Die nuus dat die Amerikaanse komediant Joan Rivers gister in die ouderdom van 81 gesterf het, skok die wêreld stil. Wie gaan ons nou laat lag? Wie gaan brutaal-eerlik na ander bekendes se hooftooisels, haarstyle, uitrustings en platforms kyk en dit waag om te sê presies wat sy dink? Wie gaan voel oor oefening soos ek: “Ek doen nie oefening nie. As God wou gehad het ek moet vooroor buig, sou hy diamante op die grond gesit het”.
En een van my ander gunstelinge van die vrou wat op 81 met ’n vleklose, plooilose gesig gespog het: “Ek wens ek het ’n identiese tweeling gehad sodat ek kon weet hoe ek sonder chirurgie sou lyk”.
Ja Joan.
Eerlike Joan.
Skreeusnaakse Joan.
Jou naam saam met ander wie ek nog wou ontmoet, bo-aan my kluitklaplysie, en nou’s jy ook weg – vandag lag die wêreld ’n bietjie minder luid. Soos jy sê: “Mense sê geld is nie die sleutel tot geluk nie. Maar ek het altyd gereken as jy genoeg geld het, kan jy die sleutel laat maak”.
Vanoggend kan ek nie help om te wonder of jy en Robin Williams iewers op ’n stoep sit en die spulletjie beskinder, beswadder en begiggel nie.
Eerlik, altyd eerlik.
Soos Meryl Streep wat dié week oral op sosiale media haar buiging maak en dit waag om te sê dat sy nie langer geduld het nie: “. . . ek is op ’n stadium in my lewe waar ek nie meer tyd wil mors op dinge wat my ongelukkig of seermaak nie. . . ” En: “Ek het geen geduld vir sinisme, oormatige sinisme of aansprake van enige soort nie. Ek het die wil verloor om dié wat nie van my hou nie tevrede te probeer stel, om dié lief te hê wat nie vir my lief is nie en om te glimlag vir dié wie nie wil saamlag nie.”
Eerlik.
So hoekom, sê my Joan en Meryl, is eerlikheid só ’n rariteit? Jok ons? Vir ander, en erger nog: vir onsself? Of kom eerlikheid met ouderdom?
Wonder ek terwyl ek myself ná die dood van nog ’n Amerikaanse vryskutjoernalis aan die hand van militante in die geteisterde Sirië probeer wysmaak dat die wêreld nie so ’n slegte plek is nie. Dat ons, en ander, okay is, en sal wees. Dat ons kinders okay is, en sal wees.
Wees eerlik. Die wêreld slaan bolmakiesie, staan op sy kop. Ons jok, vir onsself en vir mekaar.
Terug by Joan. Op 81 het sy daardie ding verstaan: maak sin uit die sinloosheid van die wêreld, sê dit soos dit is. Wees eerlik, al maak dit seer, al huil ons soos ons lag as waarheid uit.
Meryl, jy’s genooi na Joan se begrafnis. Weet jy dit? Sy was duidelik: jy moet daar wees, jy moet huil – in vyf verskillende aksente.
Dan sal sy rus, en jou en my los om lag-lag met pynlike eerlikheid te stoei.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za