Die verband tussen emosies en kos is kompleks. In ’n samelewing waar voorkoms tel, waar “slank” gelyk gestel word aan “mooi” en kos maklik bekombaar is, is hierdie verhouding nog ingewikkelder.
Gelukkig is die vrou wat nooit troos in die koskas of yskas gaan soek nie. Die res van ons is … nou ja, ten minste nie alleen nie, soos jy agterkom wanneer jy ’n bietjie rondsoek op die Internet. “Emotional eating” raak baie mense, en ook nie net vroue nie.
Wat staan ons te doen?
Kate van die blog Cookie + Kate se raad
1 Ha nou
Kate sê wanneer sy in ’n situasie beland waar angsgevoelens haar aanspoor om voor ’n eetversoeking te swig, roep sy halt. “Ek herinner myself om my vurk neer te sit en diep asem te haal. Baie keer bring dit die nodige helderheid en beheer.”
2 Eien die werklike probleem
Kate het besef die behoefte om alles wat voorkom te verorber is maar net “’n simptoom van onopgeloste angstigheid. Dis my brein se manier om my aandag van die ware kwessie af te lei.” Haar oplossing is om te besef sy is angstig en te probeer om gesonder maniere te vind om die betrokke kwessie die hoof te bied.
3 Balans
Kos kan wel ’n mate van troos bring, maar dan kom die begrip “matigheid” in die prentjie. “Daar is ’n groot verskil tussen die kere wanneer ek angstig voel en iets kleins eet wat my daar en dan beter laat voel, en om my angs in ’n groot pak aartappelskyfies te verswelg. ’n Hele pak tjips laat my erger voel! As ek die oorweldigende behoefte het om aan te hou eet, lê ek weg aan ’n reusagtige bak slaai.”
Ander wenke om in gedagte te hou wanneer jou angsgevoelens uit beheer raak
1 Wat ek werklik nodig het
Vra jou af: Wat sou my waarlik kalmeer? Dit kan ’n rukkie se stilword neem om die antwoord te kry.
- Miskien is jy moeg en kort jy ’n middagslapie.
- Dalk weet jy nie hoe jy jou werklading gaan hanteer nie, en kan jy neerskryf wat jy alles moet doen en dit volgens dringendheid prioritiseer.
- Dit kan wees dat PMS jou van balans af gooi en dat jy ’n oplossing daarvoor kort.
2 As ek oorweldig voel
Indien ’n ingrypende probleem soos ’n finansiële krisis of ’n familielid se siekte jou oorweldig, kan dit ’n goeie plan wees om ’n bietjie te brainstorm.
Skryf die volgende neer: Hoe lyk die probleem? Hoe laat dit jou voel? Met wie kan jy daaroor praat? Aan watter moontlike oplossings kan jy dink? Wie of wat kan jou help om elk van die oplossings te implementeer? Watter stappe kan jy volg?
Wanneer jy weet presies waarmee jy te doen het, kan dit help om die pad aan te dui.
3 Doen iets
Fisieke aktiwiteit – of dit nou ’n stappie om die blok is, om buite blare op te tel, of ’n kwartierlange breisessie – kan help om angs te verminder.
4 Ek is verveeld
Verveling kan angstigheid en ontevredenheid met die lewe verskerp. Watter skeppende aktiwiteit is vir jou lekker of het jy as jong kind geniet? Om iets nuuts te maak, vra soms heelwat voorbereiding. Kan jy betyds ’n hekeldingetjie aan die gang kry of die nodige vir ’n spoeg- en plaksessie aanskaf? Wanneer die lus om jou met kos te troos jou oorval, kan jy jou aandag makliker aflei.
En as niks help nie …
Dit kan wees dat hierdie wenke glad nie help nie. Die verband tussen angs en kos is ingewikkeld en baie keer is wilskrag nie die antwoord nie. Dikwels kan sielkundige terapieë soos hipnoterapie verligting bring. Sien byvoorbeeld ons artikel Gewig: kry jou onbewuste aan jou kant
Dis egter net een uit ’n magdom moontlike oplossings. Vra jou huisdokter om jou te verwys as jy nie weet wie jou kan help nie, of skakel ’n hulplyn waar beraders gereed staan (sien byvoorbeeld sadag.org).