Ontspan en gee hulle ruimte,” sê Gretha. “Laat hulle ’n bietjie tot verhaal kom en vat ’n koeldrank kamer toe. Loop maar weer. Dalk voel hulle later lus vir gesels. Tieners soek opregte belangstelling, maar het meer lyf- en emosionele ruimte nodig.”
Moenie heeltyd om hulle kloek nie. Bespreek aan die begin van die naweek watter tye julle saam gaan wees, en wanneer hy en sy maats gaan kuier. So vermy jy rusies en misverstande. Bring liewer twee sinvolle uur saam deur as wat jy hom verbied om sy vriende te sien. Dis tog onrealisties om te dink dat julle elke oomblik saam moet wees.
As jy die ruimte het, help dit baie om vir hulle ’n eie kamer met basiese goed in te rig, dan voel hulle nie soos kuiergaste nie.
Gretha sê as julle ongemaklik in mekaar se geselskap is, kan dit help om iets te doen waar jy en die tiener elkeen ’n maat saamneem. Dalk verkeer julle as ’n groepie meer sosiaal. Sorg net dat julle nie twee aparte groepies vorm nie.
Elzette meen ’n fliek kan ’n goeie aanknopingspunt vir gesprek wees. Gaan drink koffie agterna en bespreek die fliek.
’n Leser vra
Vraag: My eks het ná ’n afwesigheid van 13 jaar skielik besluit hy wil nou deel van ons 14-jarige seun se lewe wees. Nou is pa en seun groot pelle en voel ek soos ’n buitestander. As my kind terugkom ná ’n naweek by hom is hy buierig en kry ek nie ’n vriendelike woord uit hom nie. Maar as hy dáár is, is alles wonderlik en is die lewe ’n fees – veral omdat daar bitter min reëls en dissipline is.
Ek en my seun was voorheen op mekaar aangewese en het ’n besonderse verhouding gehad. Nou is ek skielik die vark in die verhaal wat altyd kla oor huiswerk en laat uitbly. Ek voel bitter dat hy al die jare afwesig was toe ek gesukkel het, maar nou die ridder op die wit perd is.
Antwoord van ’n opvoedkundige sielkundige: Onthou, ouers het ook maar verskillende uitkyke oor dissipline in gewone huisgesinne en die meeste tieners rebelleer een of ander tyd. Kry self terapie om jou weerbaar te maak.
Antwoord van ’n ouerskapkenner: ’n Kind ervaar altyd ’n leemte ná ’n egskeiding en hunker na daardie ouer wat hy nie het nie. Gee erkenning aan sy behoefte aan sy pa.
Maar die verhouding met die pa moenie ten koste van die kind geskied nie. Maak nie saak wat by die pa se huis geld nie, verduidelik dat “ons” reëls steeds geld. Onthou, die ouer wat kies om eerder ’n pel as ouer te wees, gaan nie eendag as ’n ouer waardeer word nie.
Raad van ’n ma wat daardeur is
• Vergewe die ongeregtighede voor die egskeiding.
• Begin ’n nuwe lewe en laat die fokus daarop val eerder as om terug te kyk.
• Kry jou eie ondersteuningsgroep sodat jy nie op die eks moet staatmaak as jy ’n naweek of aand wil weggaan nie.