Eet jou maag gesond deur Salomé Delport. Foto: SolStock/istock images
Hoe gelukkig is jou maag?
Jou maag is so gelukkig soos die sowat tien triljoen dermflora wat in jou dermkanaal woon.
As jy dadelik dink meer jogurt is die regte ding vir hulle, is jy net halfpad reg.
Laktobasille, die “goeie” organismes in jogurt, hou egter baie meer daarvan om in melk te leef as om jou derm hul tuiste te maak. Daarby is hulle nie naastenby jou belangrikste dermflora nie. En daarom is selfs liters en liters jogurt as voedsel vir jou dermflora soos om water vir ’n vis te voer – nodig, maar ’n algehele misverstaan van wat ’n vis eet.
Aangesien jou dermflora se welvaart ook jóú welvaart is, is alles wat hulle gelukkig maak ’n goeie belegging.
Dus: wat laat hulle floreer?
Wie leef in jou dermkanaal?
Die driehonderd tot duisend spesies wat in jou knus, warm maar uiters suur en pikdonker dermkanaal floreer, het name so eksoties soos dié van rolprentsterre: Prevotella, Dorea, Roseburia en Blautia, om ’n paar te noem.
Ons kan ons dermflora in twee tipes verdeel: byspelers en hoofrolakteurs. Laktobasille tel onder die eerste groep, maar ons langtermyn-dermflora is die werklike sterre van ons gesondheid.
Wat doen hierdie sterre heeldag?
Net soos sepiesterre is hulle fassinerend. Die navorsingswêreld bly verras met elke nuwe bevinding oor hul doen en late. Allerlei verstommende waarnemings van die afgelope dekade wys dat ons dermflora die stert is wat die hond swaai. So bepaal hulle deels jou gewig – glo dit of nie.
In een ondersoek onder identiese tweelinge waarvan een oorgewig is en een ’n normale gewig het, is vasgestel dat die skraler een ’n effens ander kombinasie van dermflora, en veral meer soorte plantverterende dermflora as die oorgewig een het. Die navorsingspan glo jou rietskraal lyfie word nie net bepaal deur hoeveel jy eet nie maar ook deur jou dermflora. Dit, sê hulle, verklaar waarom jou vriendin ’n hele sjokoladekoek kan opeet sonder om ’n gram aan te sit terwyl jy ’n kilo aansit van net kyk daarna.
Die “onreg” strek selfs verder.
Ander – en dalk álle ander – kos-verwante aspekte van jou gesondheid, soos jou cholesterolvlak, word ewe waarskynlik deur jou dermflora beheer.
Die nuwe siening is dat veral metaboliese siektes soos diabetes, hoë cholesterolvlakke, deurlaatbaarheid van die dermkanaal, intoleransies vir kos, hoë lipiede en plaak in die aarwande (wat hoë bloeddruk en aarwandskade veroorsaak) verband hou met die soorte en hoeveelheid dermflora in jou dermkanaal.
Daar is selfs bewyse dat toestande soos depressie en angs, wat met die eerste oogopslag niks met dieet te doen het nie, ook deur dermflora beïnvloed word.
Jou derm is ’n geslote stelsel
As ons welvaart van dermflora afhang, moet dit mos moontlik wees om ’n kapsule te sluk, volgeprop met ’n stewige dosis van die magiese flora agter gesondheid en geluk? Basies ’n superprobiotiese kapsule, soos die een wat ons saam met antibiotika gebruik?
Ongelukkig is hierdie verband nie so eenvoudig soos om te sê dat as jy meer van x het, sal jy outomaties rietskraal en vrolik voel, en ’n normale cholesterolprofiel en bloeddruk ontwikkel nie. Dit lyk asof dit ook gaan oor die balans tussen spesies. Jy kan x bysit maar as y daarmee saam floreer, gaan z oorheers, wat keer dat x vermeerder en sy goeie werke doen. Gelukkig is daar ander maklike en goedkoop oplossings – later meer daaroor.
Nog ’n rede waarom dit byna onmoontlik is om goeie organismes in ons dermkanaal te plaas is dat ons dermkanaal vir alle praktiese doeleindes ’n geslote gemeenskap is. Aan die bopunt van jou dermkanaal dien jou maag met sy ekstreme suurheid as hekwag. Bitter min organismes oorleef die reis deur die maag. Dit is juis hoe jy beskerm word teen gevaarlike organismes. Selfs probiotiese kapsules is net deels suksesvol. Van die dermiljoene in elke kapsule bereik net ’n klein persentasie die dunderm.
Van die onderkant af is dit soos ’n eenrigtingstraat: organismes maak dit ook nie van die anus deur die kolon na die dik- en dunderm nie. Al is daar hoop met fekale implantering (die plaas van ontlasting van ’n gesonde persoon in die kolon van ’n ontvanger) is dit onseker of dit ’n invloed op die dermflora hoër op in die dermkanaal sal hê. Jou dokter kan ook nie net ’n snytjie deur jou buik maak om so die voordeligste flora direk in jou dunderm te inokuleer nie, aangesien die kans net te groot is dat dié soort prosedure na sepsis kan lei.
Verder is jou dermkanaal baie lank – sewe meter, of so lank as vier mense wat elk 1,75 m lank is. Die leeftoestande, en daarmee saam die soorte organismes wat jy daar aantref, verander saam met die lengte van jou derm. Die lewe vir die organismes in jou dermkanaal is soos ‘n hondegeveg: almal veg om voortebestaan en vreet mekaar op. Hulle laat nie noodwendig toe dat ’n organisme wat aan die maag- of anale kant van die derm binnekom, tot by sy natuurlike tuiste sal kan reis nie.
Daar is wel ’n hele paar uitstekende kunsies: Al kan jy nie organismes in jou dermkanaal insit nie, kan jy die toutjies trek wat bepaal wie in jou dermkanaal floreer en wie nie.
Trek die toutjies
Jou dermflora “vertaal” van jou toebroodjie met avokado en spinasie tot jou tjoppie en sjokoladeroomys in gesondheid én ongesondheid.
Gelukkig het hulle ’n bitter kort leeftyd – minder as ’n halfuur vir die laktobasille wat melk in jogurt verander, en selfs korter vir ander spesies.
Dit hou ’n enorme voordeel vir jou in. Waar jy oor weke en maande aan spiere en fiksheid bou en jare moet studeer om selfs net matriek te maak, kan jy binne net een dag jou dermflora verander.
Regtig.
Dit verg net een dag om vyftig generasies verder te wees, en jou flora op ’n nuwe pad te sit deur die kos te verander wat jy hulle laat kry. So trek jy die toutjies wat bepaal watter spesies floreer, wat op hulle beurt sorg dat jy (dalk) skraler bly, ’n gesonde laer cholesterolprofiel handhaaf en meer serotonien maak wat jou help om gelukkig te voel.
Lees ook: Raad vir hardlywigheid
Waarvan hou hulle?
Vesel.
Ons weet lankal dat vesel goed is om jou gereeld te hou en dat vesel ons versadig hou sodat ons minder eet. Maar ons besef nou ook dat vesel koningskos vir ons dermflora is.
Vesel is niks anders as baie lang koolhidraatmolekules nie. Ons kan dit nie verteer nie. Maar ons dermflora kan. Sommige spesies breek vesel in kleiner brokstukke af, wat as kos dien vir ’n volgende spesie in die verteringsketting, en so aan. So gedy hulle – en ons. As ons te min vesel eet, ly die hele ketting van organismes honger. Ongelukkig is ons moderne eetpatroon juis vesel-arm. Minder veselkos beteken minder dermflora – en minder gesondheid.
Ons het maar net 30 g vesel per dag nodig. Sommige berekenings wys dat net 10 g ekstra vesel jou tot drie triljoen meer dermflora gee.
Ons voorsate en selfs ons oumas het waarskynlik drie, vier keer soveel vesel geëet, terwyl ons gemiddeld maar net 15 g daarvan kry.
Wat van “wit” koolhidrate?
As vesel eintlik na koolhidrate afbreek, kan ons mos die organismes laer af in die ketting “help” as ons weglê aan beskuit of sjokolade propvol suiker? Jy kan, maar dit versteur die delikate balans tussen die verskillende soorte organismes – en daarmee saam jou gesondheid.
Wat van vette en proteïene?
Te veel van elkeen lei ook tot minder van ons voordeligste spesies dermflora.
Wat van kombucha?
Jogurt, kale kimchi, maas, kefir en sauerkraut is nie nutteloos nie. Hierdie kossoorte word gemaak met die hulp van “deurreisende” mikroflora. Hulle verander die vette en koolhidrate daarin in kortkettingvetsure, wat die soort voeding verskaf waarop sekere van ons permanente dermmikrobes floreer. Maar dit voed ’n klein persentasie van ons dermflora. Die meerderheid vra vesel.
Dus, selfs op ’n liter jogurt per dag kan ons permanente flora krepeer. Hulle het vesel ook nodig.
Hoe meer vesels jy eet, hoe gelukkiger is jou dermflora én jy.
Lees ook: 3 eiermites waaronder jy nie moet ly nie
Meer vesel – maklik met elke ete
Ontbyt
- Hawermout met piesang en/of lynsaad
- Jogurt met enige vrug en twaalf neute
- Eier in enige vorm met ’n groot porsie tamaties, uie en/of sampioene
Werkskos
- Enige soort growwe heelgraanbroodjie met kaas en groente daarop, soos komkommer, avokado, soetrissies en babaspinasie
- Styselslaai met ’n basis van lensies, keker-ertjies of quinoa met kaas en groente
- Patat of aartappel pleks van brood – heerlik met kaas!
- Slaai en groentestokkies soos wortelrepies
- Groentesop en growwe brood
- Groente-quiche met soetrissies
- Pasta met baie sigbare groente by die kaassous. Kap ekstra groente soos soetrissies en sampioene by die klaar bereide geregte wat meestal net ’n sous en ’n paar blokkies polonie bevat
- Pizza met groente daarin – hoe meer soorte, hoe beter
- Enige vrug as tussenhappie eerder as ’n sjokoladestafie
Aandete
- 3 porsies slaai en groente, veral mielies, wortels, patats, soetrissies, sampioene, beet en alle soorte bone, erte en kool
- Maak vleis altyd gaar met uie en spinasie
- Bredies
Nagereg en snoepgoed
Kies dié wat vesel bevat, soos
- vrugte: appels, aarbeie, pere, piesangs en al die soorte bessies
- growwe beskuit
- sorbet van vars vrugte
- vrugteslaai
- enigiets met klapper
- wortelkoek
droëvrugte - springmielies
- pampoensaad, chia-saad
- grondboontjiebotter
- alle neute
Lees ook: Die 10 beste kosse vir enige dieet