Niemand trou om te skei nie, maar die lewe gebeur. En of dit nou vir jou ’n verligting of ’n verplettering is om daardie egskeidingsertifikaat in jou hand te hou, die verskil tussen floreer en krepeer na ’n egskeiding lê by jou.
Ek is tien jaar gelede geskei, en weet presies hoe moeilik dit is om ’n enkelma te wees. Ek weet hoe dit voel om jou kinders se spaarvarkies te moet plunder vir brood-en-melkgeld, of om finansiële hulp van familie te moet aanvaar. Ek weet alles van nagte se wakkerlê in ’n bed wat nou te groot voel, en van kinders wat jare later steeds droom dat hulle ma en pa weer eendag onder een dak sal woon. Ek weet ook hoe dit voel om van drome te vergeet – of dit nog ’n baba is, of ’n aftreehuisie by die see. Maar ek weet ook hoe dit voel om op ’n dag skielik te besef: ek het dit gemaak! Ek is nie net finansieel op my voete nie, maar werklik geseënd, en my kinders is nie emosionele wrakke nie maar goed aangepaste mense wat hul plekke in die lewe kan volstaan. Ek droom nie meer oor ’n prins wat dalk nooit gaan opdaag nie, maar sien uit na elke dag van die res van my lewe, of ek dit nou sonder ’n man in my lewe gaan deurbring of nie.
Ek besef terdeë dat elke geval uniek is, maar laat my asseblief toe om met jou te deel wat ek die afgelope tien jaar geleer het.
1 Aanvaar dit
Dit is die moeilikste deel, want geen mens hou daarvan om foute te maak nie. Tob gaan nie help nie. Nie oor jou foute, jou maat se foute of wat ook al gebeur het om julle hier te laat beland nie. Dit het nou gebeur, en die genadigste ding wat jy vir jouself en almal betrokke kan doen, is om dit te aanvaar.
Dit beteken nie dat jy nie kwaad of hartseer gaan wees nie, maar die eerste les wat ek as geskeide vrou geleer het, was dat jy jou energie reg moet gebruik. Om dit te mors op die verlede is sinneloos. Gebruik dit eerder om te sorg dat die toekoms beter is vir jou en jou kinders.
Gaan sien ’n kenner soos ’n sielkundige of berader om jou te help om daardeur te werk en jou nuwe situasie te aanvaar. Hoe langer jy uitstel, hoe moeiliker maak jy dit vir jouself. Ek was gelukkig – ek het besef ek moes uit my liefdelose, baie destruktiewe huwelik kom, ter wille van myself maar ook veral ter wille van my twee kinders (destyds 5 en 8 jaar oud). Maar dit was steeds moeilik. Na byna vyftien jaar was dit moeilik om te aanvaar dat my liefde nie genoeg was nie, en dat ek – met ’n inkomste wat skaars genoeg was vir die maandelikse huispaaiement – skielik finansieel op my eie bene sou moes staan. Ek het twee keuses gehad: rondsit en myself jammer kry, of my kop oplig en begin om ’n baie slegte situasie een dag op ’n slag te probeer verander.
2 Vergewe wie ook al vergewe moet word (ook jouself)
“Is jy nou mal?” vra jy. “Hoe kan ek dit wat hy/sy aan my gedoen het vergewe?” Die lewe het my egter geleer as jy dit nie doen nie, gaan die beter dae jou bly ontwyk. Jy gaan aan niks anders kan dink nie – en ek bedoel NIKS anders nie. Jou gedagtes word besoedel deur hierdie mens wat jy toelaat om gratis in jou kop te bly, en die ergste is dat hy of sy salig onbewus is daarvan. Terwyl jy bose gedagtes dink, gaan jou maat se lewe aan. Maar dit beïnvloed elke oomblik van JOU dag (en soms nag). Dit vreet al jou emosionele energie – en jy het dit nodig vir oorlewing.
Moenie te veel tob oor hoe vergifnis nou eintlik werk nie – die eerste stap is om vir jouself te sê “ek vergewe hom/haar” (of soms jouself). Daardeur maak jy die kanaal oop vir vergifnis om te kan volg. Wanneer jy dit hardop sê (jy hoef dit nie vir die ander persoon te sê nie), breek jy die eerste skakel in die ketting om jou siel. Die res volg vanself, oor tyd, en op ’n dag word jy wakker en besef die son skyn steeds en daar is steeds duisende dinge om voor dankbaar te wees.Vergewe jy nie, gaan jou bitterheid later oorspoel na jou kinders. Hulle verdien dit nie – dis swaar genoeg vir hulle om tussen twee ouers te staan wat mekaar nie kan verdra nie, om naweke ’n tassie te pak om by die ander een te gaan kuier, of om dalk nie meer die ander ouer gereeld te sien nie. Jy skuld dit aan hulle – maar ook aan jouself – om beter te word, nie bitterder nie. Vergiffenis en aanvaarding loop hand aan hand, en doen jy die een, volg die ander een makliker.
3 Probeer op goeie voet bly met jou kinders se ander ouer
Let op dat ek sê “probeer”. Soms is dit eenvoudig nie moontlik nie, al probeer jy ook hoe hard, veral as dinge soos verslawings of afwykende gedrag betrokke is. Indien dit die geval is, moet jy soms moeilike besluite neem rondom wat die beste vir jou kinders gaan wees op die lange duur. As jy in so ’n situasie is (ek was) help dit om met kenners oor die beste pad vorentoe te praat. Maar dis steeds jy en jy alleen wat uiteindelik moet besluit tot hiertoe en nie verder nie (indien nodig). Jy gaan kritiek kry, maar jy weet in jou hart wie se kritiek jy ernstig behoort op te neem, en wie sʼn jy behoort te ignoreer.
Lees ook: Die ander nadraai van egskeiding
4 Aanvaar dat dinge gaan verander
Dis nou alles van jou huishoudelike begroting, tot jou vriendekring. Hoe gouer jy dit doen, hoe gouer kan jy aanbeweeg. Dit maak seer om vriende te verloor of na ’n kleiner plek te moet trek, maar wees nou eerlik: wat gaan woedende tirades jou help? Ek sê nie jy moet soos ’n doodgaangoggatjie net gaan lê nie. Allermins! Verander en voorkom wat jy kan, huil en skel en treur oor die res, maar was dan jou gesig, tel jou kop op en doen wat gedoen moet word.
As jy net een enkele wenk van my wil neem, laat dit hierdie een wees: spaar jou emosionele energie vir die regtige groot goeters. Soos dat julle heel anderkant hierdie krisis uitkom. Waar jy dit doen en saam met wie en op watter begroting, is eintlik onbelangrik.
5 Kry ’n nuwe plan
Al jou planne was tot dusver waarskynlik aan jou maat s’n gekoppel. Nou moet jy nuwe planne maak vir jou toekoms, vir alles van finansies tot ouerskap. Hoe gouer, hoe beter. MOENIE (en ek skryf dit met opset in hoofletters) jou lewe beplan om ’n potensiële nuwe maat nie. Jy MOET (ook met opset) eers vir minstens twee jaar alleen wees voordat jy dit weer in ’n nuwe verhouding kan waag. En dis nie ek wat so sê nie – dis die kenners.
In my geval was die dringendste plan wat ek moes maak om my finansies te verbeter. Ek moes ekstra werk vind, want anders sou ek en my kinders uit ons huis moes trek. Vir daardie ontwrigting en al die nuwe hartseer wat dit sou meebring, het ek nie kans gesien nie. My eerste plan was dus om meer geld te maak, en dit het my die nodige fokus gegee om my ook op emosionele vlak te help aanbeweeg. Ek was eenvoudig te besig om te oorleef om te sit en tob oor my egskeiding.
6 Doen wat vir jou en jou kinders werk
Wanneer jy skei, kry jy hope onwelkome, ongevraagde raad. Oor alles, van finansies tot ouerskap. Gebruik die nuttige raad en ignoreer die res. Jy en jou kinders moet nou jou enigste prioriteit wees. As hulle soms pap vir aandete wil hê en jy het nie tyd gehad om ’n gesonde ete te kook nie, gee vir hulle pap en moenie skuldig voel nie. Jy is net ’n mens, nie Superma nie. Dis belangriker dat daar ’n liefdevolle, ontspanne atmosfeer in die huis is as dat hulle elke aand twee groentes en vleis op hulle borde moet hê, veral aan die begin. Ek het nogal soms hiermee gesukkel, en moes ’n sielkundige gaan sien om my te help besef ek kan nie alles vir almal wees nie. Om altyd my beste ek te probeer wees was goed genoeg, en om foute te maak is menslik.
7 Roetine is belangrik, veral vir kleiner kinders
Hoe nou? Ek het dan nou net gesê hulle kan maar pap eet vir aandete. Inderdaad. Want pap af en toe vir aandete is nie waaroor roetine gaan nie. Roetine is dinge soos eettyd, badtyd, slaaptyd, tyd vir huiswerk. Wanneer jou kinders deur ’n traumatiese situasie gaan, is jou eerste instink om hulle maar ’n bietjie meer vryheid te gee, want hulle kry dan nou klaar so swaar. Maar dis ’n groot fout. Eintlik gee roetine noodsaaklike geborgenheid wat help met emosionele stabiliteit en wat ouerskap makliker maak. Kinders van alle ouderdomme het die sekuriteit van bekende dinge nodig, so verander so min moontlik aan dinge wat vir julle werk.
8 Moenie dissipline verslap nie
Hieroor het ek baie kritiek gekry. Vriendinne het gedink ek is gans te streng met my kinders na die egskeiding, maar dit het vinnig in lof verander toe hulle sien my kinders is rustig, sukkel nie op skool nie en kan hulself in enige geselskap handhaaf. Egskeiding is nie ’n verskoning vir swak gedrag nie (ook nie by grootmense nie). Daar is groter krisisse in die lewe as egskeiding.
9 Leer om dankbaar te leef
Al gaan dit hoe sleg finansieel (en by 90% van enkelma’s is finansies die grootste kopseer) is daar steeds baie goed om voor dankbaar te wees as jy net oplet. ’n Warm bed, kos elke dag, ’n motor (al is hy tien jaar oud), ’n goeie skool (al is dit nie ’n privaatskool nie), mooi klere (al is dit nie nuut of bekende handelsmerke nie) is alles redes om voor dankbaar te wees. Leer dit vir jou kinders. Sê saans dankie daarvoor as julle bid, en wys hulle op al die ellende en armoede rondom julle. Hoe meer jy dankie sê vir dit wat jy het, hoe meer besef jy hoe baie jy het en hoe onbelangrik dit is om nog meer bymekaar te maak.
As hulle groot is, gaan hulle nie onthou waar jy julle kos gekoop het nie, net dat hulle nooit honger gaan slaap het nie. Hulle gaan eerder die speletjiesaande, pieknieks en grappies onthou as hoe die huis gelyk het. So, maak dit lekker net daar waar julle nou is.
Herontdek klein vreugdes soos kaartspeel, bordspeletjies, kuier om ’n vuur (al is daar net wors om te braai en nie steaks nie) en lees (omdat DStv net te duur is). As jy positief is daaroor, gaan jou kinders ook wees.
10 Kies jou gevegte oordeelkundig
Om gedurig in konflik met jou eks te wees, is baie, baie uitputtend. Om hof toe te gaan vir iets soos meer onderhoud of waar die kinders Kersfees gaan wees, nog meer. (Boonop word prokureurs ryker en julle armer.) Konflik verteer jou, en word al waaraan jy dink. Neem nou maar iets soos onderhoud: dis byna altyd ’n twispunt tydens en soms nog jare na egskeidings. Mense aan albei kante stel dikwels onredelike eise, en ander kere probeer mense mekaar deur geld bykom sonder om te besef die kinders ly uiteindelik die meeste daaronder.
Ek het myself van die begin af voorgeneem dat ek eerder harder sal werk as om die hele tyd te baklei oor geld. Toe my kinders se pa ’n paar jaar gelede heeltemal uit hul lewe onttrek het – ook finansieel – het ek net twee keuses gehad: gevegte oor dit wat hy nie wil of kan wees of gee nie, of om daardie energie te gebruik vir my loopbaan sodat ek en my kinders uiteindelik wel sal hê wat ons weens sy besluite moet ontbeer. Ek sal jok as ek sê dat dit maklik of lekker was, maar vandag het ek meer werk as wat ek kan doen. Boonop het ek (onbedoeld) vir my kinders belangrike lewenslesse geleer: soos dat harde werk tot sukses lei, dat daar belangriker dinge in die lewe is as geld en goed, en dat jy sekere dinge maar net moet aanvaar en aanbeweeg.
Niks wat ek hier aanbeveel is noodwendig maklik nie, maar dis alles moontlik. Party daarvan het ek dadelik reg gedoen, ander het ek op die harde manier geleer. Maar dit werk beslis, en ek hoop dit maak jou stryd ’n klein bietjie makliker.
En as vandag vir jou besonder grys voel, onthou: this too shall pass.