Eetbare blomme en hoe om dit te gebruik Deur Vickie de Beer. Foto’s deur Lee Schwagele van CRPhotographic.co.za
Watter blomme is veilig om in kos te gebruik?
Gebruik hierdie oulike gids vir veilige blomme wat jy in jou kos kan gebruik.
- Tecoma capensis ‘lutea’ (geel Kaapse kanferfoelie)
- Nasturtium (kappertjie)
- Lavandula (laventel)
- Viola x wittrockiana (gesiggie)
- Thunbergia alata (swartoognooi)
- Salvia (pynappelsalie)
- Calendula (wintergousblom)
- Centauria cyanus (koringblom)
- Dianthus barbatus (grasangelier)
- Oxalis sp. (geelsuring)
- Salvia.
- Lathyrus odoratus (pronkertjie)
Pasop, blomme kan dodelik wees!
Indien jy nie doodseker is dat ’n blom geëet kan word nie, hou dit liefs ver weg van jou bord.
Tuinblomme soos asaleas, papawers en Krismisrose is giftig, loop maar lig om hulle!
Maak ook seker dis nie met gifstof behandel nie.
Lees ook: Hoe om blomme as versiering te gebruik
Mooi idees met eetbare blomme
Alte fraai
Maak jou teepartytjie spesiaal en versier die happies met blomme:
Mooi teekoekies
Koop winkelsponskoeke (of bak dit self – probeer hierdie resep) en sny kleiner met ronde koekiedrukkers.
Stapel opmekaar met geklopte room of botterversiersel tussenin en versier ook die buitekante met geklopte room of botterversiersel.
Pak eetbare kruie- en wilde blommetjies om die koekies.
Hibiskus-ystee
Genoeg vir 500 ml
- 3 hibiskus-teesakkies
- handjie vol goji-bessies
- handjie vol droë roosblare- of -knoppies
- 30 ml heuning
Sit die tee, bessies, blare en heuning in ’n teepot en gooi 500 ml kokende water oor. Laat staan om te trek en af te koel. Gooi in ’n digsluitende beker en sit vir twee uur in die yskas. Skink in ’n glas vol fyn gekapte ys.
Brosbroodkoekies met gesiggies getooi
Sit die gesiggies tussen twee velle bakpapier en plaas iets swaars daarop om die blommetjies mooi plat te kry.
Jy kan sommer winkelkoekies ook koop en die gesiggies met eierwit op die koekies vasplak.
Klik hier vir ’n heerlike brosbrood-resep