Die studente wat universiteitstoelating kry, is slim genoeg. Dié wat technikons en kolleges toe gaan ook. Almal kan op IK slaag. Tog wys syfers wêreldwyd 50% skop ná die eerste jaar op. Deurkom is belangrik. Vir jou, want dit kos ’n klein fortuin.
Vir jou kind ook, want dop is traumaties, veral in ons samelewing wat vir sukses gerat is. Kan ons iets doen om ons amper-grootmens studentekinders suksesvol te maak? Ons het by die Universiteit van Stellenbosch se studentedienste aangeklop.
Wat jy nié moet doen nie
Net daar, op daardie punt, verklap jy jy is ’n tipiese Baby Boomer-ma van ’n tipiese Generasie Y-student, lag prof. Charl Cilliers.
“Die dominante tema onder ons generasie ouers is mos ‘my kind se sielkundige opbou’. Ons glo ons moet ons kinders se selfbeeld blink gepoets hou.”
Ons prys en komplimenteer oneindig, en waar ons kind en ons woorde nie kan bykom nie, spring ons self in en doen wat ons kan. En nie net Afrikaanse mammies nie. ’n Amerikaanse opname wys 31% van studente se ouers het die lektore gebel om oor hul kind se punte te praat.
Ons staan in en staan reg – en het die verskynsel van “learned helplessness” by Generasie Y gekweek. Wat gebeur as ons skielik ophou help?
Lees ook: Ongelukkige generasie Y
Jy moet help, sê dr. Ludolph Botha. “Mislukking is geweldig negatief vir jou kind. Maar besin oor hóé. Moet net nie die fout maak om te dink jou 1970’s/1980’s studente-ervaring rus jou toe om raad te gee oor hoe hy hom vir sy werkslewe van nou tot omtrent 2060 moet voorberei nie. Waar ons op kennis kon fokus, het vandag se studente ander vaardighede ook nodig, soos hoe om kennis in splinternuwe kontekste toe te pas.”
Lees ook: Die Y-generasie en die einas
Ons het in ons eie leeftyd dinosourusse oor akademie geword. Maar ons kan darem nog ’n paar laaste takies vir ons kinders doen. Selfs nou, enkele weke voor lift off. Hier is hulle:
1 Pas sy kursus en sy passie?
Charl maak ’n baie geldige punt: “Die Y-generasie wil hulle uitleef. Dus is passie ’n sterk motiveerder. Daarom sien ons ‘true grit’ – daardie ding van jou hakke inslaan en vasbyt met moeilike take – by studente met ’n passie vir hul rigting. Studente sonder daardie passie haal dikwels nie die paal nie.”
Wat kan jy doen?
Bring jou kind vir beroepsvoorligting, glo beroepsvoorligter Anita Louw. “Baie matrieks is nog te onervare om te weet waar hul passie lê. Hul talente, belangstellings en persoonlikheidsprofiel is ’n goeie beginpunt.
“Kom sélf oopkop. Ons dink steeds universiteit is die beste of enigste opsie omdat dit jou kind werk en die beste salaris waarborg. Dit is lankal nie meer waar nie. Kinders in die verkeerde rigting word ongelukkige werkendes. Die laaste ding wat jy jou kind toewens, is ’n ongelukkige werkslewe van veertig, vyftig jaar.
“En dan glo ek aan job shadowing sodat jou kind verskillende soorte werke verken. Laat hy sy hoërskoolvakansies, en selfs hierdie laaste een, gebruik om werksgebiede te verken.
“As hy reeds ’n passie het, laat hom dit ook toets om seker te maak hy sien nie net die glanskant nie. As hy dink hy sal daarvan hou om ’n sjef te wees, gaan werk – gratis – in ’n kombuis. En in ’n paar verskillende soorte kombuise.”
2 Versterk sy interne kontrolelokus
Charl glo tieners het een groot, laaste persoonlikheidsontwikkelingstaak: om vir jouself te besluit omdat jy weet wat jy wil hê. “Dan kan hy prioritiseer en kies. Wil ek nou swot, of wil ek saamkuier? Nou gaan slaap, of eers later? Wat is vir my be-langrik? Waaraan wil ek my tyd bestee?”
Wat kan jy doen?
“Ongelukkig kan jy nie sê ‘Boetie, leer dit gou’ nie,” sê De Wet Schoeman, programdirekteur van die eenjarige gap-jaar entrepreneurskapkursus van die Universiteit van Stellenbosch.
“Dit is ’n proses. Ek noem dit persoonlike meesterskap – jou kind se selfkennis van sy tipiese denkpatroon, watter talente en sterk punte hy het en nie het nie, én dat hy hou van wie hy is, al is dit iemand heel anders as wat jy as ouer verwag. Hy weet wat hom opgewonde maak en wat hom nie veel traak nie.
“Mense met hierdie vlak van volwassenheid het nie maats se goedkeuring nodig nie. Hulle weet waarheen hulle op pad is en kan selfgemotiveerd die nodige doen om daar te kom.
“Dié volwassenheid kom met tyd, en veral as jou kind die kans kry om vir homself verantwoordelikheid te aanvaar, verkeerd te kies, die gevolge te dra en dan daaruit te leer.”
As Sus moderne dans wil doen maar jy dink RAD-ballet het meer status, leer sy haarself nie ken nie. As jy haar skooltas inpak, haar mondeling skryf en soggens drie keer roep om op te staan leer sy iemand anders moet haar lewe bestuur. As iets by die skool pla en jy gaan praat met die onderwyser, leer sy nie hoe om vir haarself te onderhandel nie. En as jy regmaak wanneer sy verbrou, leer sy nie uit haar foute nie. Laat jou kind maar op skool fouteer. As hulle die gevolge dra, leer en groei hulle juis. Iets om in gedagte te hou: keuses en verantwoordelikhede moet darem by jou kind se ouderdom pas.
En as jou kind nou nog nie daar is nie? Moedig hom aan om op ’n road trip te gaan, ’n vakansiewerk te doen, verantwoordelikheid te aanvaar vir die gesin se kos … enigiets waar hy sonder toesig en sonder hulp onafhanklik besluite neem en deurvoer.
3 Sy nuwe ondersteuningsnetwerk
Tot nou toe was jy sy vangnet. Nou moet hy losmaak. Maar Generasie Y het ’n baie intense behoefte aan “behoort”. ’n Bietjie minder van jou beteken hy soek meer steun by sy portuurgroep.
Wat kan jy doen?
Minder is beter, want hy moet self uitreik. Moedig jou kind aan om by ander kampusaktiwiteite betrokke te raak – maar nie net om hom te geniet nie. Die drinkersklub het die laagste “toegangsvereiste”. Dit is ’n groot “klub”: 33% Matiemans beskou hulle as drinkers en 50% sien hulle as matige drinkers. Die syfers lyk vir seker dieselfde by alle ander instellings.
“Op Stellenbosch praat ons graag van die GraadPlus-konsep – die idee dat ’n student moet uitstap met soveel meer as net kennis en vaardigheid,” sê Ludolph. “Vriendskappe bou, is ’n groot deel daarvan. Daarom moedig ons eerstejaars aan om in die koshuise te bly. As hy uit die huis studeer, moet hy juis inskakel.”
Pieter Kloppers vertel van hul nuwe geïntegreerde huise: “Ons noem dit die luister-leer-en-leef-huise, waar agt studente van verskillende kursusse, rasse, geslagte en agtergronde doelbewus gemeng word en gestruktureerd gesels oor onderwerpe soos volhoubaarheid, ekonomiese ontwikkeling, media en so aan. Hulle staan tou om hier in te kom, want hulle besef dit verbreed visies, bou die vermoë om in situasies van diversiteit te funksioneer, kweek kulturele insig, versterk bande en maak hulle meer bemarkbaar.”
Maar soms loop jou kind hom in probleme vas. Wat dan?
“Ons, soos die meeste tersiêre inrigtings, het hope gratis studentesteun, soos geleenthede om met lektore oor akademiese probleme te gesels en studentementors om met enigiets anders te help. Al voorwaarde is dat die studente sélf moet aanmeld.”
Maar, sê Ludolph, talle, en veral A-kandidate, dink hulle het nie hulp nodig nie en dink dit is vernederend om hulp te vra.
“’n Gesprek wat elke ouer met sy kind moet hê, is die een dat mislukking ’n tydelike probleem is – nie ’n skande nie. As jy vashaak, moet jy maar net die probleem oplos. Opskop en weghardloop is nie die antwoord nie.
“En weer eens: jou taak eindig by jul gesprek. Jou kind moet self oplossings en opsies gaan soek. Hy moet nou ontwikkel in sy eie probleemoplosser en die vertroue in homself opbou dat hy kán.”
4 ’n Geoliede verstand
’n Wits-ondersoek wys die suksesvolle student lees en luister met insig: hy snap feite, sien die rangorde van die feite raak, volg veral die onderliggende argument, kan dit in sy eie, outentieke stem ekstrapoleer na verskillende situasies en kan nuwe modelle daarop grond.
Dit is ’n hele mond vol.
Wat kan jy doen?
Baie … maar nie oornag nie. Dit begin met die manier waarop julle tuis gesels, sê De Wet.
“Dit gebeur wanneer jy jou kind vra ‘hoekom dink jy so?’ en ‘wat dink jy van …?’, en dan luister na sy antwoorde en meer vrae vra. Sommer op tien al. Dit ontwikkel as jy jou kind toelaat om ander menings as joune te hê. Dit ontwikkel as jou kind lees, luister, kyk, deelneem, doen en dit dan bespreek.”
Dit ontwikkel as jou kind met skoolprojekte leer hoe om die inligting sinvol te orden en hoe om met ’n vertrekpunt te begin wat eindig met ’n gevolgtrekking en dalk selfs met toepassings. Jou kind behoort op skool ’n kursus oor studie- en werkstukmetodes te doen.
5 Maak hom stresvaardig
Stres stapel baie gou op. Dink net wat jou kind alles moet hanteer: (a) vyf keer meer werk wat hy (b) blitsig (c) moet bemeester en (d) op nuwe maniere moet verwerk (e) sonder jou as netwerk (f) in ’n nuwe omgewing waar hy (g) net een van tienduisende is, dikwels moet (h) kies tussen akademie en sosialisering en verantwoordelik is vir (i) sy eie kos, (j) huishouding, (k) vervoer en (l) finansies, (m) ’n nuwe roetine vir homself moet uitwerk en (n) ’n sosiale groep moet kry waarvan hy deel voel terwyl hy (o) te doen kry met mense met ander standpunte, waardes en agtergronde.
Dit alles terwyl jy (p) sukses verwag en (q) verkondig hoe duur sy studie is.
Wat kan jy doen?
Gee erkenning vir elke aspek wat hy onder die knie het. Klein suksesse bou sy vertroue dat hy verdere suksesse sal behaal. Herinner hom dat genoeg slaap, gesonde eetgewoontes, oefening, vriende en positiewe ontspanning net so noodsaaklik soos studie is. Maar hy gaan soms verkeerd kies, foute maak en toetse dop, sê De Wet. “Ek verstaan nie hoekom ons verwag alles moet die eerste keer reg uitwerk nie. ’n Flater is ’n leerproses, nie ’n fatale, onomkeerbare ramp nie. As jou kind fouteer, moenie die stres verhoog met verwyte nie. Sê eerder dit is oukei, solank hy daaruit leer en self die probleem kreatief oplos. Foute maak studente sterker mense vorentoe.”